Bewaringslandbou in die Wes-Kaap
Wat kan die vrugtebedryf leer by akkerbou? Deur Anna Mouton
Dr Johann Strauss is ‘n agronoom by die Wes-Kaapse Departement van Landbou. Hy is ‘n voorstander van bewaringslandbou en dien as die sekretaris van Bewaringslandbou Wes-Kaap. Sy navorsing mik om die volhoubaarheid van kontantgewasverbouing te verbeter. In hierdie onderhoud deel Strauss sy insigte oor bewaringslandbou en die voordele wat volhoubare praktyke vir landbou inhou.
Read MoreV Wat is bewaringslandbou en waar kom dit vandaan? En wat van herlewingslandbou?
A Bewaringslandbou kom oorspronklik uit die Amerikas. Oorspronklik het dit gegaan oor die behoud van die grond – erosie het ‘n groot rol gespeel. Aanvanklik was daar so baie bogrond, mense het nie die nadele van die ploeg en die groen revolusie besef nie. Totdat die stofkom gebeur het. Toe het ouens gesien dit is nie volhoubaar soos wat ons boer nie.
Die term wat hulle eintlik gemunt het is bewaringsbewerking. Dit verwys na enigiets wat jy minder op die grond doen as wat jy normaalweg sou doen. Later het hulle begin om die ander aspekte – soos gewasrotasie – by te sit. Die term bewaringslandbou is eers vroeg in die 2000’s gebruik. Herlewingslandbou is ‘n baie groot uitvloeisel van bewaringslandbou, maar eintlik is ons almal op pad na dieselfde plek toe.
Bewaringslandbou het drie bene. Dis minimum versteuring van die grond, diversiteit in gewasse deur gewasrotasie, en behoud van óf lewende wortels óf dooie materiaal bo-op die grond om die grond te beskerm. Herlewingslandbou is basies dieselfde, maar dekgewasse speel ‘n groter rol, en daar is ‘n baie sterk klem op diere. Maar meeste van my navorsing in bewaringslandbou sluit ook diere in – diere is al hoe meer deel van die pakkie.
V Hoe bevorder bewaringslandbou die opbou van grondkoolstof?
A Byvoorbeeld is daar ‘n wynboer naby Worcester wat al vir ‘n hele paar jaar dekgewasse in sy wingerde het, en hy termineer dit met ‘n roller-krimper wat hy self gebou het. Hy plant meestal korog of saaihawer wat maklik termineer. Hy boer in sand, bousand, en binne vier jaar was daar sigbare opbou van organiese materiaal in sy bogrond. Sy wingerdwortels kom onder in die werksrye bymekaar. Hy het sy onkruiddoderrekening met 60% gesny. En hy het in die droë jare beter kwaliteit en meer uitgepak as die ouens rondom hom.
Ons groot probleem in die Wes-Kaap is dat ons beperk is tot die winter vir die verbou van ‘n gewas. Jy bou koolstof in die grond die vinnigste as daar vog en hitte is. Ons het vog in die winter, maar ons het nie dan hitte nie. En in die somer het ons hitte, maar geen vog nie. So ons opbou van organiese materiaal gebeur in die winter – dis ‘n stadige proses.
Daar is tussen 3 – 5% organiese materiaal in die grond in fynbos, so ons kan met ons stelsels probeer om ten minste daarby uit te kom. En ons is besig om in daai rigting te beweeg. Daar is van ons produsente in die Suid-Kaap wat in van hulle kampe al op 3 – 4 % grondkoolstof staan, so dit is moontlik om weer daar uit te kom. Maar daai spesifieke ouens is al 30 jaar daarmee besig. Dit vat tyd.
V Waar pas dekgewasse in?
A In Amerika en ander plekke is die dekgewas letterlik net ‘n normale gewas wat hulle plant om hulle grond te bedek, en dan maak hulle die dekgewas dood, en dan plant hulle weer hulle kontantgewas. Hulle het ‘n tussenseisoen waar hulle die dekgewas kan plant. Ons het nie daai voorreg in die Wes-Kaap nie, so ons moet dekgewasse binne ons produksiesisteme plant, so jy verplaas eintlik ‘n moontlike kontantgewas – jy offer eintlik ‘n jaar se produksie op om ‘n dekgewas in te bring.
