Nieu-Seelandse appelprodusente verbeter hul winsgewendheid deur middel van beter vrugkwaliteit en -uniformiteit.
Deur Anna Mouton
“Ons doel is die konsekwente produksie van vrugte wat die beste pryse sal behaal,” het Craig Hornblow gesê. Hy is ’n stigterslid van AgFirst en het byna 40 jaar se ervaring in hortologie met ’n spesifieke belangstelling in hoëdigtheidappelboorde.
Die uitdaging is dat vrugkwaliteit en opbrengste beide binne ’n blok en binne individuele bome varieer. Alhoewel ons vermoë om variasie te meet en karteer vinnig besig is om te verbeter, reken Hornblow ons moenie toelaat dat tegnologie ons aandag aftrek nie. “Aan die einde van die dag is my werk om in die kamp te staan en met die jokkie – die boordbestuurder – te gesels oor hoe ons beter resultate kan kry,” het hy gesê.
Meeste produsente is bewus van die variasie wat deur perseelspesifieke faktore soos mikroklimaat en grondtipe veroorsaak word. Meganiese maniere om hierdie verskille uit te stryk sluit veranderlike kunsmisverspreiders en spuitmasjiene in.
Maar Hornblow wil die menslike faktor onderstreep. “Elke werker wat in die boord ingaan en aan ’n boom raak in terme van snoei, pluk, of uitdun, druk hul eie unieke stempel op daai boord af,” het hy gesê. “So hoe kan ons eenvormigheid in daardie proses skep?”
Read MoreSegmentasie
Hornblow het die voorbeeld gebruik van ’n boord wat met 600 000 blomknoppe begin. Die knoppe sal oopgaan in twee miljoen blomme en 800 000 vruggies set wat uitgedun sal word om 400 000 appels te lewer.
Op boomvlak sal ’n werker se teikens tipies wees om te snoei tot 300 knoppe, chemies uit te dun tot 1 500 blomme, en met die hand 500 appels uit te dun sodat daar uiteindelik 200 gepluk word. “Om beter resultate te kry, dink ek ons moet die taak nog verder segmenteer,” het Hornblow gesê. “Ons moet ’n nouer fokus skep om uitvoering te verbeter.” Die konvensionele benadering om ’n ouer tipe spindelboom te snoei sou wees om swak geleë dratakke te verwyder en ou dratakke te hernu.
Hornblow wil eerder die boom tot op takvlak segmenteer. “As ons ’n werker kan leer om daardie 35–40 sentimeter seksie te snoei, kan hulle die hele boom snoei.” Hy het segmentasie in ’n formele tweedimensionele boord bespreek, gegewe die boord is op agt drade opgelei, waarvan 6.5 vol is, om ’n oesskatting van 75% te gee. Segmentasie begin in die vroeë winter met die berekening van blomknopnommers. “Ek kan dan my snoeibenadering uitwerk,” het Hornblow verduidelik. “Ek kan sê, ek wil een knop per agt sentimeter hê sodat ek 400 000 appels per hektaar kry – ek kan 100 hektaar afwentel na die bestuur van ’n agt-sentimeter segment.”
Segmentering kan aangepas word om die oeslading op individuele takke te balanseer en sodoende volgende seisoen se blomknoppe te bestuur en alternasie te vermy. Balansering van die oeslading oor die hele boom bevorder ook vrugeenvormigheid.
Tekstuur
“Die tweede aspek van variasie waarop ek wil fokus is lig,” het Hornblow gesê. “As ons op lig fokus kry ons ’n beter eetervaring – hoër Brix en droëmassa in die vrug. Dit lei tot ’n verbruiker wat tevrede is met die fantastiese vrug wat ons lewer.” Lig is ook noodsaaklik vir rooi kleurontwikkeling.
“’n Produsent het ’n slag vir my gesê, as ek vrugkleur het, het ek opsies by oestyd. Ek kan die vrugte vandag pluk wanneer dit beter druk en houvermoë het, of ek kan wag en ’n bietjie beter vruggrootte kry,” het Hornblow vertel. “Maar as ek nie kleur het nie, moet ek wag terwyl kwaliteit en houvermoë elke dag afdraande gaan.”
Hy het beklemtoon dat meer eenvormige kleurontwikkeling een van die voordele van tweedimensionele boomstrukture is. In driedimensionele boomstrukture verswak vrugkleur en versnel rypwording van bo na onder in die boomry. Dit lei tot die oes van vrugte wat óf swak kleur óf post-optimum rypheid het.
Arbeid is ook meer produktief wanneer appels eenvormig is, omdat 65–80% met die eerste oes gepluk kan word. Hornblow het bespreek hoe ligdistribusie beskryf behoort te word. Eerder as om ’n ligmeter in die boord in te dra, wil hy hê produsente moet lower met die oog beoordeel.
“My taak deesdae is rondom die tekstuur van die lower,” het hy gesê. “Tekstuur is die gevoel, voorkoms, en digtheid van ’n oppervlak of materiaal. Dis ’n vreemde woord in terme van hortologie, maar dit verwys na die vermoë om lig egalig deur die lower te kry.”
Drie reëls
Hornblow beveel dié drie reëls aan vir goeie lowertekstuur:
- “Die eerste een is dat ek drie tot vyf rye deur die boom wil sien,” het hy gesê, “en dat ek vensters in die lower wil behou.” Wanneer die blaredak visueel solied is, verswak dit ligpenetrasie en vrugkwaliteit aan die binnekant. Hornblow meen dat ons soms oorskat hoeveel lower vir vrugontwikkeling nodig is. “Dis verbasend wanneer jy na hierdie bome kyk wat effens te swak is en nie hul spasie vul nie. Baie van hulle produseer die meerderheid van ons teikenvrugte in die boord,” het hy gesê. “Ons produseer heeltemal te veel hout.”
- Sy tweede reël is om 50% skaduwee te handhaaf – of 50% lig, afhangende van jou perspektief. Produsente moet die kwaliteit van die lig wat soggens of namiddae op die grond val, wanneer die son se hoek laag en skaduwees lank is, beoordeel. Digte skaduwees dui daarop dat lig nie deur die hele blaredak beweeg en dus nie vrugte laer af bereik nie. Groot afwisselende kolle lig en skadu is ’n teken dat die ligdistribusie deur die blaredak onegalig is of dat die bome nie hulle spasie vul nie. Die ideale skaduwees is egalig gespikkeld. Hornblow het genoem dat hierdie tekstuur makliker met twee- as driedimensionele boomstrukture bereik kan word.
- Vir diegene wat daarvan hou om tegnies te wees, het Hornblow ’n derde reël: ligvlakke gemeet met ’n ligmeter moet 800–1 000 mikromol per m2 per sekonde wees. “Lig is waaroor ons besigheid gaan,” het hy afgesluit. “Ons oes lig om suikers te maak. As ons genoeg lig deur die hele blaredak vir die grootste deel van die seisoen kan kry, sal ons uitstekende vrugte hê.”
Footnote Hornblow het hierdie voorlegging by die 2024 Hortgro Tegniese Simposium gelewer.
Dit is op die Hortgro YouTube kanaal beskikbaar.
