Forelle vertel hulle storie
In die Warm Bokkeveld lewer eeu-oue Forelle-bome uit die vormingsjare van ons vrugtebedryf steeds elke jaar getrou hulle oes. Deur Anna Mouton
Daar is vele Metusalems onder Suid-Afrikaanse peerbome, maar dié is nietemin spesiaal. Hulle deel hul geskiedenis met bedryfsvaders soos Harry Pickstone, Piet Kalifornië, en Petrus Malan Cillié. Vyfde-generasie vrugteprodusent Malan Cillié is tans die bewaarder van hierdie historiese boord op die plaas Forelle in Ceres. Hy het met Hortgro gesels oor hul storie en die uitdagings rondom hul bestuur.
Produksiepraktyke vir bejaarde bome
Die 66 oopkelkbome is 7.26 x 7.26 m geplant – dit werk uit op 22 x 22 Kaapse voet, net mooi wat Pickstone in sy 1915 handleiding vir vrugteproduksie aanbeveel het.
Read More"My pa sê altyd die ou mense het nog geloof gehad om bome só wyd te plant," sê Cillié. "Hulle het geglo die bome gaan groot raak en nie doodgaan nie." Deesdae se produsente is meer bekommerd as hulle voorgangers oor bome verloor, ten spyte van moderne plantafstande van 3.5 x 1 m.
Opbrengste in die bejaarde boord is 38 – 45 ton p/ha met 80% – 90% uitpakke en goeie vruggroottes. Rooi kleurontwikkeling verg egter baie snoeiwerk om lig in die reusagtige blaredakke te kry.
Die kompleksiteit van die bome bemoeilik ook bespuitings. "Die winterspuite sit ek als met handstange op," sê Cillié. "Die somerspuite gaan met spuitpompe op, maar ek sit die trekker in sy stadigste rat, so ek spuit eintlik vier keer soveel as in ander blokke. Eintlik moet ek die hele spuitprogram met handstange spuit, maar dan gaan die kostes regtig buitensporig raak."
Daar is geen kruisbestuiwers in die blok nie. Cillié gebruik setspuite op 40% en 60% blom. Vruguitdunning word slegs met die hand gedoen.
Bemesting word bepaal na gelang van ont-ledings, maar volgens Cillié benodig die bome baie min kunsmis.
"Ek dink die hele sisteem van die boom en die grond is net baie langer aan die gang as in nuwe boorde. En met die blare en gras wat elke jaar 'n mulch en kompos maak is die ekosisteem meer natuurlik."
Groei was volgens Cillié nog altyd een van hierdie blok se sterk punte. "Op nuwe bome moet jy 'n snit maak om weer lootgroei te kry, maar op hierdie bome kom nuwe takke sommer enige plek uit."
Hy gee te kenne dat die ou bome as gevolg van die relatiewe lae opbrengs en hoë produksiekoste nie winsgewend is nie. "Ek dink hulle breek maar net gelyk. Maar ek gaan hulle ook nie uittrek nie."
Gevestig in die verre verlede
"Ons dink hierdie blok is geplant om te kyk of Forelle gaan werk hier," sê Cillié. Maar, voeg hy by, niemand weet verseker wie die bome geplant het nie.
Die eerste Cillié wat kommersieel vrugte geproduseer het was Petrus Johannes Cillié, beter bekend as Piet Kalifornië. Hy is in 1856 op die familieplaas Rhebokskloof in Wellington gebore en het in 1883 daar sy eerste plaas gekoop.
Piet Kalifornië het sy bynaam gekry deurdat die regering hom in 1893 na Kalifornië gestuur het om kennis oor vrugteproduksie in te win. Hy het teruggekeer met plantmateriaal en masjinerie en het selfs in 1895 'n skrywe oor vrugtekultivars gepubliseer. Hy het onder andere die eerste kommersiële vye- en olyfboorde in SA gevestig.
Dit is moontlik dat Piet Kalifornië die Forelle-bome op Forelle geplant het, maar dit kon net so wel sy seun, Petrus Malan Cillié – ook bekend as Pieter Cillié – gewees het.
