
Die groen sitrusblaarspringer
Nuwe resultate identifiseer die blaarspringers wat vir sporadiese blaarskade op tafeldruifwingerde verantwoordelik is.
Deur Anna Mouton
Tafel- en droogdruifprodusente in veral die Noord-Kaap het in die afgelope paar jaar toenemend uitbrake van blaarspringers rapporteer. Gevolglik het SATI en Raisins SA gesamentlik navorsing befonds om die skuldige spesies te identifiseer en hulle biologie te bestudeer.
Die projek is deur dr. Elleunorah Allsopp, voormalige senior navorser aan die LNR Infruitec-Nietvoorbij, gelei. Haar medewerkers was Mike Stiller van die LNR Biosistematiekdivisie en dr. Barbara van Asch van die Departement Genetika aan Universiteit Stellenbosch.
Read MoreBlaarspringers in wingerde
Om die betrokke spesies te identifiseer het Allsopp monsters in verskeie wingerde in die Noord-Kaap versamel. Monsters is direk vanaf wingerdstokke asook vanaf geel lokvalle bekom. Sodoende kon sy bevestig dat slegs een blaarspringerspesie op die wingerde voed.
“Hierdie blaarspringertjies is omtrent 1.5–2.0 mm lank,” sê Allsopp. “Op wingerde het ons net die groenes gekry wat met die beskrywing van die groen sitrusblaarspringer ooreenstem.” Die groen sitrusblaarspringer kry sy naam omdat hy oorspronklik op sitrus gevind is. Hierdie is egter ’n inheemse insek wat op ’n wye gasheerreeks voed en veral lief is vir peulplante. Allsopp het hulle onder andere al op medicks waargeneem.
Blaarspringers lyk soos miniatuur sprinkane, maar die twee groepe insekte is nie naby verwant nie. Blaarspringers is besies – die blaarspringerfamilie is die tweede grootste van die besie-families en bevat meer as 20 000 spesies. Volwassenes kan vlieg sowel as spring.
Besies, insluitende blaarspringers en plantluise, het stekend-suigende monddele waarmee hulle op plantsappe voed. Tafeldruifwingerde is baie aanloklik vir hierdie insekte, verduidelik Allsopp. “Omdat ons die wingerde so baie bemesting en water gee, is die voedingsgehalte van die wingerde hoër as dié van ander plante in die omgewing,” sê sy. “Die gevolg is dat die insekte se voortplanting eenvoudig kan ontplof.”
Wyfies lê hul eiers binne-in blaarnerwe. Groen sitrusblaarspringers het vyf vlerklose onvolwasse stadiums. Blaarspringers het nie papies nie.
Wat is die skadesimptome?
Blaarspringers voed deur hulle naaldagtige monddele in die vaatweefsel van blare te steek en plantsap te onttrek. Erge infestasies lei tot verskroeiing van die blaarrande. “Die skade lyk baie soos verbrakking,” sê Allsopp. “Daarom is die blaarsimptome alleen nie genoeg vir ’n diagnose nie. Jy moet die insekte daar vind.”
Blaarspringers verkies jong groei en kan ontwikkelende blare en lote heeltemal laat verskrompel. In die drie seisoene waartydens Allsopp wingerde in die Noord-Kaap besoek het, het die blaarspringers nie ekonomiese skade aangerig nie. Sy waarsku egter dat sporadiese uitbrake veral jong wingerde ernstig kan beskadig.
“Daar is produsente wat rapporteer dat hulle geweldig baie blaarskade in jong wingerde vroeg in die seisoen kry,” sê sy. “Blaarspringers aan die begin van die seisoen kan soortgelyke skade as sitrusblaaspootjies aan die einde van die seisoen veroorsaak, en tot groeistilstand lei.”
Die goeie nuus uit hierdie projek is dat blaarspringers nie op trosse voorkom nie. Allsopp het trosse in blomtyd, tydens rypwording en na oes vir skade en insekte ondersoek.
“Ons kon nie sien dat hulle op die trosse voed nie,” sê sy. “Daar is ander blaarspringers, byvoorbeeld in Kalifornië, wat soms op korrels voed en stippeltjies veroorsaak. Ons het geen sulke skade gesien nie.”
Alhoewel daar nie tekens van eiers in enige trosse was nie, het Allsopp vrugte uit blokke met blaarspringers onder gekontroleerde toestande waargeneem en verder bevestig dat blaarspringers nie op druiwetrosse voortplant nie.
Hoe om te moniteer
Aangesien blaarspringers ’n sporadiese pes is wat nie-spesifieke skadesimptome veroorsaak, moet enige beheerstrategie op monitering gegrond wees. Gelukkig hoef blaarspringermonitering nie veel ekstra moeite te verg nie.
