Die Hortgro Science Konsepboord-program
Produsente kry die geleentheid om die beste boordpraktyke in aksie te sien. Deur Anna Mouton
Hortgro Science het in 2021 die dekade-lange Boord van die Toekoms-projek afgesluit. Prof. Wiehann Steyn, algemene bestuurder van Hortgro Science, reken die projek het die innovasie-golf wat die bedryf tans beleef, help dryf. Maar 10 jaar terug se toekoms is vandag se geskiedenis – wat beplan Hortgro Science volgende?
"Daar is reeds baie innovasie onder produsente," beaam Marno van der Westhuizen, navorsingsimplementeringsbestuurder by Hortgro Science. "Ons wil 'n platform skep om dit ten toon te stel."
Gevolglik het Hortgro Science vroeër hierdie jaar die Konsepboordprogram geloods met die doel om produsente aan volhoubare en winsgewende boorde wat deurlopend goeie opbrengste en uitpakke lewer, bloot te stel. Waar die oorspronklike Boord van die Toekoms-projek slegs appels gedek het, sluit die Konsepboordprogram beide appels en steenvrugte in.
Read MoreKonsepprojekte verskuif die grense
Die Konsepboordprogram het twee bene. "Die een is konsepprojekte – dit is projekte waar jy iets heeltemal nuuts doen om bietjie die grense te verskuiwe," sê Steyn.
Die eerste konsepprojek gaan die prestasie van steenvrugbome op weefselkultuur- teenoor konvensionele steggie-onderstamme evalueer. Tans word kandidaatboorde geïdentifiseer met die doel om proefbome in die winter van 2024 te begin plant.
Die tweede been van die Konsepboordprogram is demonstrasieboorde. "Die demo-boorde is boorde waar suksesvolle of innoverende praktyke reeds toegepas word," sê Van der Westhuizen. "Ons wil praktyke ten toon stel wat aan die voorpunt is van boordbestuur, sowel as alledaagse goeie praktyke – dinge wat winsgewendheid gaan verhoog."
Die vyf fokusareas
Hortgro Science het die fokusareas van die Konsepboordprogram met behulp van twee bestuurskomitees daargestel. Die kernvrugkomitee bestaan uit tegniese raadgewers Willie Kotze, Graeme Krige en Angelique Pretorius, grondkundige Mico Stander, en Hortgro Science se Matthew Addison.
Die steenvrugkomitee bestaan uit tegniese raadgewers Rudolph Cronjé, Petru du Plessis, Andrew Hacking, Pierre Rossouw en Charl Stander, en Hortgro Stone direkteur André Smit. Steyn en Van der Westhuizen dien op beide die steen- en die kernvrugkomitees. Die vyf oorhoofse fokusareas is boordstelsels, waterbestuur, boordvloerbestuur, marktoegang, en arbeidsdoeltreffendheid.
"'n Klomp produsente is besig met praktyke soos hoë-digtheid-aanplantings, veelvuldige leiers, dekgewasse, en drupbesproeiing," sê Steyn. "Die idee is om ander produsente daarnatoe te bring sodat hulle kan sien hoe dit werk. En om almal om 'n tafel te kry om te praat oor wat werk of wat nie werk nie – dis eintlik 'n leerervaring."
Die Konsepboordprogram vir steenvrugte
Innoverende en volhoubare boordsisteme is die sleutel tot beter netto boerdery-inkomste.
"Ons is nou by 'n draaipunt in landbou waar die groei in kostes die groei in inkomste verbysteek," sê Pierre Rossouw, tegniese bestuurder by Stems Fruit, en bestuurskomiteelid vir die Steenvrugkonsepboordprogram. "So ons moet nou iets doen om daai inkomste te verhoog. Ons kan nie aanhou doen wat ons nog altyd gedoen het en 'n beter resultaat verwag nie."