Dit is hoekom ons met ons navorsing diere sterker inbring, sodat jy dubbeldoel het van daai dekgewas – dit is eintlik ‘n nutsgewas en nie net ‘n dekgewas nie. Want jy kry die voordeel van die verskeidenheid wortels in die grond, en die voordeel van beweiding en daai inkomste van wol of vleis. Plus, as jy dit reg bestuur het jy nog materiaal aan die einde oor wat die grond beskerm.
‘n Dekgewas hoef nie vuurpylwetenskap te wees nie. Dit kan eenvoudig wees dat, as jy ‘n klomp saad op die plaas beskikbaar het, gebruik dit. Jy hoef nie ten duurste te gaan aankoop nie. Werk met wat jy getoets het en besef, dis wat op my plaas aard, en maak ‘n mengsel daarvan. Jy wil nie ‘n enkelgewas hê nie, want dan kan jy net sowel ‘n kontantgewas plant. Jy wil ‘n verskeidenheid hê sodat jy die voordeel kry van die verskillende wortels in die grond.
V Kan onkruide dien as dekgewasse?
A Dis ‘n moeilike een daai – ons het nog nie antwoorde vir alles nie. Ek mag verkeerd wees, maar ek dink die verskil is dat baie van die onkruide pioniersplante is, so hulle skei nie soveel suikers in die grond af nie. Ek dink hulle neem meer as wat hulle gee.
Maar dan kry jy ouens wat die natuurlike grasse wat wel nog daar is, so bestuur dat dit vermeerder en dat die onkruide later verdwyn. Hulle wil meer natuurlike plante hê, maar weereens het hulle diere ingebring om dit te verbeter en dit werk uitstekend.
So dis nie verkeerd as jy ‘n onkruidland het nie. Daar is wel aspekte van die onkruide wat nadelig kan wees, veral as jy hom toelaat om saad te maak, want nou bou jy die onkruidsaadbank.
V Kan bewaringslandbou ons minder afhanklik maak van chemie?
A Ek is nie baie lief vir chemie nie, maar dit is ongelukkig nog ‘n realiteit op hierdie stadium. Ons gebruik het al baie verminder met ander maniere van bestuur. Byvoorbeeld, kan jy ‘n roller-krimper gebruik om jou dekgewas te termineer. Partykeer is dit egter nodig om chemie te gebruik vir sekere onkruide, maar jy hoef nie glifosaat te gebruik nie. Daar is ander opsies.
Ons het onkruidsaadbankstudies gedoen en gewys dat jy op die ou end minder onkruid het in stelsels waar daar ‘n diversiteit van plante en bestuur is. Jy het ‘n groter verskeidenheid onkruid, maar hulle getalle is so laag dat dit nie ‘n ekonomiese impak het nie. Op die ou end spuit jy minder chemie in daai stelsels.
Ek mik daarna om ons bestuursinsette al minder en ons koolstofvoetspoor al kleiner te maak in die bedryf. Ons wil die stelsels laat werk vir ons. En ons kry dit redelik reg met van ons navorsing. Soveel so dat ons laas jaar in ons proewe ons hoogste opbrengste gehad het in ‘n kontantgewas-weiding-rotasiestelsel met minimale stikstof-insette, want die stelsel produseer stikstof vir ons.
Vandat dekgewasse deel van ons pakket geraak het op die plaas spuit ons byvoorbeeld glad nie meer insekdoder nie. Ons doen monitering – so jy hou jou vinger op die pols – maar wanneer ons iets kry, dan het die predatore hulle klaar doodgemaak.
Ons gebruik nog chemie, maar ons is verby die stadium wat ons spuit net omdat ons wil spuit. Ons wil nie op resepte boer nie, want dis die vinnigste wat jy weerstand begin opbou en allerhande probleme begin kry. So ‘n mens moet baie meer aanpasbaar en betrokke wees – bewaringslandbou vereis dit.
Vir meer oor bewaringslandbou, besoek die Bewaringslandbou Wes-Kaap webwerf by www.blwk.co.za.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…