Pieter Cillié is in 1884 gebore en het later op Die Bos in die Warm Bokkeveld geboer. Hy was een van die eerste mense wat vrugte in die Ceres-area geplant het en was in 1922 'n stigtingslid en een van die eerste direkteure van die Ceres Fruit Growers Co-operative Association, wat vandag Ceres Fruit Growers is.
"Hy was my oupagrootjie," verduidelik Malan Cillié. "My oupa was ook Malan gewees, en my pa is Andrew."
Volgens Andrew Cillié is die eerste blok Forelle van groter as 'n hektaar ook op die plaas Forelle geplant – dié bome is nog steeds in produksie.
In Piet Kalifornië se tyd kon mense nog geld maak met 15 ton p/ha, reken Malan Cillié, maar mettertyd moes opbrengste toeneem om kostes te dek. Produsente het begin kruisbestuiwers plant en bye insit, en later het setspuite ontwikkel.
"Die eerste kommersiële Forelle-blok was die eerste blok waarop proewe gedoen is met setspuite," sê Cillié. "Dit was ook die eerste blok waar hulle drade gebruik het – daai scooby-dooby draad wat ons as kinders gekry het – om die takke plat te trek. Vantevore het hulle plankies in die takhoeke gesteek."
Te oordeel aan hulle groeikragtigheid is die ou Forelle waarskynlik op peersaailingonderstamme geplant. Kwepersaailingonderstamme was wel destyds beskikbaar, maar Pickstone se handleiding waarsku dat pere op dwergende onderstamme stadiger in produksie kom.
Piet Kalifornië se Bybel
Om onder die statige ou peerbome te staan is om iets uit die vroegste jare van ons vrugtebedryf te beleef. Cillié vertel hoe die boord destyds met 'n spuittenk – 'n houtbalie – wat deur esels getrek is, gespuit was. Die spuitkar het darem 'n motor gehad om die spuitstof deur 20 – 30 m pype na drievurkhandstange te pomp.
Die ou spuitkar het vir jare by die Cilliés in hulle stoor gestaan, maar die balie het uiteindelik die gees gegee. "Ek vat toe die balie en haal hom uitmekaar," sê Cillié, "en toe maak ek vir my en my broer elkeen 'n koffietafel uit die hout uit, eerder as was dit sê in die stoor staan en verniel."
Water is elke twee weke deur leivore gevoer wat steeds sigbaar is. Te veel water is erger as te min, maan Pickstone se handleiding, maar dit hang als af van grond en klimaat.
Toe die Cilliés De Bos in 1910 gekoop het, was Ceres reeds deur Michellspas met Kaapstad en die Boland verbind. Die pionierboere wat in die vroeë 1700's in die Bokkeveld kom woon het, het aanvanklik geen toegang tot markte gehad nie. Kaapse landmetergeneraal Charles Michell het die gelyknamige pas in 1846 – 1848 voltooi.
Na die opening van Michellspas is 1800 akker – sowat 730 ha – grond uitgelê vir die toekomstige dorp Ceres. In 1873 is die treinspoor na Ceresstasie verleng, wat ongelukkig nie in Ceres self was nie – dit is die hedendaagse Wolseley. Ceres het eers in 1912 sy eie stasie gekry.
Soos die stigting van die Ceres Fruit Growers Co-operative Association aandui, het vrugteproduksie in die Bokkeveld teen die 1920's al soveel uitgebrei dat produsente gesamentlik kwessies soos aankope van verpakkingsmateriaal en sekerheid van verskepingskapasiteit wou beding.
Vandag staan ongeveer 'n derde van Suid-Afrika se appel- en peerbome in die Ceres-area, sowel as byna 20% van ons steenvrugbome, te danke aan die geloof van baanbrekers soos Piet Kalifornië.
"My pa het nog Piet Kalifornië se Bybel," sê Cillié. "Oral in daai Bybel is ingeskryf waar hulle elke Sondag kerk gegaan het, toe hy in Kalifornië was. Dink net, iemand het daai tyd in 'n boot oorgegaan om te leer oor die vrugtebedryf – dis hoe als begin het!"
Die boord is oorspronklik as ’n toetsblok geplant.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…