
Wees verstandig omtrent volhoubare grondbestuur
Hoe kan produsente wetenskaplik te werk gaan om na die welsyn van hulle grond om te sien?
Deur Anna Mouton
“As mens omsien na jou grond se welsyn dan is die natuurlike uitvloeisel dat die produktiwiteit van die grond sal verbeter,” het grondkundige dr. Pieter Raath by die 2025 SATI Table Talk in Paarl gesê. “En dit dra by tot ’n goeie omgewing vir ons en ons nageslag om in te lewe.”
Raath is verbonde aan die Departement Hortologie by Universiteit Stellenbosch en is ’n direkteur van LabServe, ’n analitiese laboratorium wat in grond-, water-, en plantontledings spesialiseer. Die boodskap van sy voorlegging was dat volhoubare grondbestuur nie ingewikkeld hoef te wees nie, solank produsente hulle grond verstaan en aandag aan grondchemie, bemesting, besproeiing, koolstof en bedekking gee.
Read MoreBevriend jou grondontledings
“Dis uiters belangrik dat enige produsent ’n goeie insig in sy grond se chemie het,” het Raath gesê. “Sonder dit kan jy nie jou grond verantwoordelik bestuur nie.” “Dis uiters belangrik dat enige produsent ’n goeie insig in sy grond se chemie het.”
Hy het die gehoor aangemoedig om nie hulle grondontledings net aan konsultante te oorhandig nie, maar om moeite te doen om self deur die resultate te werk. Alhoewel grondontledingsverslae oorweldigend kan lyk, kan produsente van gratis hulpbronne gebruik maak om die resultate sinvol te interpreteer. Raath het die impak van verskillende aspekte van grondchemie op die fisiese en biologiese kenmerke van die grond sowel as op voedingstofopname bespreek. Grond-pH, brakheid, fosfate, kalium, kalsium, magnesium, spoorelemente en koolstof beïnvloed almal die biodiversiteit en biologiese aktiwiteit in die grond. Benewens direkte effekte sal grondeienskappe soos byvoorbeeld lae pH, lae kalsium tot magnesium verhouding, en hoë natriumvlakke almal tot verdigting bydra, wat nadelig vir belugting en biologiese aktiwiteit is. “Die sout-indeks van kalium is baie hoog,” het Raath gesê. “As jy baie kalium op een slag gee, het dit ’n negatiewe impak op grondbiologie. As jy progressiewe opbou van kalium in jou grond het, is die grond besig om te verbrak, wat ook grondbiologie negatief impakteer.” Verbrakking verswak die grondstruktuur. Onstabiele grond is nie ’n goeie omgewing vir meeste grondorganismes nie. “Baie mense dink nie aan fosfate nie,” het Raath bygevoeg. “Die organismes wat fosfatases afskei gaan onaktief wees as fosfaatvlakke hoog is. So jy gaan jou tyd en geld mors om dan met mikorisa te inokuleer.” Raath het beklemtoon dat grondtekstuur uiters belangrik is vir die interpretasie van grondontledings en die bestuur van fisiese en chemiese grondeienskappe. “Jy kan nie ’n bemestingsaanbeveling maak sonder om die tekstuur van die grond in ag te neem nie,” het hy gesê. “As jy ’n konsultant het wat vir jou ’n aanbeveling maak, maar hy weet nie eers wat die tekstuur van jou grond is nie, dan moet jy hom in die pad steek.”

Meer koolstof is nie beter nie
Grondkoolstof het baie voordele vir die fisiese en biologiese eienskappe van die grond. Daar is nietemin iets soos te veel grondkoolstof en ons weet almal dat te veel van ’n goeie ding nie meer goed is nie.
Raath het die voorbeeld gebruik van grond met 0.7% koolstof en ’n 12:1 verhouding tussen koolstof en stikstof. Sulke grond sal 2 333 kg stikstof per hektaar in die boonste 30 cm bevat wat na ten minste 70 kg minerale stikstof per hektaar sal mineraliseer. Indien 50% van die grond deur wingerdwortels beslaan word, beteken dit dat daar ten alle tye ’n minimum van 20–35 kg stikstof per hektaar beskikbaar is. Die tempo van mineralisasie word deur faktore soos temperatuur en vogtigheid beïnvloed. Stikstofvrystelling piek dus in die hoogsomer.
“Dis presies in die tyd wanneer jy nie met stikstof bemes nie, want jy wil nie dán oormatige stikstof hê nie,” het Raath gesê. “Maar as jy oormatige grondkoolstof het, skep jy naoeskwaliteitsprobleme sonder dat jy dit eers besef.”
