
La Rhone
Doelgerigte bestuur en sorgvuldige naoeshantering is die sleutel tot uitstekende opbrengste en vrugkwaliteit in Fortune- en Ruby Sun-pruime.
Deur Anna Mouton
“Ons is passievol oor die produksie en verpakking van uitvoervrugte,” sê AJ du Toit, besturende direkteur van La Rhone Agri naby Tulbagh. “Elke vrug wat op hierdie plaas geproduseer word gaan deur ons eie pakaanleg.”
La Rhone is reeds vir generasies in die Du Toit-familie maar AJ het oor die afgelope 15 jaar die fokus vanaf wyndruiwe en droogvrugte na uitvoervrugte verskuif. Tans het La Rhone 166 hektaar uitvoervrugte waarvan 82 hektaar pruime, 33 hektaar perskes, 27 hektaar nektariens, en 24 hektaar pere is. Hulle het ook ’n bekroonde Limousin-beesstoet.
Volgens die landbou-ekonomiese maatskappy FruData staan van die toppresterende Fortune- en Ruby Sun-blokke in die bedryf by La Rhone. Een boord van elke kultivar neem as demonstrasieboorde aan die Hortgro-konsepboordprogram deel.
Uitstekende uitpakke
Die Fortune-demonstrasieboord is in 2011 teen 4 x 1.5 meter gevestig. Dit was een van die eerste pruimblokke wat Du Toit geplant het. Oor die laaste vyf seisoene het die Fortunes gemiddeld rondom 9 000 uitvoerkartonne per hektaar gelewer.
Die Ruby Sun-blok is in 2019 teen 3.5 x 1.5 meter gevestig en het in die 2022/3 seisoen sy eerste vol oes van 38 ton per hektaar gelewer. Die gemiddelde uitvoerkartonne per hektaar vir sy eerste drie oeste is rondom 8 950.
“Uitstekende uitpakke is een van die redes waarom Ruby Sun vir ons baie aantreklik is,” sê Du Toit. “Uitvoerkartonne is belangrik en ons moet ook vruggrootte hê, want ons word daarvolgens betaal.” La Rhone beklemtoon die bestuur rondom oes vir al hul vrugte, maar veral vir Fortune. “Fortune het ’n sagte skilletjie so hy is gevoelig vir plukbeserings,” sê Du Toit. “Die plukproses vir Fortune is baie belangrik.”
Daarby is Fortune meer geneig tot interne verbruining as byvoorbeeld Ruby Sun. La Rhone sukkel nie met eise vir interne verbruining nie. Du Toit skryf dit gedeeltelik aan sorgvuldige kouekettingbestuur toe.
“Ons pluk gewoonlik pruime net tot 12h00. Ons vrugte kom direk van die boord af koelkamer toe, en ons bring hulle temperatuur af na 10–12 °C,” sê hy. “Ons beleid met pruime is om ’n krat binne 24 uur leeg te pak. Partykeer is daar bottelnekke, maar ons pak dag- en nagskof, en die pakhuis en die boord praat met mekaar.”
Oesladingbestuur
“Om hoë tonne op Fortune te kry is nie die uitdaging nie,” sê Du Toit. “Dis om die hoë tonne te kry saam met die regte vruggrootte en uitvoerkartonne per hektaar.” La Rhone het vier Fortune-blokke, waarvan drie twee-derdes Angeleno-pruime is. Omdat Angeleno moeilik kan set, gebruik La Rhone 15–18 korwe per hektaar vir bestuiwing, so die Fortune set meeste jare te veel.
“Aan die einde van blom, wanneer daar nog bye in die boord is, gee ons die Fortunes hulle eerste kunsmis, en dan dun ons vroeg uit,” sê Du Toit. “Ons doen gewoonlik drie vruguitdunne op Fortune.” Hy verduidelik dat Fortune-vruggies geneig is om in trossies te hang en mekaar al kleintyd te skaaf, wat tot onooglike merke in volwasse vrugte lei. Die eerste uitdun mik dus om alle vrugte enkel te maak sodat geen vrugte aan mekaar raak nie.
