
Die Plantsiektekliniek- Stellenbosch
Die ervare span deskundiges by Universiteit Stellenbosch se Plantsiektekliniek staan gereed om die oorsaak van plantkwale te diagnoseer.
Deur Anna Mouton
“Ons verwelkom enige pasiënt,” sê plantpatoloog Sonja Coertze. “Dit moet net ’n plant wees!” Coertze is die bestuurder van die Plantsiektekliniek-Stellenbosch wat op die Welgevallen-proefplaas geleë is.
Die Plantsiektekliniek was die geesteskind van prof. Gustav Holz, voormalige departementshoof van Plantpatologie by Universiteit Stellenbosch (US). Hy het besef dat produsente ’n behoefte het aan ’n diagnostiese diens vir hulle gewasse en het dus die Plantsiektekliniek in 2000 by die Departement Plantpatologie begin.
Coertze en mede-plantpatoloog Lizeth Swart was op daardie stadium voltyds in diens van die universiteit en die Plantsiektekliniek was deel van hul verantwoordelikhede. “Die eerste jaar het ons so 30 monsters ontvang,” onthou Coertze. “Daarna het dit net meer en meer geword.”
Read MoreTans hanteer die Plantsiektekliniek gewoonlik 1 200–1 300 gevalle per jaar. In 2025 het hulle teen einde Maart reeds 731 gevalle ontvang. Benewens diagnostiese gevalle, doen Coertze en haar span kontrakwerk, byvoorbeeld voorlopige evaluasies van moontlike swamdoders en biologiese beheermiddels.
Die Plantsiektekliniek het tans twee voltydse plantpatoloë buiten Coertze – Elaine Basson en Doré de Villiers – sowel as twee assistente – Brenda de Wee en Marchel Britz. “Tussen ons almal het ons meer as 40 jaar se ondervinding van diagnostiek,” sê Coertze.
Hulle werk ook nou saam met entomoloog prof. Pia Addison en nematoloog dr. Caro Kapp om sodoende ’n omvattende diens wat siektes en peste dek te lewer. Plantpatoloog prof. Adéle McLeod help met die ontwikkeling van molekulêre toetse, asook idees vir die uitbrei van dienste.
In 2023 het die Plantsiektekliniek vanaf die Departement Plantpatologie op die vierde verdieping van die Lombardi-gebou na die Paul van der Bijl-gebou op Welgevallen-proefplaas geskuif. US het die inrig van die nuwe fasiliteite befonds en die verskillende landbou-organisasies (BerriesZA, Hortgro, Korkom, ICA, SATI, South Africa Wine en Nexus) het tot die aankoop van nuwe toerusting bygedra.
“Ons sou dit nie sonder ons industrieë kon doen nie,” sê Coertze. “Ons is absoluut dankbaar vir hulle en die Universiteit vir die geleent- heid om in hierdie nuwe fasiliteite te kan werk.”
Hoe word plantpasiënte ondersoek?
Op ’n gewone Woensdag in Maart is die ontvangsarea van die Plantsiektekliniek vol pasiënte wat wag om gesien te word. Daar is ’n groep bloubessiestruike in hul potte langs ’n versameling tamatieplante wat wortels en vrugte en al in papierhanddoeke toegerol is. Aartappels en tafeldruiwe staan ook tou.
De Villiers en Britz is besig om ’n wingerdstok te ondersoek. Britz het ’n takknipper waarmee hy die stam sistematies in segmente opsny wat hy dan in die lengte oopsny. Sommer vinnig word ’n stam-kanker ontbloot.
Dit is nie ongewoon vir die Plantsiekte-kliniek om heel plante te ontvang nie. “Veral tafeldruifstokke kan nogal lank wees,” sê Coertze. “Soms word hulle opgevou om vir ons te stuur. Wanneer ons die verpakking afhaal en die plant ontrafel, lê die hele wingerdstok daar.”
Hulle het al tot bome ontvang wat te groot was om by die gebou in te kom. Selfs met die wortels afgeknip was die kroon te dik. “Die brandweer moes vir ons kom help om dit skoon te spuit aan die onderkant sodat ons dit kon ondersoek,” onthou sy.
Wanneer die plantpatoloë hul pasiënte se letsels evalueer het, neem hulle monsters vir verdere ontleding. “Ons kyk na al die simptome wat ons fisies kan sien en ons sny die pasiënt van bo na onder op,” sê Coertze. “Dan besluit ons vir watter siektes om te toets.”
Die Plantsiektekliniek het spesifieke laboratoriums waar hulle bakterieë en swamme isoleer en identifiseer, asook hulle eie molekulêre diagnostiese laboratorium. In gevalle waar hulle peste soos nematodes of insekte vermoed, neem hulle monsters wat deur Addison of Kapp ondersoek word.
Verder het die Plantsiektekliniek ’n plantgroeikamer met groeiligte en humiditeitskaste wat gebruik word wanneer hulle swamme op lewende plantweefsel moet kweek, byvoorbeeld om swamdoderweerstand te ondersoek.