“As jy oormatige grondkoolstof het, skep jy naoeskwaliteitsprobleme sonder dat jy dit eers besef.”
Alhoewel die opbou van organiese materiaal in die grond as uitsluitlik positief voorgehou word, is oormatige hoë vlakke dus glad nie so positief vir vrugkwaliteit nie. Volgens Raath help dit ook nie noodwendig om atmosferiese koolstofdioksied te verlaag nie, aangesien grondorganismes op ekstra organiese materiaal reageer deur dit vinniger te verbrand, met gepaardgaande atmosferiese koolstofdioksiedvrystelling.
“As jy koolstofvlakke handhaaf wat tipies van jou omgewing en klimaat is, dan kry jy al die voordele wat koolstof bied,” het hy gesê, “maar jy wil dit nie te hoog hê nie.” Sy aanbevelings vir die maksimum grondkoolstofvlakke onder Suid-Afrikaanse toestande word in Tabel 1 opgesom.
Beginsels van volhoubaarheid
Raath het die belangrikheid van verantwoordelike bemesting en besproeiing bespreek. Hy het begin met die maksimum jaarlikse kunsmistoedienings (Tabel 2). “Jou oogmerk moet wees om minder as dit te bemes – nie meer nie,” het Raath gesê. “As jy meer stikstof as dit gee, is jy besig om geld te mors en die omgewing te beskadig. Dieselfde geld vir fosfate.”
Soos reeds genoem, sal organiese materiaal in die grond met natuurlike stikstofvrystelling gepaard gaan, wat die behoefte vir kunsmatige stikstoftoevoeging wesenlik kan verminder. Onverantwoordelike besproeiing skep ook probleme, insluitende versuiping, verbrakking, loging, erosie en verdigting. “Ek weet nie van ’n tafeldruifboer wat onderbesproei nie,” was Raath se opmerking, “maar ek weet van baie wat oorbesproei, ten spyte daarvan dat hulle grondvog meet en profielgate grawe.”
Grondbedekking is ’n verdere beginsel van volhoubare grondbestuur. Dit verhoed verdigting en erosie, verbeter waterinfiltrasie, verminder waterafloop en onderdruk onkruid. Dekgewasse is uitstekende grondbedekking, veral in winterreënvalstreke, maar deklae is ook effektief. Selfs snoeilote kan vir ’n deklaag gebruik word. Ter afsluiting het Raath regeneratiewe boerdery bespreek. Die ses beginsels van regeneratiewe boerdery is: verstaan die plaaskonteks, minimaliseer grondversteuring, maksimaliseer gewasdiversiteit, bedek die grond, handhaaf deurlopend lewende wortels, en integreer diere.
Raath se argument is dat meeste tafeldruifprodusente se standaardpraktyke alreeds regeneratief is. Byvoorbeeld, deur ’n dekgewas te saai of vuilbewerking te beoefen, word grondversteuring verminder, gewasdiversiteit verhoog, die grond bedek en lewende wortels gehandhaaf, als binne die konteks van die plaas. Dus spreek die dekgewas vyf van die ses regeneratiewe beginsels aan. Alvorens Raath kwalifiseer die standaard goeie boerderypraktyke wat suksesvolle Suid-Afrikaanse produsente tipies beoefen reeds as regeneratief. Om hierdie rede dink hy dat ons produsente nie vir kampvegters van regeneratiewe landbou in Amerika en Europa hoef terug te staan nie.
“Meeste van julle kan deur net verantwoordelik te boer, ’n rede hê om te spog,” het hy die gehoor herinner. “Dis hoekom Suid-Afrikaanse boere leiers in die wêreld is.”
Related Posts
The basics of bio-control
Biological control – better known as biocontrol – leverages natural processes such as biostimulants and predation to manage pests and diseases. A recent talk by applied entomologist Dr Francois Bekker of the Department of Conservation Biology and Entomology at Stellenbosch University focused on biocontrol based on pathogens, parasitoids and predators.
Onderdruk etileen voor oes vir beter naoesresultate
Etileen is ’n planthormoon wat vrugrypwording, blomopening, en blaarval bevorder. In kern- en meeste steenvrugte dryf etileen die formasie van meer etileen. Selfs klein hoeveelhede etileen kan dus rypwording inisieer. Gevolglik is etileenonderdrukking een van die maniere waarmee naoeskwaliteit langer gehandhaaf kan word.



