Forelle-vroeëmarktoegang
Vindingryke naoespraktyke het SA 'n wêreldleier in Forelle-peerproduksie en -uitvoere gemaak. Deur Anna Mouton
Forelle word al vir 350 jaar verbou, sê dr. Ian Crouch, besturende direkteur van ExperiCo Agri-Research Solutions. "Histories is dit as 'n soet en sappige peer geëet. Maar ons probleem was dat Forelle melerig raak as dit geëet word voordat dit 12 weke koue-berging gehad het."
Forelle is 'n blospeer. Die blospeer-seisoen begin tipies in Januarie met uitvoere van kultivars soos Rosemarie en Flamingo wat nie 'n verpligte koel-opbergingsperiode benodig voor dit verkoop word nie. In die verlede was daar hierna geen ander blospere om uit te voer totdat Forelle uit die koelkamers gekom het nie. Dit het vir ander lande die geleentheid gegee om die blospeermark te betree.
Read More"Die oomblik wat jy onbestendige voorsiening het, sal die supermarkte na ander uitvoerders toe gaan, soos Chili," verduidelik Crouch. "As hulle eers 'n verskaffer het en gelukkig met die kwaliteit is, gaan hulle nie noodwendig terugkeer na Suid-Afrikaanse uitvoerders nie."
Die 12-weke koueberging plaas ook druk op produsente om so vroeg as moontlik te oes sodat hulle vroeër kan uitvoer. Dit het voorheen gelei tot die pluk van vrugte wat nog nie optimale rypheid ontwikkel het nie.
"Ons het vreeslik baie klagtes van super-markte ontvang oor vrankheid," onthou Crouch. Vrankheid is die droë, sametrekkende gevoel in die mond wat deur tannien in onryp Forelle-pere veroorsaak word.
Benewens hierdie probleme was daar 'n ooraanbod wanneer Suid-Afrikaanse Forelle uiteindelik in oorsese markte geland het. "Ons het die punt bereik waar hoe meer vrugte ons produseer het, hoe laer was die prys, omdat ons genoodsaak was om in 'n baie kort venster te bemark," sê Steven Versfeld, kernvrugprodusent en voorsitter van die Forelle-produsentevereniging.
Geen wonder dat navorsers als probeer het om die Forelle-seisoen te vervroeg en die voorsieningsgaping te vul nie. "Oesrypheid, etileen, koueskokke, hitteskokke – ons kon dit net nie regkry nie," vertel Crouch.
'n Peer wat eet soos 'n appel
Vernuftige navorsing het uiteindelik die oplossing ontsluit. Deur Forelle-pere langer op die boom te los sodat hulle hoër sui-kervlakke ontwikkel en hulle dan met die etileenstremmer 1-metielsiklopropeen – 1-MCP – te behandel om rypwording te vertraag, kan vrugte sonder risiko van melerigheid en vrankheid dadelik uitgevoer word.
Sodoende is die Forelle-vroeëmark-toegang – Forelle Early Market Access oftewel FEMA – program gebore. "Die grootste uitdaging was om hierdie konsep aan die mark te verkoop," sê Crouch. "Om 'n peer wat soos 'n appel eet te verkoop – ons het aanvanklik gewonder of ons dit kon regkry."
Crouch beskryf hoe hulle met semi-kommersiële proewe begin het. Beperkte hoeveelhede vrugte is in 2011 en 2012 na die Verenigde Koninkryk, Duitsland, en die Midde- en Verre-Ooste verskeep. "Ons het vrugte saam met die bemarkers geproe om hulle terugvoer te kry," onthou hy. "Hulle was almal baie opgewonde daaroor."
Omvattende navorsing het gewys dat sekere markte FEMA-vrugte bo tradisionele Forelle verkies. "In warm lande was hulle 100% ten gunste van hierdie program omdat dit 40 °C daar is," sê Crouch. "Met FEMA kry jy nie pere wat tussen die distribusiesentrum en die supermark oorryp raak nie – dit het nuwe markte in die Midde- en Verre-Ooste, en meer onlangs in Indië, vir ons ontsluit."
Versveld stem saam. "FEMA het die Midde-Ooste vir ons oopgemaak. Ons het gegaan van ál ons Forelle in die Verenigde Koninkryk verkoop na die meerderheid in die Midde-Ooste verkoop. As mens kyk na die persentasie wat nou in die Midde-Ooste verkoop word, dan is dit reusagtig, en dis als te danke aan FEMA."
Bestuur van verbruikersverwagtinge gedurende die hele Forelle-seisoen was uiters belangrik. "Ons het op elke FEMA-peer 'n plakkertjie gehad wat lees "Crisp and Sweet". Want die res van die Forelle kom na 12 weke in die mark en dit is sag en sappig," verduidelik Crouch.
"Jy het 'n oorgangsperiode wanneer die vrugte een week heeltemal van die volgende week verskil," sê Crouch. "Jy moet seker maak dat mense weet wat hulle kry."
"Dit het soos 'n vuurpyl weggetrek"
Die sukses van Forelle-vroeëmarktoegang het selfs vir Crouch verbaas. "Dit het soos 'n vuurpyl weggetrek," sê hy. Uitvoervolumes het van 330 000 kartonne FEMA-vrugte in 2012 na 'n beraamde 1.9 miljoen kartonne in 2022 gegroei.
Richard Hurndall, destyds naoes-programbestuurder by Hortgro Science, het bereken dat die FEMA-program gedurende 2012 – 2018 ongeveer R186 miljoen ekstra inkomste in produsente se sakke gesit het. Hierdie syfer sluit slegs die premie op 'n karton FEMA-vrugte teenoor 'n karton konvensionele Forelle in.
Gegrond op dieselfde syfers het Hurndall uitgewerk dat die FEMA-program tot 2014 'n opbrengs van ongeveer R10 gelewer het vir elke R1 wat in die navorsing belê is.
FEMA het sonder twyfel die mark vir Forelle-uitvoere laat groei. "Dit het nuwe markte oopgemaak en die prys verbeter. Dit het 'n reuse-impak gehad – Forelle is nou ons tweede grootste kultivar en mense plant nog steeds Forelle," sê Crouch.
Versfeld reken dat, gemeet aan inkomste, Forelle selfs die grootste kultivar mag wees. "Ek kan dink dat dit nie te moeilik gaan wees vir Forelle om die grootste te wees na hierdie jaar nie, geoordeel aan die pryse wat ek vir Packham’s gekry het," berig hy oor 2022.
Maar die FEMA-program het ook uitdagings. Boorde kan slegs vir FEMA vrygestel word indien die vrugte aan sekere standaarde voldoen, insluitende suikervlakke van ten minste 14 °Brix en fermheid van 5.5 – 6.0 kg. Sekere boorde sukkel om hierdie fermheid te behaal omdat die vrugte te hard bly.
"Maar as jy dan die vrugte te lank laat hang en dit te geel raak, dan het jy probleme om daardie vrugte te verkoop," sê Crouch.
"As die vrugte nie vir FEMA kwalifiseer nie, dan moet jy dit nog steeds met 1-MCP behandel, en stoor vir die verpligte 12 weke om melerigheid of oorryp vrugte in die mark te voorkom."
Alhoewel daar altyd ruimte vir verbetering sal wees, is daar geen twyfel dat Forelle-vroeëmarktoegang een van die suksesverhale van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf is nie, sê Crouch.
"Toe ons sien dat dit werk, toe besluit ons om groot te gaan," sê Versveld wanneer hy terugdink aan die eerste jare van FEMA. Wat is sy gevolgtrekking 10 jaar later? "Dit het fantasties gewerk!"
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…