
Hoe reageer tafeldruiwe op klimaatsveranderinge?
Nuwe navorsingsresultate dui daarop dat tafeldruif-produksie onder warmer en droër toestande steeds volhoubaar sal wees.
Deur Anna Mouton
Wingerdkundige dr. Janéne Strydom van die LNR Infruitec-Nietvoorbij het onlangs ’n SATI-befondsde projek voltooi waarin sy verskillende besproeiingsbehandelings in wingerde met en sonder oorhoofse plastiek getoets het.
“Die weerpatrone in die areas waar mense met tafeldruiwe boer is besig om te verander,” sê Strydom. “Die doel van hierdie projek was om te kyk hoe wingerdstokke op verskillende klimaatskondisies reageer.”
Aangesien sy nie die weer kan beheer nie het Strydom verskillende besproeiings-behandelings gebruik om droogtetoestande te simuleer. Sy het die mikroklimaat met plastiekbedekking verander.
“Ons wou kyk wat gaan gebeur as ons byvoorbeeld skielik vir vyf jaar minder reënval kry en minder besproeiingswater word geallokeer,” verduidelik sy. “Of as daar byvoorbeeld drie baie warm somers na mekaar is.”
Die belangrikste boodskap wat Strydom aan tafeldruifprodusente wil oordra is dat dit moontlik is om suksesvol te boer met minder water.
“Ons het gesien dat as jy 20% minder water gee is die groei en prestasie van die plant nie betekenisvol swakker as die kontrolebehandeling in die oop proef nie,” sê sy. “Onder die plastiek was 30% minder water nie betekenisvol swakker as die kontrolebehandeling nie.”
Wat het die proewe behels?
Strydom het die navorsing in ’n voldraende kommersiële Crimson Seedless-wingerd op Ramsey in die Breederiviervallei gedoen. Die blok het mikrospuitbesproeiing gehad en die grond was oorwegend ’n klipperige leemsand.
Die projek het vir vier seisoene geduur en daar was vier besproeiingsbehandelings. Die 100% behandeling – die kontrole – was die standaardskedulering wat die produsent volgens die evapotranspirasie en gewasfaktor toegepas het. Die ander behandelings was 80, 70 en 55% van die kontrole.
Vir twee van die vier seisoene het Strydom ’n gedeelte van die wingerd met oorhoofse plastiek bedek. Die plastiek was geweefde polipropileenstroke wat ongeveer een meter bo die stokke aan drade geheg is. Dit is in beide seisoene in November na bot en tros-inisiasie opgesit en in die daaropvolgende Mei verwyder.
Strydom het bepaal dat die plastiek gemiddeld 80% van die sonlig in die eerste seisoen en 70% in die tweede seisoen deurgelaat het.
Gedurende die groeiseisoene het Strydom onder andere die besproeiingsvolumes, grondvoginhoud, temperatuur, humiditeit, fotosintese, transpirasie, en groei van die stokke gemeet. Sy het die ontwikkeling van trosse gemoniteer en vrugte op verskillende rypheidstadiums (± 14.4 °Brix, ± 16.0 °Brix en ± 17.6 °Brix) geoes.
Na oes is ’n monster van die vrugte dadelik geweeg, gemeet en later ontleed, onder andere vir suikers, sure, vlugtige stowwe, planthormone, en fenole.
’n Verdere monster is verpak en vir óf vier óf agt weke by minus 1 °C opgeberg, gevolg deur ’n week by 7.5 °C, waarna die vrugte vir naoesdefekte ondersoek is.
Plantfisiologie met en sonder plastiek
In Strydom se proewe het stokke onder plastiek minder waterstres as onbedekte stokke gewys. Die oop stokke het oor die algemeen stadiger gefotosinteer en getranspireer en ’n laer stamwaterpotensiaal as dié onder plastiek gehad.
Haar resultate stryk met ander navorsing wat gevind het dat verminderde watervoorsiening die tempo van fotosintese, transpirasie, en huidmondjie-konduktiwiteit verlaag.
Verminderde besproeiing lei tot laer grondvog. Wanneer grondvog verminder, beperk plante hulle waterverliese deur hul huidmondjies toe te maak om transpirasie te rem. Daarmee saam verlaag die opname van CO2 en dus fotosintese.
