
40 jaar van plantgroeireguleerders
Em. prof. Karen Theron gesels oor die voortdurende evolusie van plantgroeireguleerders en hulle bydrae tot die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf.
Deur Anna Mouton
Dit is vandag moeilik om veral kernvrugproduksie sonder plantgroeireguleerders voor te stel. Hierdie middels was egter nog in hulle kinderskoene toe em. prof. Karen Theron in die tagtigerjare haar loopbaan in die Departement Hortologie aan Universiteit Stellenbosch begin het.
Theron was betrokke by die ontwikkeling van produkte wat 6-BA [6-bensieladenien] en, meer onlangs, S-ABA [absisiensuur] en ACC [1-aminosiklopropaan-1-karboksielsuur] bevat. Haar navorsing het ook tot die eerste plaaslike registrasie van proheksadioon-kalsium, die primêre groeireguleerder vir appels, gelei.
Read MoreSedert sy in 2021 by Universiteit Stellenbosch afgetree het, is Theron nog steeds aktief betrokke met plantgroeireguleerderproewe en -registrasies. Sy het in ’n onlangse onderhoud haar perspektief oor plantgroeireguleerders gedeel.
V. Toe jy begin het was sintetiese plantgroeireguleerders wêreldwyd in gebruik. Wat was die situasie in Suid-Afrika?
A. Sintetiese anti-gibberelliene is wyd in Europa gebruik om die groei van bome te beheer. Paklobutrasol was vir steen- en kernvrugte gebruik. Chlormekwatchloried is vir pere en daminosied vir appels gebruik. Hierdie middels is baie effektief maar hulle bly baie lank in die plant.
In Suid-Afrika is registrasiewerk in die negentigerjare met chlormekwatchloried op Comice-pere gedoen. Ons het alles probeer om Comice te laat set. My gevoel was dat hy nie set nie, omdat ons herfs te warm is. Dit lei tot hoë gibberellienvlakke in die bome wanneer knopdifferensiasie plaasvind en dus tot swak blomkwaliteit. My idee was om chlormekwatchloried in die herfs te spuit om gibberellienvlakke te verminder. Ons het dit vier weke voor blaarval gespuit terwyl daar nog blare op die boom was om dit op te neem. Dit het verbasend goed gewerk maar ons kon dit net een seisoen in die praktyk toepas.
Die sintetiese anti-gibberelliene is in die VSA en Europa verban nadat residu’s op appels en pere gevind it. Ons het chlormekwatchloried net die vorige jaar in Suid-Afrika geregistreer, maar dit was die einde van die produk.
Suid-Afrika het nooit veel daminosied gebruik nie. Prof. Daan Strydom het destyds daarop gewerk. Die idee was om groei in rooi appels te beheer om meer lig in die boom te kry – onthou nou dat dit hierdie groot ou bome was. Maar hulle het dit net begin gebruik toe die produk ook sneuwel.
V. Hoe verskil die meer natuurlike plantgroeireguleerders van die sintetiese plantgroeireguleerders?
A. Iets soos die anti-gibberelliene kom nie natuurlik voor nie. Gibberelliene soos GA3 en GA4+7 of iets soos ABA [absisiensuur] of ACC [1-aminosiklopropaan-1-karboksielsuur] is identies aan die produk wat natuurlik in die plant voorkom en is dus vrygestel van residutoetse. Daar is nie maksimum residulimiete daarvoor nie. Die aktiewe bestanddeel in baie van die plantgroeireguleerders wat gespuit word is egter minder as 2% en die res is nie-aktiewe formulering. Dit skep die moontlikheid van residu’s. So, dit moet getoets word tensy daar vooraf vasgestel is dat daar nie residu’s is nie. Daarom is daar ’n beweging na die ontwikkeling van produkte wat van residutoetse vrygestel is en in organiese boerdery gebruik kan word. Vir my is die groot voordeel van die natuurlike hormone – of hulle voorlopers – dat die werking daarvan nog steeds die plant se besluit is. Hy besluit of hy die ACC gaan omsit na etileen of nie. Of hy kan die ACC omsit na etileen, maar besluit om net die hoeveelheid etileen te produseer wat hy in elk geval sou gedoen het. Dis anders as wat jy byvoorbeeld etefon spuit. Dit stel ook etileen vry maar dit maak ’n wolk etileen om die plant wat deur die blare opgeneem word. Die opname is afhanklik van faktore soos temperatuur en die tipe blaaroppervlakte. Daar is nie ’n ensimatiese omskakeling van ACC na etileen wat deur die plant beheer word nie.
