Variasie gee vir meeste produsente hoofbrekens. Die verskillende grondtipes in baie boorde lei tot nie-uniforme groeikrag wat vererger word indien al die bome dieselfde kunsmis ontvang. Grondkundige Louis Reynolds van Fruitful Crop Advice beveel aan dat boorde in kleiner bestuur-areas of sones opgebreek word.
So-doende kan produsente die verskille in boomprestasie mettertyd uitstryk deur elke sone se voedingsprogram en ander insette aan te pas. “Die bome in ’n sone het almal dieselfde blaaroppervlak. So dis baie makliker om ’n snoei- of uitdunresep te gee,” het Reynolds by die Hortgro Tegniese Simposium gesê.
“En aan die einde van die dag is vrugkwaliteit beter, omdat die balans tussen oeslading en groeikrag verbeter.” Die goeie nuus is dat nuwe tegnologie om sonering moontlik te maak vanaf die teorie na kommersiële boorde beweeg het. Reynolds het werklike gevalle gebruik om die onderliggende beginsels van sonering te illustreer.
Hommeltuie en stikstof
Die hommeltuigmodel was die eerste soneringsbenadering wat Reynolds aangebied het. “Ons vlieg eenmalig met die hommeltuig in Januarie, dieselfde tyd as wat ons blaarmonsters neem,” het hy gesê. “Ons gebruik die hommeltuigbeelde wanneer ons die eerste naoesstikstof in Februarie of Maart gee, asook vir die lente-stikstofbemesting in Oktober of November.”
Reynolds baseer die stikstoftoediening op die blaredak-area wat vanaf die hommeltuig se 0.05 x 0.05-meterresolusie boordbeeld bereken word. Hy verduidelik dat die blaredak-area ’n betroubare maatstaf vir groeikrag is. “Blaredak-area gee vir ons die totale groei vir die seisoen, omdat ons dit in Januarie meet,” het hy gesê. “Meeste kernvrugbome hou teen einde Desember op groei, so die hommeltuigbeeld gee vir ons ’n eindprentjie.” Die hommeltuig karteer die boord in vyf groeikragsones.
Reynolds en die produksiebestuurder bevestig die hommeltuigresultate deur visuele beoordeling in die boord. Deur die hommeltuiggegenereerde GPS data en ’n GPS-toegeruste veranderlike kunsmisstrooier te koppel kan Reynolds die stikstoftoediening volgens bome se groeikrag instel.
Die mikpunt is 4 100 m2 blaredak-area per hektaar, gelykstaande aan 2.77 m2 per boom in ’n 4.5 x 1.5-meter aanplanting van 1 481 bome per hektaar. Reynolds het resultate van ’n 4.5 x 1.5-meter Packham’s Triumph-blok in Ceres gedeel om die hommeltuigmodel in aksie te demonstreer. Die hommeltuigdata van 2022 het ’n gemiddelde blaredak-area van 3.23 m2 met 20% variasie in die blok gewys. Dit het teen 2024 na 2.94 m2 met 14% variasie verminder danksy veranderlike stikstof-aanwending.
“Ons gee stikstof volgens groei omdat stikstof direk met groei korreleer,” het Reynolds gesê. “Maar hou in gedagte dat stikstof nie altyd die beperkende faktor is nie. Dit kan natheid of besproeiing of iets anders wees – mens moet na die swakker sones in die blok toe gaan en kyk wat die probleem is.”
Die identifikasie van probleemareas is op sigself ’n voordeel van hommeltuigbeelde. Lees meer op bladsy 34 oor hoe De Rust hierdie tegnologie gebruik. Presiese koördinate van swakker areas kan ook geteikende aanwending van kompos of blaarvoeding fasiliteer. Die hommeltuigmodel het Dutoit Agri in staat gestel om 7% op stikstofkunsmis in hulle Oos-Kaapboorde te spaar. Hulle gebruik ook hommeltuigbeelde en ’n GPS-toegeruste spuitmasjien om plantgroeireguleerders toe te dien.