Die grondvoginhoud was oor die algemeen – maar veral in die tydperk tot en met deurslaan – hoër onder die plastiek as in die oop behandelings. Die hoër grondvoginhoud het waarskynlik die stokke onder plastiek toegelaat om hulle huidmondjies oper te hou.
“Daar was ’n verband tussen die grondwaterinhoud en die fotosintese,” sê Strydom. “Hoe hoër die grondwaterinhoud was, hoe hoër was die fotosintese.”
Beide die bedekte en onbedekte stokke het gemiddeld minder vegetatiewe groei met die 55 en 70% besproeiingsbehandelings as die 80 en 100% behandelings getoon. Die stokke onder plastiek het vir die 55, 70 en 80% behandelings meer vegetatiewe groei as die ooreenstemmende onbedekte stokke gehad.
Die 70% behandeling onder plastiek en die 80% behandeling in die onbedekte stokke het nie ’n beduidende effek op opbrengste gehad nie. Inteendeel, die matige vermindering in besproeiing het geblyk om die stokke tot meer effektiewe waterverbruik aan te spoor.
Verminderde besproeiing het wel fermheid na opberging verlaag. Die nadelige uitwerking van verminderde besproeiing op fermheid was meer prominent vir minder ryp vrugte.
Mikroklimaat en waterverbruik
“Ons het gedink die waterverbruik onder die plastiek sal meer effektief wees as in die oop proewe,” sê Strydom, “maar dit was nie, behalwe in die heel laagste behandeling – die 55% – waar die stokke die water baie ekonomies gebruik het.”
Omdat die plante onder plastiek toegang tot meer grondvog het, beweeg daar meer water deur die stokke en elkeen gebruik dus meer water. Daar is egter minder verdampingsverliese uit die grond en daarom kon stokke onder plastiek hul opbrengs met minder besproeiing as onbedekte stokke handhaaf.
Behalwe vir die effek op grondvoginhoud het die plastiek ook die mikroklimaat op ander maniere gewysig. “Ons het bepaal dat die plastiek die klimaatsomgewing meer homogeen maak,” sê Strydom. “Die temperatuur en die humiditeit varieer minder binne die spasie waar die stokke staan.”
Daar is minder lugbeweging en dus weinig wind onder die plastiek, terwyl die oop stokke – en by tye die navorsingspan – heelwat wind op die proefperseel moes trotseer. Die plastiek het egter nie ’n konstante effek op relatiewe humiditeit relatief tot die oop proef gehad nie.
“Die groei onder die plastiek was baie weliger,” sê Strydom. “Die korrels was groter, maar die kleur was minder as gevolg van die lig wat uitgesluit is.”
Vertraagde rypwording en kleurontwikkeling in tafeldruiwe onder plastiek is wel be-kend. Dit was egter interessant dat Strydom minder variasie in naoesdefekte en korreltekstuur na opberging in die vrugte van stokke onder plastiek gevind het.
Haar aanbeveling is dat produsente wat oorhoofse plastiek oorweeg, na dunner plastiek vir reënbeskerming van hulle hoëwaarde-kultivars kyk. Plastiek mag ook tydens droogtetoestande help om verdamping te beperk en grondvog te handhaaf.
Ongeag of produsente plastiek gebruik of nie, is Strydom positief oor die implikasies van haar navorsing. “As jy in ’n situasie is waar jy minder water het of die temperatuur en humiditeit verander, gaan jy nog steeds volhoubaar kan produseer,” sê sy.
Related Posts
Wees verstandig omtrent volhoubare grondbestuur
“As mens omsien na jou grond se welsyn dan is die natuurlike uitvloeisel dat die produktiwiteit van die grond sal verbeter,” het grondkundige dr. Pieter Raath by die 2025 SATI Table Talk in Paarl gesê. “En dit dra by tot ’n goeie omgewing vir ons en ons nageslag om in te lewe.”
The basics of bio-control
Biological control – better known as biocontrol – leverages natural processes such as biostimulants and predation to manage pests and diseases. A recent talk by applied entomologist Dr Francois Bekker of the Department of Conservation Biology and Entomology at Stellenbosch University focused on biocontrol based on pathogens, parasitoids and predators.