“’n Gemiddelde diagnostiese ontleding neem 10–14 werksdae,” sê Coertze. “As ons voor dan ’n antwoord het sal ons die kliënt dadelik laat weet met ’n verslag.”
Goeie monsters gee goeie resultate
Daar is twee voorvereistes vir ’n korrekte diagnose: volledige agtergrondinligting en geskikte monsters. Kliënte verskaf die nodige agtergrondinligting deur die vorms op die Plantsiektekliniek se webwerf in te vul.
Coertze verkies dat kliënte die spesifieke vorm vir hulle gewas invul. “Die gewas-spesifieke inligting is baie belangrik. Dit gee vir ons ’n prentjie van wat die kliënt ervaar,” sê sy. “Ons is nie self daar nie, maar as die kliënt die agtergrondvorm volledig voltooi het ons ’n beter begrip van sy probleem.”
Kliënte kan die Plantsiektekliniek per e-pos laat weet wanneer hulle monsters gaan stuur. Die kontakbesonderhede sowel as hul fisiese adres is aanlyn beskikbaar. Monsters moet vars en verteen-woordigend wees. Plantweefsel bederf vinnig, so kliënte moet óf self hul monsters aflewer óf ’n koerier reël wat dit binne 24 uur kan aflewer. In meeste gevalle is dit beter om die hele plant te stuur.
“As mense blaarletsels – blaarvleksimptome – waarneem dan kan ons nog net die blaarmateriaal ontvang,” sê Coertze. “Maar as dit terugsterwingsimptome is, met ander woorde die blaarpunte of lote begin terug-sterf, dan help dit nie as hulle net vir ons daai punte stuur nie. Die primêre probleem is wortelvrot of vaskulêre verstopping.”
Wanneer kliënte die hele plant stuur kan Coertze en haar span die pasiënt geheel en al ondersoek en die regte materiaal kies om verdere analises te doen. Dit is ook beter om ten minste drie plante met verteenwoordigende siektetekens te stuur.
Coertze waarsku dat die resultate van ontledings op slegs een plant soms misleidend kan wees omdat sekere siekteveroorsakende bakterieë en swamme ook sekondêr tot onderliggende probleme soos versuiping of droogtestres teenwoordig kan wees.
“As jy meer as een wingerdstok ontleed, en jy kry dieselfde patogeen uit elke stok, dan kan mens met groter vrymoedigheid sê dít is die probleem,” verduidelik sy.
Die waarde van weet
Dit is onmoontlik om ’n siekteprobleem op te los wanneer die oorsaak onbekend is. Ongelukkig is tafeldruifstokke se siektetekens selde só spesifiek dat ’n diagnose op plaasvlak gemaak kan word – selfs met die hulp van dr. Google. Plante met infeksies kan selfs soortgelyke tekens as dié met omgewingstres toon.
Coertze vertel dat hulle byvoorbeeld geweldig baie jong stokke vir siektediagnose ontvang omdat die wingerd sukkel met vestiging en groei. Hierdie gevalle word dikwels deur swak grondvoorbereiding eerder as infeksies veroorsaak.
Aan die ander kant het die Plantsiekte-kliniek ook al gevalle gesien waar siektes op plaasvlak verkeerd gediagnoseer was. Vinnige en korrekte identifikasie is noodsaaklik, sodat produsente siektes effektief kan bestuur, maar ook om Suid-Afrikaanse landbou as ’n geheel te beskerm.
“Biosekuriteit is baie belangrik vir ’n land,” sê Coertze. “Ons moet seker maak ons weet watter siektes ons in ons land het en keer dat nuwe siektes en peste wat ons landboubedrywe kan affekteer, inkom. Die afgelope dekade of twee is dit duidelik dat grense meer oop was vir nuwe siektes om in te kom.”
Gelukkig het ons landboubedrywe toegang tot die Plantsiektekliniek, wat in Oktober vanjaar hulle 25ste bestaansjaar sal vier. Tafeldruifprodusente kan dus gerus wees dat ’n betroubare diagnose vir enige siek wingerdstok geredelik beskikbaar is.

Related Posts
CRI Postharvest Workshops 2025
This year, the regional CRI Postharvest Workshops had a packed venue at each of the six locations visited across the country during January and February. A total of 1 200 delegates attended, representing a wide range of sectors within the citrus industry, from packhouse managers and staff to exporters and agrochemical representatives.
Notably, there’s a rise in attendance by the young demographic. This and the overall upward growth trajectory of the citrus industry of Southern Africa make for a promising future.
Extension briefs June and July 2025
Orchard sanitation must continue diligently during the harvesting period. All fruit that remains on trees after harvest must be removed and destroyed two weeks after completion of harvesting, at most. This is because false codling moth (FCM) activity does not cease during winter, and any remaining fruit could serve to facilitate this activity.
Plus, this winter fruit creates a reservoir of inoculum of FCM for the following spring. Conversely, removal of all fruit after harvest could dramatically reduce FCM levels in the following season. Fruit fly numbers can also build up on unharvested fruit.