In gesprek met Christo Strydom
Geleenthede en uitdagings in ons peerbedryf. Deur Anna Mouton
Christo Strydom van spesialispeer-pakhuis, Wolfpack, is ongewoon in die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf omdat hy noodsaaklik op pere fokus.
Read MoreV: Hoe het peerproduksie verander sedert jy die bedryf in 1990 betree het?
A: Daar was baie positiewe veranderinge. Daar is definitief 'n groot verbetering in tonne per hektaar – meer konstante, hoër produksies. Ek dink dit kan waarskynlik toegeskryf word aan beter produksiepraktyke en beter klonale onderstamme.
Dertig jaar gelede het baie mense nog bome op saailingonderstamme geplant. Toe het die Suid-Afrikaansgeteelde BP-reeks van die Landbounavorsingsraad af gekom en ons het al die voordele van klonale onderstamme gekry.
Die nuwe kweperonderstamme BA29 en C51 bied nou geleenthede om meer vrugbare bome van sekere kultivars te maak. Maar ons moet ook nog steeds meer vrugbare Pyrus-onderstamme ontwikkel omdat sekere peerkultivars nie met kweperonderstamme verenigbaar is nie.
By plaagbeheer dink ek nie ons besef altyd watse omwenteling die begin van paringsontwrigting teen kodlingmot in die vroeë 90s veroorsaak het nie. Voor dit het ons basies elke twee weke vanaf blomtyd met organofosfate gespuit.
Ek dink ook die Forelle-navorsing het 'n groot verskil gemaak – die hele FEMA [Forelle Early Market Access] program. Dit het ons in 'n posisie geplaas om baie vroeër in die mark te kom, omdat ons nie meer daardie agt-weke-opbergingsprotokol voor verskeping gehad het nie.
Die ander interessante verandering in die laaste klompie jare is die gebruik van etileenstremmers – FEMA is daarop gebou. Maar ons gebruik ook etileenstremmers saam met langtermynopberging van Forelle in beheerde-atmosfeer toestande om 'n beter agtergrondkleur in die vrugte te behou.
V: Watter kultivars word tans in Suid-Afrika geplant?
A Packham’s Triumph was nog altyd die ruggraat van ons bedryf omdat dit in soveel markte verkoop kan word en relatief lae produksiekostes het. In die jare wat dit met hom goed gaan en hy vir jou goeie tonne en uitpakke gee, doen hy goed. Maar ek dink nie jy gaan vandag iemand kry wat nog 'n aptyt het om Packham's te plant nie.
Ek dink ook nie daar's meer plek vir die ou Williams' Bon Chrétien nie – jy het 'n sterk inmaakbedryf nodig om dié kultivar ekonomies lewensvatbaar te maak.
As ek kyk na wat op hierdie stadium geplant word, is dit maar meestal blospere – die nuwe Rosemarie-seleksie is baie opwindend. Suid-Afrika het homself baie sterk in die produksie en bemarking van blospere geposisioneer. Ek dink dit het vir ons 'n kompeterende voordeel gegee, veral in Europa en die Verenigde Koninkryk.
Wanneer 'n produsent in ons groep op die oomblik pere wil plant, dan beveel ek Forelle op 'n kweperonderstam aan. As hy vir my sê, nee, hy het te veel Forelle, dan sê ek vir hom dat hy te veel van die verkeerde Forelle het – bome op BP-onderstamme wat nie presteer nie.
V: Hou 'n gebrek aan nuwe kultivars die bedryf terug?
A Pere is 'n bietjie van 'n dinosourus as dit kom by vrugsoorte. Daar is nie hierdie ongelooflike dinamika as dit by nuwe kultivars kom nie.
Al die nuwe kultivars, veral in appels en pruime, kan goed of sleg wees. Dit kan goed wees want die verbruiker is die heeltyd geïnteresseerd. Maar dit kan sleg wees vir die produsent want hy’t 'n enorme kapitaalbelegging gemaak net om vier of vyf jaar later dalk uit te vind dat die produk nie meer in aanvraag is nie.
