Navorsing help produsente om tafeldruif-verpakking te kies wat houvermoë verleng en kwaliteit handhaaf.
Deur Anna Mouton
Binneverpakking is onontbeerlik vir die lewering van ’n topgehalte produk aan ons tafeldruifmarkte. Maar dit kan moeilik wees om die beste kombinasie van plastiekbinnesakke en SO2-velle vir ’n gegewe kultivar te kies. Daarby plaas logistieke uitdagings addisionele druk op tafeldruifprodusente om hulle vrugte optimaal vir lewering aan markte te verpak. ExperiCo Agri-Research Solutions is derhalwe tans met ’n SATI-befondsde projek besig wat die uitwerking van verskillende SO2-velle en verpakkingsopsies op bederf ondersoek. Die navorsing word deur Dr Johan Fourie, Dr Pieter Louw en Anné Matthee gedoen. “Ons wil bepaal wat die effek van verskillende SO2-velle op druiwe-kwaliteit is,” het Anné Matthee, ExperiCo Druiwe-portefeuljebestuurder gesê. “Ons weet dat SO2 oor die algemeen bederf teenstaan, maar dit is ook belangrik om te verstaan watter faktore die werking kan beïnvloed.” Die projek het afgeskop met ’n opname van die verpakkingskombinasies en opbergingsperiodes wat die bedryf gebruik. Daarna het die navorsers die patrone van SO2-vrystelling en effektiwiteit van verskillende SO2-velle bepaal. Hulle het ook beheerde proewe gedoen waarin vrugte aan bederf-organismes blootgestel is om die uitwerking van verskillende verpakkingskombinasies te toets. Verdere proewe met die mees belowende verpakkingskombinasies is verlede seisoen begin en duur voort. Intussen het Matthee die voorlopige resultate van afgehandelde proewe gedeel.
Read MoreSO2-vrystelling
Die SO2-vrystelling is bepaal deur 10 plas-tiekbakkies – “punnets” – met Autumn Crisp tafeldruiwe in standaardplastiekbinnesakke of SO2-geïmpregneerde sakke binne-in kartonbokse te plaas. Vir behandelings met SO2-velle is die dubbelvrystellingvelle saam met vogabsorberende materiaal bo-op die plastiekbakkies geplaas. “Ons het hierdie proef onder ideale omstandighede gedoen,” het Matthee gesê. “So ons het die druiwe gepak en onmiddellik verkoel. Ons weet dit is nie altyd die geval in die industrie nie, maar ons wou gekyk het hoe lyk die SO2-profiele onder perfekte toestande.” Geforseerde-lugverkoeling is na ongeveer 21 ure gestaak toe druiwe minus 0.5 °C bereik het. Die vrugte is daarna vir agt weke by minus 0.5 °C gestoor en toe aan drie dae raklewe by 7.5 °C onderwerp. Die navorsers het die SO2-vrystelling vanaf verpakking tot dag 46 gemeet. Hulle het ’n piek in SO2-vlakke binne die eerste uur in die drie SO2-velbehandelings waargeneem, maar nie in die SO2-geïmpregneerde sakke nie. “Hoe warmer die druiwe is en hoe langer dit voor verkoeling staan, hoe hoër gaan die piek wees,” het Matthee gewaarsku. “Dan kan jy dalk vroeër met SO2-skade of -geïnduseerde bars begin.” Produsente moet ook daarop let dat velle se SO2-vrystellingsvermoë kan verswak wanneer dit té lank by ’n verskaffer staan, veral onder warm toestande. Die SO2-vlakke het onmiddellik gedaal nadat die verkoelingswaaiers afgeskakel is en die tweede fase SO2-vrystelling het na een dag begin. Aan die einde van raklewe het die navor-sers bederf en vrugkwaliteit bepaal. Bederf was betekenisvol minder met die SO2-velle as in die onbehandelde kontrole en die SO2-geïmpregneerde sakke. Matthee skryf dit aan die verskil in die aanvanklike SO2-piek toe. “Die inisiële sanitasie-effek is nie met die kontrole en die SO2-geïmpregneerde sak verkry nie,” het sy gesê. “Maar daar was wel SO2-geïnduseerde korrelbars in al die SO2-behandelings.”