V. Wat was die vroeë rol van die natuurlike plantgroeireguleerders in Suid-Afrika?
A. Toe ek in die tagtigerjare begin het, was produkte met GA3 en ’n mengsel van GA4+7 en 6-BA [6-bensieladenien] eintlik die enigste plantgroeireguleerders en dit was nog relatief nuut. Die twee sintetiese ouksiene NAA [naftaleenasynsuur] en NAD [naftaleenasetamied] was ook beskikbaar. Hierdie middels is meestal vir uitdunning gebruik. Etefon was ook gesien as ’n uitdunmiddel, maar in ons ervaring was hy baie, baie gevoelig vir temperatuur. So as jy gespuit het en skielik hoë temperature gehad het, het hy totaal ooruitgedun. En as daar koeler weer gekom het, dan werk hy glad nie – onthou die weervoorspelling was daai tyd nog nie baie akkuraat nie. Ons het ook gekyk na ammoniumtiosulfaat as blomuitdunmiddel maar het ook hiermee baie wisselvallige resultate gekry. Nadat die ouer generasie plantgroei-inhibeerders verdwyn het, het ek proheksadioon-kalsium begin evalueer vir registrasie in Suid-Afrika. Ek het gereël om produk uit Duitsland te kry. Daar is vir my gesê om seker te maak die lootjies is 5 cm lank voor ek spuit omdat die produk deur nuwe blare opgeneem moet word. Ek het nog appelboorde by High Noon in die Kaaimansgat [Villiersdorp] gaan uitsoek wat die geilste bome is wat jy kon kry. Ons het op hulle gewerk om te kyk na aantal spuite en konsentrasies. Dit was in die negentigerjare. Die eerste registrasie was vir twee toedienings waarvan die eerste een op sogenaamde kredietkaartlengte lootjies was. Geleidelik, soos wat mense dit gebruik het, het ons gesien dit word wel opgeneem deur knoppe wat besig is om oop te maak. So, dit kan vroeër gespuit word.
V. Is daar nog ruimte om nuwe plantgroeireguleerders te ontwikkel?
A. As jy gaan kyk na die huidige reeks produkte wat beskikbaar is, dan het ons eintlik ’n redelik volledige pakkie wat ons voorheen nie gehad het nie. Ons het produkte om verskillende gibberelliene te verhoog en ons kan gibberelliene met proheksadioon-kalsium verminder. Daar is produkte wat etileenvlakke verhoog en ander wat dit verlaag. S-absisiensuur is nou vir uitdunning in sagtevrugte geregistreer. Ek glo dat soos met enige nuwe produk, gaan daar nuwe toepas- sings ontwikkel soos wat ons nog data kry.
Daar is deesdae nege sogenaamde planthormone bekend met onder andere strigolaktone wat bygekom het. Daar is nog relatief min bekend oor hulle en presies hoe hulle werk, maar dit sal seker die volgende alternatiewe wees.
Ons het nog altyd gesien dat daar in die literatuur gekyk word na wat word nuut uitgevind. Mense sal byvoorbeeld molekulêr werk op wat blomvorming beheer. Dan gaan iemand daai literatuur lees en moontlike plantgroeireguleerders identifiseer.
Maar dan is dit die lang proses om te kyk of jy die planthormoon kan produseer. Hoe stabiel is dit? Hoe moet jy dit formuleer om opname te kry? Baie van die molekules is relatief groot en moeilik om op te neem. En dan moet dit hopelik ook dieselfde werking hê.
