Ontwerp boorde wat eenvoudig, nou, toeganklik, produktief en blywend is.
Deur Anna Mouton
“Boordstelsels gaan nie oor wat ons tans weet nie,” het hortologiese konsultant Craig Hornblow gesê. “Elke keer wat ons ’n boom plant, plant ons met die geloof dat dit vir die volgende 20 jaar daar gaan wees. Ons moet dus aan ons toekomstige behoeftes dink.” Hornblow was een van die sprekers by Hortgro se 2024 Tegniese Simposium. Hy is ’n stigterslid van AgFirst in Nieu-Seeland, het bykans vier dekades se ervaring in hortologie en spesialiseer in hoë-digtheidappelboorde. Grond en arbeid is duur in Nieu-Seeland, en plase vergroot. Produsente moet dus groter areas en meer mense bestuur. “Die dae is verby toe jy elke boom geken het, en kon onthou hoe jy dit verlede jaar gesnoei het,” het Hornblow gesê. Soos SA s’n, is Nieu-Seeland se appelproduksie op uitvoere gemik, en hul markte is vier tot ses weke weg. “Ons moet hoë-kwaliteit vrugte produseer,” het Hornblow gesê. “Ons teiken moet lonende vrugte wees – die boonste kwart van produsente is dié wat fokus op vrugte wat geld maak.” Hy het sy raamwerk vir boordontwerp verduidelik: boorde moet eenvoudig, nou, toeganklik, produktief, en blywend wees.
Read MoreEenvoudig
“Ons moet die boomgroei en -vorm in ag neem wanneer ons boorde ontwikkel,” het Hornblow gesê. “Hoe wil ons hê die boom moet oor drie tot vyf jaar lyk?” Eenvoudige bome laat gefokusde en objektiewe bestuur toe. “Ons moet beweeg van driedimensionele na tweedimensionele bome,” het hy beklemtoon. “Ons moet absoluut in terme van tweedimensionele blaardakke dink.” Hy het verskeie opsies vir tweedimensionele blaardakke opgenoem. Een is die formele horisontale stelsel wat in die Nieu-Seelandse Plant and Food Research se FOPS (Future Orchard Production System) navorsingsprogram ontwikkel is. Produsente kan ook ’n multi-leierstelsel kies. “Die stelsels kan formeel of informeel wees,” het Hornblow gesê. “Daar’s ’n groot debat hieroor, want daar is kostes aan die opleiding van takke in formele stelsels verbonde. Maar formele tweedimensionele stelsels is my realiteit – dis ’n baie sistematiese, eenvoudige benadering om ’n nou blaredak te ontwikkel.”
Nou
Nou blaredakke verbeter ligdistribusie en fasiliteer meganisasie. “In baie van die stelsels waarmee ek werk, is die lower slegs 20–30 sentimeter diep aan ’n kant,” het Hornblow gesê. Hy het ’n foto gewys wat in die middel van die seisoen van ’n 11-jaar-oue boord geneem is. Die maksimum wydte van die bome is slegs 35–40 sentimeter. Hornblow het die belangrikheid van vensters om ligverspreiding deur die blaredak toe te laat uitgewys. In formele stelsels is vensters tussen horisontale takke wat op drade opgelei is maklik om te onderhou. “Die vensters is byna ingebou,” het hy gesê. In informele stelsels is die struktuur egter meer onreëlmatig, so produsente moet reëls skep om hout te bestuur en vensters te onderhou. Hornblow het gewaarsku dat blaredakke nie toegelaat moet word om té dig te raak nie, sodat vensters toegroei wanneer hoë opbrengste in formele of informele stelsels nagejaag word. Intervensies soos blarebreek kan ook help om blaredakke oop te hou. Nou blaredakke is geskik vir aksies soos blarebreek en meganiese snoei. Beide kan ligblootstelling en rooi kleurontwikkeling kort voor oes bevorder.