Volgens Rossouw is die doel van die program om steenvrugproduksie meer winsgewend en dus meer volhoubaar te maak. Winsgewendheid berus op die aantal kartonne Klas 1-vrugte wat per hektaar geproduseer word, so dit is geen wonder dat die program optimale vruggroottes en verhoogde uitpakpersentasies beklemtoon nie – tonnemate word as sekondêr tot verhoogde persentasies Klas 1-vrugte beskou.
"Om winsgewend te boer moet jy die regte genetika kies – die regte kultivar op die regte onderstam – en gesonde materiaal van die regte bronne. Dit moet aanpasbaar wees in jou area," sê Rossouw. "Daarby moet dit wees wat die mark soek – die regte eetgehalte en houvermoë – en dit moet die regte produksie met die regte kwaliteit hê."
Hy verduidelik dat al hierdie faktore volhoubaarheid beïnvloed. "Ek glo met die Konsepboordprogram kan ons produsente met die regte inligting bemagtig om die regte besluite te maak."
Sien is glo
Die Konsepboordprogram bestaan uit twee dele: demonstrasieboorde en konsepprojekte. Demonstrasieboorde is kommersiële boorde wat as gevolg van sekere suksesvolle praktyke uitstekende produksies van Klas 1-vrugte lewer.
Die spesifieke praktyke wat ter sprake is, is dié wat binne die fokusareas van die program val, naamlik onderstamgenetika; plantmateriaalkwaliteit; besproeiing; oplei-
stelsels; skadunette en verwante tegnologieë; pes- en plaagbestuur; boordvloerbestuur; en arbeidsdoeltreffendheid en -effektiwiteit.
"Die demo-boorde is 'n leerskool waar ons met mekaar moet deel om die bedryf as 'n geheel te help," sê Rossouw.
Die industrie se top 10 pruim- en nektarienboorde – in terme van tegniese dry-
wers soos uitpakpersentasies, vrug-
grootte en tonnemate – sal met behulp van landbou-ekonomiese maatskappy FruData geïdentifiseer word en genooi word om deel te wees van die program. Deelnemende boorde moet vir ten minste vyf jaar reeds in drag wees en bestaan uit standaardkultivars wat algemeen geplant word.
Die plan is om demonstrasieboorde in die Bergrivierarea, Klein Karoo, en Warm Bokkeveld, insluitende Tulbagh en Wolseley, te hê. Produsente sal dié boorde met velddae kan besoek en sal ook artikels oor die boorde kan lees.
"Sien is glo vir baie produsente," sê Rossouw. Maar, beklemtoon hy, areas verskil en plase het unieke mikroklimate, so produsente sal vir hulself moet oordeel hoe om die lesse uit die demonstrasieboorde in hulle eie boorde toe te pas.
"Jy moet van die begin af die regte besluite neem wanneer jy plant," sê hy. "Ek dink die grootste uitdaging is die feit dat dit so duur geraak het om die regte ding te doen. Maar as jy daardie boord vir 20 jaar wil hê kan jy nie kortpaaie vat nie. Plant eerder 'n hektaar minder en doen dit reg as wat jy groot gaan en dit half doen – jou kanse vir sukses is net soveel groter."
Begin skoon
Die ander been van die Konsep-boordprogram is konsepprojekte: projekte wat mik om oorkoepelende vrae wat inskakel by Hortgro Science se toekomsstrategie te beantwoord. Daar is tans slegs een konsepprojek. Hierdie projek gaan weefselkultuur- met konvensionele steggie-onderstamme vergelyk. Dit is aanvullend tot 'n navorsingsprojek met dieselfde oogmerk maar 'n meer wetenskaplike inslag waar die statistiese uitleg van die proef dit minder geskik maak vir boordstappe.
"Ons is nog maar nuut as dit kom by weefselkultuur," sê Rossouw. "Ek dink die waarde van die projek gaan wees as ons kan bewys dat, alhoewel weefselkultuurplantmateriaal 'n bietjie duurder is, jy mettertyd die waarde van 'n skoon begin sal kry."