Voorkom en genees
“Die volgende gedeelte van die proef was om te kyk hoe die SO2 voorkomend en kuratief bederf beheer,” het Matthee gesê. Sy het twee tipes proewe beskryf. Om bederfvoorkoming te toets is korrels met ’n steriele naald gewond en in bakkies gepak wat dan dieselfde as dié in die SO2-vrystellingsproewe hanteer is. Om die kuratiewe effek van SO2 te toets is inokulasieproewe gedoen waarin enkele ‘Autumn Crisp’-korrels gewond en onderskeidelik met Botrytis cinerea, Penicillium expansum, en Alternaria alternata geïnokuleer is. Die korrels is daarna vir vyf tot sewe dae geïnkubeer totdat infeksiesimptome ontwikkel het. Simptomatiese korrels is in bakkies gesonde druiwe geplaas om sodoende die gesonde korrels aan infeksie bloot te stel. Hierdie bakkies is ook soos dié in die SO2-vrystellingsproewe hanteer. In die inokulasieproef was bederf aan die einde van raklewe betekenisvol minder in die behandelings met SO2-velle as in die kontrole of die SO2-geïmpregneerde sakke. “Met die inokulasieproef kon ons bevestig wat ons in die SO2-vrystellingsproewe gesien het,” het Matthee beaam. “As daai inisiële sterilisasie-effek afwesig is dan het ons meer bederf waargeneem.” Daar was ook weereens meer korrelbars in die SO2-velle en SO2-geïmpregneerdesakke as in die kontrole. Bederf in die wondproef was soortgelyk in beide gewonde en normale korrels in al die behandelings met SO2-velle. Bederf in gewonde korrels was betekenisvol hoër as in normale korrels in die kontrole en SO2-sakbehandeling.
SO2- en plastiekkombinasies
Verdere proewe het bederf met drie verskillende SO2-velle in kombinasie met plastiekbinnesakke met drie verskillende perforasiekonfigurasies – 96 x 5 mm, 112 x 4 mm, en naald-geïnduseerde mikroperforasies – asook twee tipes bakkies – oop en toeklampdeksel – geëvalueer. ‘Sweet Globe’-korrels is met Botrytis cinerea en Penicillium expansum geïnokuleer en bakkies druiwe is soortgelyk as in die vorige proewe hanteer. “Die gemiddelde bederf vir die drie SO2-velle en twee soorte bakkies in die Botrytis-inokulasieproef het met hoër ventilasiepersentasie – die perforasie-oppervlak per sak en SO2-houvermoë – gekorreleer,” het Matthee gesê. Druiwe in die 96 x 5 mm-sakke het betekenisvol meer bederf as dié in die 112 x 4 mm- en naaldgeïnduseerde mikroperforasie-sakke gehad. “Daar was laer bederf omdat die mikroperforasie-sakke die meeste SO2 tydens die geforseerde-lugverkoeling kon terughou, en meer bederf in sakke met die grootste persentasie ventilasie,” het Matthee gesê. Daarenteen het die bakkies met deksels meer bederf as dié sonder deksels gehad afgesien van saktipe. “Met die oop bakkies kon die SO2 die druiwe makliker bereik as met dié sonder deksels,” het sy verduidelik. “Terselfdertyd was daar egter meer korrelbars waar SO2 meer teruggehou word,” het Matthee bygevoeg. “Hoër vogkondisies in hierdie bokse hou met die hoër korrelbars verband.” Daar was nie statisties beduidende verskille tussen die drie SO2-velle in hierdie proewe nie.
Terug op die plaas
Alhoewel ExperiCo nog proewe in die komende seisoen gaan uitvoer het Matthee wel solank gebruiksriglyne vir produsente. “Hou in gedagte dat daar ’n hoër inisiële sterilisasiefase en dan later ’n onderhoudsfase moet wees wanneer jy besluit watter binnesak en SO2-velle jy gaan gebruik,” het sy gesê. Stelsels wat nie ’n steriliserende SO2-piek lewer nie gaan waarskynlik nie bederf voldoende tydens langtermynopberging of hoë bederfvlakke beheer nie. Die keuse in terme van die SO2-konsentrasie en die persentasie oppervlakventilasie van sakke moet die risiko van bederf teenoor dié van SO2-skade en korrelbars opweeg. Die optimale verpakking sal SO2-vrystelling beheer en SO2 toelaat om met die produk in kontak te kom sonder dat SO2-vlakke té hoog vir ’n gegewe kultivar raak. Matthee het produsente aan die belangrikheid van ’n basiese beginsel herinner. “Weet wat jou tafeldruifkwaliteit is waarmee jy begin. Dit kan net agteruit gaan of onderhou word nadat jy dit gesny en in ’n boks geplaas het – dit kan nie verbeter nie.” Daarby het sy die noodsaaklikheid van temperatuurbeheer en die behoud van die koueketting vanaf oes tot by die mark beklemtoon. “Dit kan ’n wesenlike impak op die vermoë van jou SO2-vel hê,” was haar boodskap. “Maak seker dis in plek sodat julle druifkwaliteit behoue bly.”