So dis ’n lang pad. Gelukkig ontwikkel dinge baie vinniger as 50 jaar gelede.
V. As jy kon wens vir enige nuwe plantgroeireguleerder, wat sou dit wees?
A. Op hierdie stadium het ons alternatiewe rusbreekmiddels nodig. Waterstofsiaanamied is wel ’n plantgroeireguleerder omdat dit die plant se groei reguleer, maar dit is ’n sintetiese middel en nie ’n plantgroeireguleerder wat natuurlik voorkom nie. Ek glo daar is ’n moontlikheid dat ons rusbreekmiddels gebaseer op planthormone kan ontwikkel. Ek dink dit gaan ’n kombinasie van goed wees want jy wil effektief hê dat sitokiniene en gibberelliene hoë vlakke in al die knoppe bereik om hulle te laat bot. En ook dat hulle daarna aanhou groei. Met waterstofsianamied skrik die boom wakker en hy begin groei. Ek weet nie of ons met hormone dieselfde effek gaan kry nie. Mens hoop dat die feit dat daar iets soos klimaatsverandering is en meer produksiestreke in die wêreld begin voel hulle het te min winterkoue, sal veroorsaak dat daar dalk ’n groter insentief sal wees vir ’n maatskappy om hierin te belê. Tot nou toe is dit ons, Israel, Meksiko, en Brasilië wat rusbreekmiddels soek. Dis relatief klein hektare appels. So as maatskappye begin sien daar is ’n groter markgeleentheid as net ons dan gaan daar miskien meer geld ingesteek word.
V. Wat was die impak van plantgroeireguleerders op die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf?
A. Vrugteproduksie sou baie duurder gewees het sonder plantgroeireguleerders. Jy sou byvoorbeeld alles met die hand moes uitdun of jy sou groei met ’n skêr moes beheer – en snoei stimuleer groei. So jy sou weer moes inkom. In daai opsig is plantgroeireguleerders lekker gereedskap om in jou kassie te hê.
Dan is daar toepassings wat byvoorbeeld die naoeskwaliteit van die vrugte verbeter en die bemarkingsvenster groter maak. Daar word byvoorbeeld nou AVG [aminoetoksivinielglikolol] gebruik om die variasie in rypheid in Bigbucks te verminder sodat jy minder eise van die mark het. Ek weet nie hoe jy die waarde van sulke toepassings meet nie.
As ek gaan kyk wat in plekke soos Europa gebeur waar arbeidskostes ’n baie groter faktor is as by ons dan is hulle verskriklik opgewonde as hulle nuwe plantgroeireguleerders kry.
Plantgroeireguleerders is nie noodwendig goedkoop nie, maar as jy gaan kyk na veral die ouer produkte wat nog baie in uitdunprogramme vir kernvrugte gebruik word, dan is uitdunspuite relatief goedkoop. Jy kan dit vergelyk met steenvrugte waar hulle op hierdie stadium alles met die hand uitdun, teen ’n groot koste.
Die totale produksiekoste is al klaar besig om die produsente te knyp. As ’n plantgroeireguleerder effektief werk spaar hy die produsent geld. In ’n moeilike jaar is dit baie keer die verskil tussen wins maak of nie.
Related Posts
Wees verstandig omtrent volhoubare grondbestuur
“As mens omsien na jou grond se welsyn dan is die natuurlike uitvloeisel dat die produktiwiteit van die grond sal verbeter,” het grondkundige dr. Pieter Raath by die 2025 SATI Table Talk in Paarl gesê. “En dit dra by tot ’n goeie omgewing vir ons en ons nageslag om in te lewe.”
The basics of bio-control
Biological control – better known as biocontrol – leverages natural processes such as biostimulants and predation to manage pests and diseases. A recent talk by applied entomologist Dr Francois Bekker of the Department of Conservation Biology and Entomology at Stellenbosch University focused on biocontrol based on pathogens, parasitoids and predators.

