
Onderdruk etileen voor oes vir beter naoesresultate
Deskundiges verduidelik twee opsies wat produsente kan gebruik om oesrypheid te bestuur.
Deur Anna Mouton
Etileen is ’n planthormoon wat vrugrypwording, blomopening, en blaarval bevorder. In kern- en meeste steenvrugte dryf etileen die formasie van meer etileen. Selfs klein hoeveelhede etileen kan dus rypwording inisieer. Gevolglik is etileenonderdrukking een van die maniere waarmee naoeskwaliteit langer gehandhaaf kan word.
Die aanwending van 1-MCP (1-metielsiklopropeen) binne sewe dae na oes word algemeen gebruik om etileen te onderdruk. Daar is egter ook voor-oes- opsies om etileen te onderdruk, soos em. prof. Karen Theron van die Departement Hortologie aan Universiteit Stellenbosch en dr. Ian Crouch van ExperiCo Agri-Research Solutions by ’n Hortgro Naoessimposium uiteengesit het.
Read MoreVoorkom etileenvorming met AVG
Plante maak etileen van die aminosuur metionien deur middel van ’n proses wat ACC (1-aminosiklopropaan-1-karboksielsuur) as ’n tussenganger insluit. Die ensiem ACC-sintase reguleer ACC produksie en daardeur die tempo van etileenvorming.
Die aanwending van AVG (aminoetoksivinielglikolol) blok AAC-sintase. AVG is beskikbaar as ’n kommersiële formulering wat vir gebruik in appels, pruime, perskes en nektariens geregistreer is. “Dit is uiters belangrik om te verstaan dat AVG etileenproduksie blok, maar dit verhoed nie die werking van etileen nie,” het Theron beklemtoon. “As etileen eers gevorm het, sal jy geen effek met AVG kry nie.”
Sy het verduidelik dat die plant se reaksie op AVG afhang van die kultivar, die dosis, en die tyd van aanwending. Kultivars soos Royal Gala en Bigbucks wat van nature baie etileen produseer, reageer gewoonlik goed op etileenonderdrukkers. Kultivars soos Granny Smith en Fuji wat min etileen produseer, reageer minder goed. Meeste kultivars is iewers in die middel.
Studies wat by Michigan State University op Gala gedoen is, het gewys dat AVG- toediening teen laer as die aanbevole dosis weinig effek het, terwyl twee toedienings teen die aanbevole dosis die etileenproduksie byna heeltemal onderdruk het. Die koste van ’n tweede toediening is egter waarskynlik groter as die voordeel wat dit bied.
Dit is noodsaaklik om AVG op die korrekte tyd aan te wend. “Dit moet gebruik word voordat etileenproduksie begin,” het Theron gesê. “In steenvrugte is dit sewe tot 14 dae voor jou hoofpluk.” Produsente moet in gedagte hou dat die eerste groot pluk dalk die tweede pluk mag wees, in welke geval hulle die AVG na die eerste, kleiner pluk moet toedien. Die aanbevole tyd en dosis vir appels hang van die kultivar af. Daar is meer besonderhede in Theron se voorlegging, wat op die Hortgro YouTube-kanaal beskikbaar is. Goeie spuitbedekking is belangrik, maar volgens Theron is die omgewingstoestande nóg belangriker, aangesien AVG swak opgeneem word. Windstil dae met hoë relatiewe humiditeit is gunstig – windstil oggende tussen 04h00 en 06h00 nóg meer. Opname kan verbeter word deur die bome 24–48 uur na die AVG-aanwending met skoon water te benat.
Blok etileenwerking met 1-MCP
Waar AVG etileenvorming verhoed, blok 1-MCP etileenreseptore. “Dit bind aan die reseptore en sluit hulle,” het Crouch gesê. “Dit verhoed dat die vrug op die etileen reageer totdat nuwe etileenreseptore gevorm het.”
Deur etileenreseptore te blok word verdere etileenproduksie gestop. Vlakke bly dus te laag om rypwording te inisieer. Crouch het data aangebied van die etileenvlakke met en sonder voor-oes-1-MCP in verskillende peerkultivars.
In kultivars soos Abate Fetel wat min etileen produseer, het 1-MCP die interne etileenvlakke van 8.4 dpm na 0.6 dpm verlaag. In kultivars soos Packham’s Triumph wat baie etileen produseer, het die 1-MCP die etileenvlakke van 156 dpm na 0.7 dpm verlaag. Appels toon ’n soortgelyke reaksie.