Satelliete en vierwielmotorfietse
Reynolds se tweede metode om variasie te verminder behels die kombinasie van satellietbeelde met vrugtellings. Vrugtellings word met behulp van ’n kamera op ’n vierwielmotorfiets bepaal.
Daarenteen wys die satellietbeelde die genormaliseerde indeks van die verskil in plantegroei (normalised difference vegetation index of NDVI).
Die NDVI word van lesings van gereflekteerde sigbare en na-infrarooi-lig bereken. Gesonde plante absorbeer meestal sigbare maar nie na-infrarooi-lig nie. Die verhouding tussen die gereflekteerde sigbare en na-infrarooi-lig korreleer dus met die hoeveelheid plantegroei.
Reynolds gebruik 0.8 x 0.8-meterresolusie NDVI-beelde wat in Januarie op dieselfde tyd as die blaarmonsters geneem word. “Met NDVI-beelde moet ons elke sone valideer,” het Reynolds gesê. “Dit beteken voete in die boord. Dis ’n nadeel van NDVI omdat dit tydrowend is en elke jaar vir elke blok en sone herhaal moet word.”
Vrugtellings wat op 35-mm vruggrootte gedoen word, verskaf ’n oesskattingkaart. Reynolds het uitgewys dat die oesdata wat deur stropers versamel word die revolusie in presisielandbou van eenjarige gewasse ondersteun het. “’n Oesskattingkaart vir ’n boord is ’n stap in die regte rigting,” het hy gesê.
Stiktof-aanwending in die lente word deur die Januarie-satellietbeelde beïnvloed. “Vir die naoesstikstof-aanwendings integreer ons die opbrengskaart met die NDVI-beeld,” het Reynolds verder gesê. “Ons probeer om die kaarte van oeslading en groeikrag te kombineer sodat ons een kaart vir die naoesbemesting het.”
Optimale boomvoeding
Appelbome benodig ongeveer 1.8 kg kalium per ton vrugte. Reynolds hou 20–30% van die boord se allokasie terug vir ’n Januarie-aanwending wat volgens die opbrengs van verskillende sones aangepas word. Hy het ’n voorbeeld van ’n 2.9-hektaar Rosy Glow-boord aangebied. Die variasie tussen die sones met die hoogste en laagste opbrengs was 51–102 ton per hektaar.
“Ons gee die kalium in die sones wat meer vrugte lewer as wat ons begroot het,” het hy gesê. “Dit help met vruggrootte.” Reynolds het ook die boord se geïntegreerde NDVI- en opbrengskaarte gewys, wat die naoesstikstof-aanwending beïnvloed. Die stikstofbehoefte van elke sone word eers volgens opbrengs bepaal en dan volgens groeikrag aangepas.
Die resultaat is dat die sone wat 51 ton per hektaar gelewer het, 100% van die naoes- stikstof – 59 kg per hektaar – ontvang het soos vanaf die opbrengs bereken, omdat die groeikrag swak was. Die sone wat 102 ton per hektaar gelewer het, was egter te groeikragtig. Alhoewel die bome volgens hulle opbrengs 87 kg per hektaar stikstof behoort te kry, kry hulle gegrond op groeikrag niks nie.
Reynolds se boodskap was dat tegnologie boord-eenvormigheid kan verbeter deur veranderlike toediening van kunsmis, kalk, kompos, en spuit-aanwendings moontlik te maak. Daarby kan oesskattingkaarte help met meer effektiewe toedeling van arbeid vir hand-uitdunning, asook beter oesskatting en -beplanning, en besluite oor die opberg en bemarking van vrugte.
Hy gee toe dat presisieboerdery kapitaal verg, maar Reynolds glo die voordele regverdig die kostes. “As jou boorde meer uniform is, gaan jou vrugte langer en beter stoor,” het hy afgesluit. “En jy gaan makliker boer.”
Hierdie artikel is gebaseer op ’n voorlegging by die 2024 Hortgro Tegniese Simposium.