Die bestuurskomitee sal produsente nader wat beplan om binnekort nuwe pruim- en nektarienboorde te vestig, en aanbied om tot 100 bome in die nuwe boord te borg. Dié bome sal dieselfde bo- en onderstamkombinasie as die res van die boord hê, maar met weefselkultuur-onderstamme gemaak word.
Deur die twee tipes bome in dieselfde boord te plant kan hulle prestasie direk vergelyk word.
Hortgro Science sal basiese data oor byvoorbeeld tonnemaat en vrugkwaliteit insamel en analiseer. Rossouw hoop dat hierdie inligting produsente sal help met die koste-voordeel-analise wanneer dit kom by weefselkultuur- teenoor steggie-onderstamme.
"Gegewe die koste van vestiging en produksie, en die invloed wat dit op 'n produsent se kontantvloei het om ongesonde plantmateriaal in die grond te sit, herstel jy nie van so 'n tipe fout nie," maan Rossouw.
Hy dink die grootste kopskuif wat produsente kan maak is om oop te wees vir verandering. "Primêre produsente is geneig om te doen wat nog altyd gewerk het en dit is nie noodwendig verkeerd nie," sê hy, "maar ek dink ons moet oop wees vir wat daar buite beskikbaar is, hetsy nuwe tegnologie, genetika of metodes."
BOX 1
Fokusareas van die Konsepboordprogram
1. Boordstelsels
Opleistelsels
Die oorspronklike Boord van die Toekoms-projek het die waarde van hoë-digtheid-aanplantings van appelbome op dwergende onderstamme duidelik demonstreer. Baie produsente is egter versigtig vir die hoë vestigingskoste van sulke boorde, veral as daar nog addisionele uitgawes soos nette bykom. Die plant van appelbome met dubbel- of veelvuldige leiers is een van die maniere om dié hoë vestigingskoste af te bring en is dus 'n area wat die Konsepboordprogram wil verken.Skadunette oor pruime
Nette het hulself reeds in appelboorde bewys. Die Konsepboordprogram wil kyk of nette, insluitende drapeernette, oor pruimboorde dieselfde waarde toevoeg.- Onderstamme
Dwergende appel-onderstamme was 'n fokusarea van die oorspronklike Boord van die Toekoms-projek. Die Konsepboordprogram wil graag potensiële beter-aangepaste onderstamme sowel as weefselkultuur-onderstamme met standaard onderstamme in nektariens en pruime vergelyk.
2. Waterbestuur
Suid-Afrika is 'n waterskaars land waarin klimaatsverandering die risiko van droogte nog verder verhoog. Meer effektiewe en produktiewe watergebruik bly dus 'n prioriteit vir sagtevrugteprodusente. Die Konsepboordprogram stel spesifiek in innovasie in die volgende areas belang:
- drupbesproeiing
- nuwe tegnologieë, byvoorbeeld die gebruik van kameras op hommeltuie en vierwielmotorfietse.
3. Boordvloerbestuur
Die beskikbaarheid en effektiwiteit van chemiese onkruiddoders is besig om af te neem en produsente benodig alternatiewe metodes om onkruid te beheer. Terselfdertyd kan verhoogde grondkoolstof grondvrugbaarheid bevorder en klimaatsverandering bekamp. Die Konsepboordprogram wil dus die volgende areas ten toon stel:
- alternatiewe strategieë en dekgewasse vir onkruidbestuur
- koolstofsekwestrasie.
4. Marktoegang
Lae-residu- of residu-vrye produkte raak al meer belangrik vir marktoegang. Die Konsepboordprogram stel dus in gewasbeskermingsmetodes belang wat lae-residu- of residu-vrye vrugte kan lewer.
5. Arbeidsdoeltreffendheid en ekonomie
Steen- en kernvrugproduksie is slegs volhoubaar as dit winsgewend is. Die Konsepboordprogram wil dus winsgewende boorde wat innoverende praktyke gebruik om effektiwiteit te verhoog, byvoorbeeld deur nuwe tegnologieë of meganisasie in te span, insluit. Die klem is op:
- verhoogde netto boerdery-inkomste
- beter arbeidseffektiwiteit.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…