Gegewe dat pere 'n dinosourus is, kompeteer jy met 'n outydse vrug in 'n nuwe wêreld waar mense spoggerige vruggies soos bessies en kersies eet. En hier kom ek met 'n Williams’ Bon Chrétien wat 250 jaar oud is, of 'n Packham's wat 130 jaar oud is. Die grootste verandering tydens my loopbaan was die prominensie van blospere, beginnende by Forelle, wat ook eintlik 'n baie ou kultivar is.
Alles dui daarop dat peerverbruikers in Europa ouer raak. Ons moet jong mense aantrek en ons gaan hulle slegs oortuig met die voorkoms van die vrugte. Mense wat pere koop, koop dit vir die smaak – hulle eet nie pere omdat dit mooi is nie. Ons verkoop 'n eetervaring. Die eetervaring gaan natuurlik baie belangrik bly maar jou eerste kontak met verbruikers begin tog by wat hulle sien.
Ons moet die verbruiker se oog kan vang. Maar ongelukkig is daar ook risiko’s met nuwe kultivars, soos vrankheid en sensitiwiteit vir skaafmerke. Een van die redes hoekom volrooi pere nog nooit lekker van die grond af gekom het nie is omdat hulle verskriklik sensitief is vir skaafmerke.
V: Watter ander faktore beïnvloed peerverbruik?
A: Wanneer 'n peer geoes word, is hy fisiologies plukryp maar hy’s nie eetryp nie. As die verbruiker hom in hulle vrugtebak sit gaan hy nooit ryp raak nie, want pere is baie lui om etileen te genereer. Hulle het 'n koueskok nodig om aan die gang te kom.
Nou, kultivars verskil ten opsigte van hulle gevoeligheid vir daai koueskok. Somerpere, soos 'n Williams’ Bon Chrétien, het dalk net 5 – 7 dae by -0.5 °C nodig terwyl 'n Forelle agt weke [voor verskeping] nodig het. Maar die beginsel bly, mense weet nie hoe om pere ryp te maak sodat die eetervaring lekker is nie.
Ongelukkig is pere baie sensitief vir hantering- en skaafmerke, en as die vrugte ryp raak dan kom kneusings baie sterk na vore, en dan lyk die vrugte nie mooi nie. En ryp pere raak vinnig sleg, so as hulle as gereed-om-te-eet verkoop word, moet hulle onmiddellik geëet word.
V: Waarom het die Russiese inval van Oekraïne so 'n groot impak op ons peerbedryf gehad?
A: Rusland het in die laaste paar jaar 'n ongelooflike belangrike rol begin speel as 'n mark vir ons pere en ewe skielik is die mat onder ons voete uitgetrek. Ons het nie alternatiewe markte gehad vir die pere wat ons Rusland toe gestuur het nie.
Ongelukkig koop die tipiese verbruiker in SA, en in die res van Afrika, eerder appels as pere. Ons sukkel om in Afrika rêrig volumes te skuif. En ek dink ons is nog steeds te afhanklik van Wes-Europese markte, wat veral moeilik is wanneer hulle groot produksies van Conference en Abate Fetel het.
Ek het in November 1990 in die bedryf begin werk, en ons het slegte jare gehad sedertdien, maar wat in 2022 gebeur het, het niemand van ons sien kom nie. En as jy kyk na nuusberigte oor stygende energiepryse in Europa, dan dink ek nie mense gaan baie pere eet nie – hulle gaan hou by die basiese dinge.
Maar daarby wil ek sê dat die peerbedryf nog altyd slegte jare oorleef het en selfs daarna sterker teruggekom het. So ek is optimisties oor die toekoms van hierdie bedryf.
Related Posts
Restricted spring growth syndrome
Research reveals the impact of stressors on vascular tissues in young grapevines. By Anna Mouton…
Grapevine trunk diseases
What management strategies are available to table-grape growers and nurseries? By Anna Mouton “Grapevine trunk…