“Voor-oes-1-MCP kan op twee maniere gebruik word,” het Crouch gesê. “Om die oes te bestuur, wend dit twee tot drie weke voor oes aan. Of gebruik dit as ’n noodmaatreël in ’n krisis, byvoorbeeld as jy nie genoeg plukkers het nie.”
Vir oesbestuur in appels raai Crouch produsente aan om rypheid te begin monitor vanaf ten minste vier weke voor hulle verwagte oesdatums en om 1-MCP aan te wend wanneer die vrugte 5%–10% styselafbraak bereik. “Jy wil dit vroeg doen,” het hy gewaarsku, “voor daai trein weghardloop.”
Crouch het daarop gewys dat vertraging van die oes die risiko van sonbrand en insekskade verhoog. Benewens dit, was die uitpakke van appels en pere wat sewe tot 14 dae voor oes met 1-MCP behandel was, soortgelyk aan onbehandelde vrugte wat op hulle normale tyd geoes is. In ’n proef met Brookfield Gala het onbehandelde appels wat op hulle normale tyd geoes was, ’n 95% Klas 1-uitpak gehad, terwyl vrugte wat met 1-MCP behandel is en 14 dae later geoes was, ’n 93.5% Klas 1-uitpak gehad het. Geen vrugte wat 14 dae later geoes is, maar nie met 1-MCP behandel was nie, het in ’n Klas 1-karton beland nie.
Die voordele opgesom
Etileenonderdrukking vertraag styselafbraak en verlies aan fermheid. Theron het data oor die effek van AVG in Bigbucks aangebied wat gewys het dat aanwending 21 dae voor oes die styselafbraak betekenisvol verminder het in vergelyking met ’n onbehandelde kontrole.
“Jy kan dit gebruik om rypheid terug te hou, om te verseker dat jy nie in logistiese probleme inhardloop nie,” het Theron gesê. AVG toediening 21 dae voor oes sal die hele oes vertraag, terwyl toediening sewe dae voor oes die tweede en derde plukke sal teiken.
Volgens Crouch sal die voor-oestoediening van 1-MCP styselafbraak vertraag en fermheid behou in vrugte wat minder of meer ryp is. Voor-oes-1-MCP sal ook die effektiwiteit van naoes-1-MCP verhoog deur etileenvlakke in die behandelingskamers te verlaag.
Voor-oes-1-MCP sal ook die effektiwiteit van naoes-1-MCP verhoog.
Hy het bygevoeg dat 1-MCP selfs gebruik kan word wanneer vrugte in die boord begin val. “Dit sal die proses briek,” het hy gesê.
Beide Crouch en Theron het berig dat voor-oes-etileenonderdrukkers sal help om groter vrugte te kry, aangesien produsente hulle vrugte langer kan laat hang, wat meer tyd laat vir groei. Groter vrugte kan ’n goeie of ’n slegte ding wees. Groter Packham’s Triumph-pere is byvoorbeeld geneig om knoetserig te raak.
Voor-oes-etileenonderdrukkers sal oor die algemeen die behoud van groen kleur in kultivars soos Granny Smith en Golden Delicious verbeter maar kan rooi kleurontwikkeling in bloskultivars demp. “Jy moet dit óf aanwend wanneer die vrugte nog genoeg tyd het om die blos te ontwikkel, óf, as jy dit vir risikobestuur naby aan oes doen, moet die vrugte voldoende blos hê om plukgereed te wees,” het Crouch gesê.
Daarby sal AVG op steenvrugte sagte punte verminder, en AVG en voor-oes-1-MCP sal help om vetterigheid en oppervlakkige brandvlek in vatbare appelkultivars soos Granny Smith te beheer.
Related Posts
Wees verstandig omtrent volhoubare grondbestuur
“As mens omsien na jou grond se welsyn dan is die natuurlike uitvloeisel dat die produktiwiteit van die grond sal verbeter,” het grondkundige dr. Pieter Raath by die 2025 SATI Table Talk in Paarl gesê. “En dit dra by tot ’n goeie omgewing vir ons en ons nageslag om in te lewe.”
The basics of bio-control
Biological control – better known as biocontrol – leverages natural processes such as biostimulants and predation to manage pests and diseases. A recent talk by applied entomologist Dr Francois Bekker of the Department of Conservation Biology and Entomology at Stellenbosch University focused on biocontrol based on pathogens, parasitoids and predators.

