Die aanplant of herplant van ’n wingerd is ’n groot en langtermynbelegging. Deur Trix Quixley
Die voorplantvoorbereiding en regstellings wat gedoen word het ’n direkte invloed op die vestigingspersentasie, wortelontwikkeling en algemene gesondheid en welstand van die stokke se hele leeftyd.
Grondvoorbereiding voor plant
Grondmonsterneming moet voor vestiging gedoen word, hoofsaaklik om fisiese en chemiese beperkings in die grond te bepaal en reg te stel. Grondmonsters kan op twee maniere geneem word – met of sonder grondopnames.
Wanneer grondopnames gemaak word, sal ’n grondkundige ’n gedetailleerde kaart opstel wat grondtipes of bestuurssones groepeer nadat grondprofielgate gemaak is, volgens ’n roosterpatroon (grid). Hierdie groepe staan bekend as ameliorantblokke.
Read MoreIndien die ameliorantblokke nie vooraf bepaal is nie, kan grondmonsters op so ’n manier geneem word sodat dit sinvolle bestuurseenhede vorm. Byvoorbeeld, areas wat ooglopend verskil ten opsigte van die voorkoms van die grond, gronddiepte of plantegroei, sal apart gemonster word.
Bo- (0 – 30 cm) en ondergrond (30 – 80 cm) moet apart gemonster en ontleed word om ’n optimale aanbeveling te kan kry vir die chemiese regstelling van die grond voor plant. Al die grondmonsters van elke diepte en ameliorantblokke/bestuurseenhede word saamgevoeg en word goed gemeng om ’n saamgestelde monster te kry.
Ongeveer 1 kg van hierdie saamgestelde monster kan dan na die laboratorium gestuur word vir ontleding. Om te verseker dat ’n geloofwaardige ontleding verkry word, moet ’n gesertifiseerde laboratorium gebruik word. Dit is altyd goed om dieselfde laboratorium te gebruik sodat daar ’n geskiedenis van die blokke se grondontledings opgebou word.
Laboratoriums se ontledingsmetodes mag verskil, daarom kan daar verwag word dat ontledings gedoen deur verskillende laboratoriums, effens van mekaar kan verskil. Dus, is dit wys om dieselfde laboratorium jaar na jaar te gebruik.
Die profielgate wat gemaak is vir die neem van die grondmonsters, moet ook gebruik word om te evalueer of daar enige beperkende lae – fisies of chemiese – voorkom en watter aksies gevolg moet word om dit te bestuur. Fisiese beperkings kan met meganiese intervensie bestuur word. Terwyl chemiese beperkings met bemestingstowwe en ander hulpmiddels bestuur kan word.
Naoesmonsterneming en bemesting
Grondmonsters behoort op ’n siklus van drie jaar geneem te word in gevestigde wingerde. In blokke met gronde waar hoë loging plaasvind, bv. baie sanderige gronde, moet die siklus verkort word na tweejaarliks. Hierdie monsters moet verkieslik op min of meer dieselfde plek in die blok geneem word.
Monsterdieptes moet ook dieselfde wees as met die vorige siklus. Aangesien die meeste voedingswortels ’n diepte van 40 tot 60 cm bereik, sal monsterneming tot op hierdie diepte voldoende wees.
Deur hierdie riglyne te volg, word ’n geskiedenis van die blok opgebou wat gebruik kan word om te sien hoe die plante en/of grond reageer op sekere aksies. Indien daar ’n area in die blok is wat swakker groei, moet aparte monsters daar geneem word. Monsters moet altyd in die wortelsone geneem word en nie in die werksry nie. Indien die grond opgeërd is, word die monster op die bankie geneem.
Naoesgrondmonsters moet geneem word voor die naoesbemestingstoedienings gedoen word. Indien monsterneming daarna gaan geskied, sal die ontleding nie die werklike toestand van die grond weerspieël nie.
Indien ’n kalkregstelling moet plaasvind, moet dit voor of tydens die winter gedoen word (in die winterreënstreke) of op die laatste, (vir die winterreënstreke) saam met die laaste groot besproeiing voor die winter. Kalk is nie baie beweeglik in die grond nie, daarom is maksimale hoeveelhede water nodig om dit in die grond te laat reageer.
Blaarontledings ná oes word nie aanbeveel nie aangesien die blare teen daardie tyd al te oud is. Die beste tyd om blare of blaarstele te laat ontleed, is tydens vrugset – die periode vanaf einde blom tot klein ertjiekorrel.