Die tweede uitdun is ook om enigiets met kosmetiese defekte te verwyder. Daarna word die finale uitdun gedoen om die getalle aan te pas om die gewenste vruggrootte te behaal. Daarenteen is vruggrootte nie ’n probleem met Ruby Sun nie, en dié kultivar is ook minder sensitief vir skaafmerke. La Rhone dun Ruby Sun gewoonlik twee maal uit.
Die eerste uitdun word na gelang van vrugposisies en beraamde oeslading gedoen. Die vrugte word rofweg gespasieer in enkelinge of pare wat nie té naby aan mekaar is nie. Daar word dan na een tot twee weke in fyner detail uitgedun, gegrond op die teiken vir uiteindelike vruggetalle.
Seisoenale snoeipraktyke
“Dis in beginsel ’n tendens vir ons om nader te plant as 14 of 15 jaar gelede,” sê Du Toit. “Ons plant deesdae redelik van ons pruime op die V-stelsel, maar toevallig is die Ruby Sun- en Fortune-blokke wat ter sprake is beide op die regopsisteem.”
La Rhone verkies meer driedimensionele bome met ’n groter blaredak vir later-seisoen pruime omdat die groter boomvolume ’n mikroklimaat skep wat hittegolwe beter hanteer. “Ons snoei glad nie in die winter nie,” sê Du Toit. “Ons groot snoei-aksie is tussen middel-Februarie en middel-April wanneer ons van die ou hout wegsny en nuwe lote ooptrek.” Hulle het aanvanklik begin met herfssnoei in later kultivars wat moeiliker set. Die idee was dat lootgroei in die lente stadiger sou begin en minder met vrugset sou kompeteer, omdat ’n herfssnoei minder stimulerend as ’n wintersnoei is.
“Ons het ’n baie makker boom gekry, maar daar was ’n klomp ander voordele wat ons daarmee saam gekry het,” sê Du Toit. “Ons het baie minder bakteriese siektes in ons pruimboorde omdat dagtemperature gewoonlik nog hoog is tydens die herfssnit. So ons hoef nie wondseëlmiddels te gebruik nie.” Herfssnoei help ook om die ogies vir die volgende seisoen aan beter lig bloot te stel.
Voorbereiding vir herfssnoei geskied tydens somerloofbeheer in November wanneer die lote wat in Februarie of Maart oopgetrek gaan word, gekies word. Nuwe lote sal ook na tappies teruggesny word sodat hulle ’n jaar vroeër draposisies kan vorm.
Hierdie basiese benadering word in konsultasie met hortoloog Jacques du Toit vir elke boord aangepas. Du Toit noem die voorbeeld van Ruby Sun, wat minder groeikragtig is. “As ons herhaaldelik hoë produksies van ons jong blok afhaal en begin groeikragprobleme sien, sal ons dalk net na blomblaarval snoei, want dis ’n meer stimulerende snit,” sê hy.


Optimale onderstamme
La Rhone het geweldige diverse grondtipes, van diep riviergronde tot klipperige sandgronde. Die Fortune-demonstrasieboord is byvoorbeeld op ’n ligter sanderige grond met ’n hoë klipfraksie terwyl die jong Ruby Sun-blok op ’n effe swaarder skaliegrond is.
“Ons het baie dialoog in ons eie besigheid en met ons tegniese mense oor onderstamme,” sê Du Toit. “In my opinie het die onderstam ’n groot impak op die produksiepotensiaal van sekere pruimkultivars, onder andere Fortune en Ruby Sun.”
In sy ervaring gee Marianna en Maridon meer konstante set, en die risiko van onverenigbaarheid is laer, maar perske-onderstamme gee beter vruggrootte, veral in laat kultivars, sowel as sterker groei. Die risiko vir bakteriese siektes is ook laer op perske-onderstamme, veral as die boord begin ouer raak.
Die Fortune-demonstrasieboord is op SAPO 778 geplant. Deesdae plant La Rhone in soortgelyke goedgedreineerde klipgronde heelwat Flordaguard, indien onverenigbaarheid nie ’n struikelblok is nie. Die Ruby Suns is op Viking. “Viking is veronderstel om bietjie meer sensitief vir uitdroging te wees, so ons is versigtig om hom in klipgronde te gebruik,” sê Du Toit.