Toeganklikheid
“Wanneer jy platforms gebruik en mense bestuur wil jy nie ’n boom hê wat meer as ’n armlengte diep is nie,” het Hornblow gesê. “Andersins moet mense om en in die boom rondbeweeg. So ons moet dink aan toeganklikheid in terme van ons arbeidsproduktiwiteit.” Hy het beskryf hoe Nieu-Seelandse produsente platforms opgeneem het nadat die COVID-19 pandemie ’n tekort aan arbeid veroorsaak het. Platforms kan arbeidsproduktiwiteit beter in nou blaredakke verhoog. Arbeidsproduktiwiteit gaan nie net oor kostes nie, het Hornblow verduidelik. As produsente slegs een of twee kultivars plant sal hulle pieke in arbeid benodig, en baie effektief moet oes. Daar is ook heelwat boordpraktyke, soos hand-uitdun en oes, wat fisies veeleisend is. “Ons sien beslis ’n verbetering in plukkers se produktiwiteit in ons tweedimensionele boorde as gevolg van die posisie en toeganklikheid van die vrugte,” het Hornblow gesê. “Wanneer die plukkers op die trap klim, weet hulle reeds watter appel hulle gaan pluk, want hulle kan dit sien.” Daarby sal arbeidsvriendelike blaredakke ook gereed wees vir digitale en meganiese tegnologie soos wat dit beskikbaar raak.
Produktiwiteit
Hornblow het die kilometers vrugdraende hout per hektaar vir verskillende boordstelsels gekonstrasteer: 20–35 vir driedimensionele bome teenoor 42 vir FOPS- of V-stelsels. Dit behoort dus moontlik te wees om 90–110 ton vrugte per hektaar op FOPS- of V-stelsels te produseer, aangesien hulle gemiddeld 2.7 kg vrugte per meter dra. “Ons het hierdie jaar ’n maksimum van net meer as 135 ton op kultivars met groot vrugte met sommige V-stelsels bereik,” het Hornblow gesê. “Daar is een van ons twee-dimensionele boorde wat amper 100 ton hierdie jaar gehaal het.” Alhoewel hoë jaarlikse opbrengste saak maak, het Hornblow die noodsaaklikheid van vroeë opbrengste vir boordwinsgewendheid benadruk. “Ons spandeer baie geld. Ons kan nie wag tot jaar 10 om hierdie magiese maksimum opbrengs te kry nie,” het hy gesê. “Ons het goeie vroeë produksies nodig.”
Blywend
Produsente moet verwag dat elke boord 20–30 jaar gaan hou, reken Hornblow. Onderstamkeuse moet die moontlike siektedruk en omgewingstoestande wat die oorlewing van bome kan beïnvloed in ag neem, veral aangesien onderstamme dalk na ander kultivars oorgewerk kan word. “Soms sal die onderstam, die opleistelsel en die nette twee of drie bostamme oorleef,” het Hornblow gesê. “So ons moet aan al daardie aspekte dink om ’n boord te skep wat sal bly staan.” Hy het die gehoor herinner dat ’n boord wat vandag teen 4 x 1.2 meter geplant word dalk oor 15 jaar tegnologies irrelevant sal wees. Die uitdaging is om te verstaan watter boordstelsels hulle waarde oor tyd sal behou en watter vroeg al verouderd sal wees. Hornblow se raamwerk is nuttig om die belangrike langtermyn besluit oor ’n boordstelsel te neem. Hy erken egter dat daar ’n addisionele faktor is wat die sukses van enige boord bepaal. “Wanneer jy deur die wêreld reis en na boordstelsels kyk, ontdek jy dat almal ’n opinie het – produsente kan vir drie dae in ’n boord staan en die beste snoeitegnieke debatteer,” het hy geskerts. “Maar aan die einde van die dag is die beste boordstelsel die een waarin die boordbestuurder glo.” Hornblow se Hortgro Tegniese Simposium praatjie is op die Hortgro YouTube-kanaal beskikbaar.