“As jy weet jy het al sulke skade gehad, dan sit jy geel lokvalle vroeg in die seisoen uit,” sê Allsopp. “Jy gebruik dieselfde geel lokvalle vir blaarspringers as vir blaaspootjies, en jy sit hulle dieselfde tyd uit, kort na bot.”
Blaarspringers, soos blaaspootjies, word slegs tot geel lokvalle in direkte sonlig aangetrek. Dis juis omdat blaarspringers geel lig aanloklik vind dat hulle jong lote, eerder as ouer, donkergroen blare, uitsoek. Hierdie aanpassing help die blaarspringers om voedingryke blare te teiken.
Geel lokvalle kan ’n verskeidenheid blaarspringers vang, maar die groen sitrusblaarspringer sal die enigste groen spesie wees. Onvolwassenes kan wel strooikleurig wees, en volwassenes varieer van geelgroen tot liggroen.
Lokvalle moet ten minste elke twee weke nagegaan word. Daar is geen drumpelwaarde vir blaarspringers nie en getalle op lokvalle korreleer nie goed met skade nie. Indien daar blaarspringers op die lokvalle is, moet die wingerd vir blaarspringers en skade ondersoek word.
“Die blaarspringers gaan sit onder die blare, veral by die nerwe,” sê Allsopp. Moniteerders sal die onvolwassenes sien wegskarrel wanneer hulle blare vinnig omdraai. Sy beveel monitering tot blaarval aan. “Beide blaaspootjies en blaarspringers kan ernstige blaarskade na oes veroorsaak,” waarsku sy. “Die opbou van reserwes na oes is krities, en hulle kan dit baie negatief affekteer.”
Allsopp raai produsente aan om nie van hul jong wingerde te vergeet nie. “Jy moet in ’n jong wingerd nog meer as in ’n ou wingerd moniteer, want die jong wingerd het nie baie reserwes nie,” sê sy. “Dis veral belangrik as jy ’n jong blok plant naby ’n ou blok wat al uitbrake gehad het.”
Beheer van blaarspringers
Omdat blaarspringers jong groei verkies, is die grootste risiko vir skade rondom bot en wanneer wingerde rondom oes weer uitloop. Blaarspringers oorwinter as volwassenes in die plantegroei rondom wingerde of op dekgewasse en onkruide binne wingerde. Hulle kan dus reeds vroeg in die seisoen in noemenswaardige getalle teenwoordig wees.
Later in die seisoen in veral droë areas kan blaarspringers wingerde in groot getalle inval soos wat hulle alternatiewe gashere terugsterf.
In Allsopp se opnames in die Noord-Kaap was blaarspringergetalle die hoogste tussen Oktober en Januarie, en in April tot Mei.
“As jy vroeg in die seisoen groot getalle op geel lokvalle sien en jy begin blaarskade kry, dan kan jy ’n chemie opsit,” sê Allsopp. Daar is middels wat spesifiek vir blaarspringers op tafeldruiwe geregistreer is, maar omdat blaarspringers suigende insekte is, sal die middels wat vir ander sapvoedende insekte gebruik word, ook blaarspringers beheer.
Spuitaanwendings later in die seisoen is meer uitdagend, omdat blaarspringers, soos sitrusblaaspootjies, soms skade net voor oes kan veroorsaak. Produsente moet hul tegniese raadgewers vir die aangewese beheerstrategie konsulteer.
In jong wingerde sal sistemiese en lokaal sistemiese beheer van byvoorbeeld witluise en blaaspootjies ook blaarspringers bekamp.
Vir meer inligting oor blaarspringers en ander wingerdpeste, raadpleeg SATI se reeks tegniese pamflette.
Related Posts
Can pre-harvest sanitisers help control decay?
“The pre-harvest component is a critical phase for pathogen establishment,” says Dr Johan Fourie, postharvest pathologist at ExperiCo Agri-Research Solutions. “The source of inoculum is in the vineyard – that’s where the pathogen establishes.”
Fungi are responsible for most postharvest decay. Plant-pathogenic fungi can thrive on all sorts of organic material in the vineyard, producing spores that land on bunches. Growers mitigate the risk of postharvest decay by integrated management practices that include removing organic material, maintaining open canopies, and applying fungicides.
Piecing together the packaging puzzle
“The primary purpose of packaging is to maintain fruit quality – to deliver the best quality to our markets,” says Dr Johan Fourie, Postharvest Pathologist at ExperiCo Agri-Research Solutions. “We need to re-establish confidence in South African table grapes.”
To better understand how various packaging components and environmental conditions influence table-grape quality, the ExperiCo team has been running a three-year SATI-funded project. So far, they have studied the interactions between bunch carriers, liners, and SO2-release systems.



