
Dekgewasse in Suid-Afrikaanse wingerde
Vername wetenskaplike Dr Johan Fourie gesels oor sy loopbaan en deel insigte uit meer as drie dekades van dekgewasnavorsing. Deur Anna Mouton
Dekgewasse in wingerde is deesdae die norm. Maar dit was geensins die geval toe 'n jong Johan Fourie in 1985 by Nietvoorbij begin werk het nie. Fourie het op daardie stadium pas navorsing op chloorasetamiede onkruiddoders voltooi vir sy meestersgraad. Hy het aanvanklik by Nietvoorbij op die toediening van onkruiddoders deur middel van besproeiingstelsels gefokus.
Fourie sê dat sy belangstelling in dekgewasse geprikkel is deur hul potensiaal om onkruid te onderdruk. Dekgewasbewerking in daai jare was grootliks beperk tot rog. Die probleem, volgens Fourie, was dat die saai van 'n rog-monokultuur jaar na jaar lei tot die opbou van rog-spesifieke siektes in die grond wat uiteindelik die rog verswak.
Gevolglik het Fourie langtermynproewe uitgelê om dekgewasse in die hoof wingerdboustreke van SA, naamlik Stellenbosch, die Breederiviervallei en die Olifantsriviervallei te toets. Die navorsing is moontlik gemaak deur befondsing wat Nietvoorbij in 1992 ontvang het, toe dit deel van die Landbounavorsingsraad geword het.
Read MoreHierdie proewe het vir 10 – 12 jaar geloop. Resultate van dié sowel as ander proewe, insluitende in die Benede-Oranjeriviervallei en Klein Karoo, word saamgevat in Fourie se nuwe boek, Cover Crops in South African Vineyards, wat in April 2022 geloods is.
"Die groot verskil wat ek gemaak het, is om die beginsel van dekgewasse prakties toepasbaar te maak," sé Fourie. "Ons het 29 spesies getoets, en op die ou einde gevind dat agt in die onderskeie streke presteer, en ons kon vir mense sê hoe om hulle te bestuur."
Geïntegreerde onkruidbeheer met dekgewasse
"Ek het op Nietvoorbij vir ses uit 12 jaar weggekom deur net drie liter glifosaat per hektaar na bot te spuit, en dít onder mikrobesproeiing wat onkruidgroei bevorder," onthou Fourie. "Daar is geen vooropkomsmiddels ooit gebruik in die proef nie."
Fourie hou nie van vooropkomsmiddels nie, omrede dit 'n impak op die grond kan hê. Hy noem homself 'n geïntegreerde dissipel. "Ons gaan biologies so ver soos ons kan. Maar jy gooi nie onkruiddoders by die venster uit nie. Jy gebruik dit oordeelkundig en slegs waar nodig."
Organiese onkruidbeheer is in Fourie se ervaring nie volhoubaar nie. Hy verduidelik dat sekere onkruide deur meganiese bewerking versprei word, onder andere uintjies, akkerwinde, wandelende Jood, Johnson-gras, en al die verskillende kweke. Die effek van verskillende dekgewasse en dekgewasbewerkingspraktyke op beide somer- en wintergroeiende onkruide was een aspek van Fourie se proewe, en sy bevindinge word in die nuwe boek bespreek.
"Die mooi van die dekgewas, in terme van onkruidbeheer, is dat, as ek brassicas saai, dan kan ek iets soos raaigras uithaal met 'n gras-spesifieke onkruiddoder. Dan, as ek rog of hawer saai, kan ek weer breëblare soos akkerwinde uithaal sonder om die gras te affekteer. Op daai manier wend jy 'n baie goeie wingerdbewerkingstrategie aan."
Die geheim van suksesvolle onkruidbeheer met behulp van dekgewasse is om deur minimum bewerking en oordeelkundige gebruik van onkruiddoders die saadbank in die boonste vyf sentimeter grond uit te put.
"Wees geduldig," sê Fourie. "Jou tyd van niks spuit nie sal kom. As jy hierdie jaar daardie onkruid wat nog steeds deurdruk uithaal, gaan jy volgende jaar niks hoef te spuit nie. Maar jy sal hierdie jaar 'n bietjie moet spuit."
Nog meer voordele van dekgewasse
Onkruidbeheer was nie die enigste rede hoekom Fourie dekgewasse wou beproef nie. Hy vertel dat hy in 1996 by 'n internasionale kongres in Pole gehoor het hoe navorsers van dwars oor Europa rapporteer dat die organiese materiaal in hulle gronde oor die jare meer as halveer het. Dit is kommerwekkend aangesien organiese materiaal 'n groot bydrae maak tot grondvrugbaarheid.
Suid-Afrika het van nature minder organiese materiaal in ons gronde, as gevolg van ons warmer klimaat. Suid-Afrikaanse landbou kon dus definitief nie bekostig om dieselfde foute te maak nie. "Op daai stadium, in 1996, het niemand geweet jy kan hierdie proses omkeer nie," onthou Fourie. "Ons het bewys jy kan."