Grondbeginsels
Hervestiging op steenvruggronde is onvermydelik maar La Rhone bestuur die proses sorgvuldig om probleme met boomgesondheid te vermy. Eerstens mik hulle om grond vir twee jaar te laat rus nadat ’n boord uitgetrek is. Indien die grondtipe dit toelaat, sal hulle gedurende daardie tyd hawer saai vir hul Limousin-beeste.
Onderstamkeuse speel ook ’n rol. “Ons probeer roteer,” verduidelik Du Toit. “So waar daar, sê nou maar Kakamas-saailing gestaan het, sal ons Flordaguard plant.”
Dreinering is ’n noodsaaklike deel van boordvestiging. “Ons wil nie hê daar moet nat voete in die boord wees nie,” sê Du Toit. “Dit is deel van wat ’n boord maak of breek, veral vir ons wat in ’n effense hoër reënval-area is.”
Alhoewel hulle in die verlede berook het, vind Du Toit dat dit nie meer nodig is nie. Hulle behandel ook nie meer chemies vir aalwurms nie, omdat groeikrag en vruggrootte aandui dat infestasies nie ’n probleem is nie. Du Toit skryf dit aan die gebruik van organiese materiaal toe.
Alle bome word met plant van ’n kafdeklaag voorsien. Na drie jaar word daar 15–20 m3 hoendermis per hektaar op die bankies geplaas en met kaf bedek, en hierdie proses word dan elke drie jaar herhaal. Voedingstowwe word met behulp van grondkundige Louis Reynolds gemonitor en die hoendermistoediening aangepas indien nodig.
Snoeireste word op die bankies geplaas om ekstra organiese materiaal te verskaf. La Rhone saai nie tans dekgewasse nie, maar hulle boorde het wel ’n goeie stand van natuurlike meerjarige grasse as gevolg van hul hoër reënval in veral die lente en vroeë somer. Hulle besproei ook met mikrospuite.
“Ons bankies is nooit regtig skoon nie, want ons wil nie hê ons bankies moet ’n harde kors maak nie,” sê Du Toit. “Ons soek spesifiek ’n sponseffek.” Nog ’n voordeel van die kafdeklaag is dat dit onkruid onderdruk. Tulbagh is berug vir weerstandbiedende raaigras, maar by La Rhone verswak die deklaag die raaigras in so ’n mate dat dit baie makliker is om te bestry.
Volhoubare sukses
“Om in een jaar hoë produksies in pruime te kry is nie ’n kuns nie,” sê Du Toit. “As ons kyk na FruData se studies en hoe die somme lyk, dan is die uitdaging en die geleentheid om boorde te kry wat jaar op jaar vir ons bogemiddelde uitvoerkartonne van goeie kwaliteit vrugte per hektaar lewer.”
La Rhone bereik hierdie doelwit deur noukeurig aandag te bestee aan alle aspekte van boordvestiging en -bestuur, insluitende die praktyke wat hierbo beskryf is. Hulle mikpunt is konstante jaarlikse produksies van 45–55 ton per hektaar, eerder as byvoorbeeld ’n Fortune-boord wat een jaar 70 en die volgende jaar 18 ton per hektaar lewer.
“En die tonne is een ding, maar ons wil daai tonne deur ons pakhuis en in ’n uitvoerkarton kry,” voeg Du Toit by. “So ons gaan uit ons pad om te verseker dat ons dit wat ons op die boom laai deur ons ketting bestuur en uitvoer. Ek sê nie ons kry dit altyd reg nie, maar dit is ’n baie groot fokus binne ons maatskappy.”
Related Posts
The multi-factorial risks of internal browning in Cripps Pink apples
Research-based risk mitigation is imperative for the effective management of internal browning.
Can adjuvants improve mealy bug biocontrol?
Preliminary results suggest that combining entomopathogenic nematodes with commercial adjuvants increases mealy bug mortality.