Dekgewasbewerking het die organiese materiaal in 'n mediumtekstuurgrond verdubbel. Die effek van dekgewasse op organiese materiaal, stikstof en ander minerale in Fourie se langtermynproewe word in die nuwe boek bespreek.
Die kombinasie van dekgewasse en minimum bewerking help ook om die grondstruktuur te beskerm, terwyl meganiese onkruidbeheer met 'n skotteleg of 'n kapploeg die porieë in die bogrond vernietig. Dit is nadelig vir grondgesondheid en wortelgroei. "As 'n grond se struktuur eers verslemp is, gaan jy sukkel om dit reg te stel," maan Fourie.
"Al boer ons ge'ntegreerd, wil ons ook omgewingsvriendelik boer," sê Fourie. Hy beklemtoon dat verhoogde organiese materiaal in die grond gelykstaande is aan verhoogde koolstofsekwestrasie, wat die vlakke van koolstofdioksied in die atmosfeer verlaag. "As jy enigsins 'n omgewingsgewete het, dan sal jy dit doen. Ek dink dit is baie belangrik, en dit is hoekom ek passievol is daaroor."
Suksesvolle bestuur van dekgewasse
Daar was baie min bekend oor die beste praktyke rondom die vestiging en bestuur van dekgewasse toe Fourie se proewe afgeskop het. Hy het reeds voor die langtermynproewe in Stellenbosch, die Breederiviervallei, en die Olifantsriviervallei 'n wye reeks spesies in oop lande getoets om die beste kandidate te vind. Dié seleksie-proses word in die nuwe boek beskryf, saam met verdere navorsing wat byvoorbeeld wintergroei-onkruidgrasse, en fynbos- en renosterveldspesies, as moontlike dekgewasse ondersoek het.
Die proewe het daarop gedui dat dekgewasrotasie belangrik is om die veselproduksie van 'n dekgewas te maksimaliseer. Die produsent kan slegs een spesies óf 'n mengsel van een groep, byvoorbeeld medicks, die eerste twee jaar saai. Na twee jaar word daar na 'n ander spesie roteer, byvoorbeeld van 'n graan na 'n breëblaar, om die opbou van siektes
te voorkom.
Soos reeds genoem, gee rotasie produsente die geleentheid om probleemonkruide soos raaigras en akkerwinde chemies te beheer. Fourie wys ook daarop dat die groeitempo van verskillende dekgewasse nie dieselfde is nie, en dit dus beter is om byvoorbeeld nie 'n graan en 'n medick te meng nie.
Benewens die keuse van dekgewasspesies vir verskillende streke en grondtipes, het Fourie gekyk na die vestiging, hervestiging, besproeiing, en bemesting van dekgewasse, en die resultate verkry deur gebruik van verskillende implemente. Sy boek bespreek hierdie proewe, maar bevat ook 'n hoofstuk met praktiese riglyne, insluitende vir dekgewasbewerking in nuwe teenoor gevestigde wingerde, saai-datums en besproeiing per streek, en aanbevelings oor dekgewasbeheer.
Fourie, wat in 2019 afgetree het, sê dat hy graag nog meer navorsing oor bemesting sou wou doen, veral op sanderige gronde, en besproeiing. Maar hy is tevrede dat hy die grondslag gelê het waarop verder gebou kan word.
"Ek het my loopbaan en navorsing baie geniet. Jy word nooit ryk nie, maar jy moet innoverend dink, dis baie stimulerend, en jy moet iets doen wat waarde gaan toevoeg," sê Fourie. "As daar nou een ou is wat weer sou gekies het wat ek gedoen het, dan is dit ek."

Related Posts
Piecing together the packaging puzzle
“The primary purpose of packaging is to maintain fruit quality – to deliver the best quality to our markets,” says Dr Johan Fourie, Postharvest Pathologist at ExperiCo Agri-Research Solutions. “We need to re-establish confidence in South African table grapes.”
To better understand how various packaging components and environmental conditions influence table-grape quality, the ExperiCo team has been running a three-year SATI-funded project. So far, they have studied the interactions between bunch carriers, liners, and SO2-release systems.
Hoe reageer tafeldruiwe op klimaatsveranderinge?
Wingerdkundige dr. Janéne Strydom van die LNR Infruitec-Nietvoorbij het onlangs ’n SATI-befondsde projek voltooi waarin sy verskillende besproeiingsbehandelings in wingerde met en sonder oorhoofse plastiek getoets het.
“Die weerpatrone in die areas waar mense met tafeldruiwe boer is besig om te verander,” sê Strydom. “Die doel van hierdie projek was om te kyk hoe wingerdstokke op verskillende klimaatskondisies reageer.”

