skip to Main Content
2024 23(5) Safj Hortgro Technical 02 Bronaar 03a
October / November 2020

Bronaar

SA Fruit Journal: October / November 2020

Fuji Royal op M.9 onder nette behaal uitpakke van meer as 90% in tweede en derde blad.

Deur Anna Mouton

Bronaar beslaan ongeveer 250 hektaar appels en pere wat oor vyf aangrensende plase in die Koue Bokkeveld versprei is. Hulle Hortgro-velddagboord op Ribbokskloof is deel van hul eerste M.9 aanplanting. Die 2.42-hektaar blok is in 2021 teen 3.5 x 1.0 meter gevestig.

Die regte begin “Ons het die boompies in Meimaand geplant,” vertel Christo Gagiano, landgoedbestuurder vir vrugte. “Dit was sakboompies – almal verskriklike mooi bome van 1.8–2.0 meter.” Die Fuji Royal-blok het 22 ton per hektaar in tweede blad en 53 in derde blad gelewer. Gagiano skryf die boord se sukses grootliks aan goeie plantmateriaal toe. “As jy met die regte plantmateriaal begin, dan’s dit net soveel makliker,” sê hy. “As jy ’n goeie boom plant moet jy rêrig in daai boom se eerste drie tot vier jaar droogmaak vir die boom om nie te presteer nie.” Gagiano dink SA het ’n groot agterstand met kwekerybome. Hy glo dat produsente nie moet redekawel oor boompryse nie, maar eerder bereid moet wees om vir kwaliteit te betaal. “Ek is nou al 22 jaar op hierdie plaas en ons het altyd rondgespring tussen verskillende kwekerye,” sê hy. “Vandat ons by Cape Sweet is en ’n 1.8–2.2 meter boom kry, het ons geen probleme nie.” Die Fuji-blok is op sanderige grond gevestig wat meer as 15 jaar laas bome op gehad het. Derhalwe het Gagiano besluit om nie die grond te berook nie. Ongeveer 10 m3 kompos is per hektaar met plant toegedien, helfte in die plantgat en helfte aan weerskante van die boompies. Daarna is die boomry met ’n laag houtspaanders bedek. Noudat die bome byna in vierde blad is, het die deklaag afgebreek en Gagiano beplan om dit met kaf te hernu. “Kaf is nie ideaal nie, want jy moet dit elke jaar hernu,” sê hy, “maar op hierdie sanderige gronde is dit maar nodig.”
Read More

Strategiese snoei
Bronaar gebruik selde rusbreek, tensy hulle ’n swak winter – minder as 1 200 koue-eenhede! – het en dan slegs in eerste blad. “Hier was dit nie nodig nie,” sê Gagiano van die velddagboord. “Daai winter was ons oor 1 400 koue-eenhede.” In eerste en tweede blad is daar takke gebuig, maar in tweede blad hoofsaaklik onder in die boom, aangesien die hoër lote sag genoeg was om deur vrugte afgetrek te word. Gagiano het ook Bronaar se konsulterende hortoloog, Piet Nieuwoudt van Fruit Tree Services, se snoeitegniek in eerste blad begin toepas. Vanaf November, sodra die eerste sytakke uitgekom het, evalueer die snoeispan elke boom en identifiseer twee of drie lootjies wat hul dikteverhouding binnekort gaan oorskry. Dié lootjies word na ’n viervinger-tappie teruggesny wat twee of drie nuwe lote behoort te stoot. Drie na vier weke later gaan die snoeispan terug. Indien die nuwe lootgroei op die tappies ook té sterk is, word hulle weer teruggesny. Sagte nuwe groei word gelos. Die span sal ook uitkyk vir té sterk lote wat die eerste snoeislag vrygespring het, en hulle na tappies terugsny. Hierdie proses word twee na drie keer herhaal. Gagiano het vier rye van die Fuji-bome nie volgens Nieuwoudt se metode gesnoei nie, om te vergelyk. “Tydens die seisoen kon jy duidelik sien dat hulle baie geiler is, en meer volume en blare het,” sê hy. Vorentoe is die plan om heeltyd die dra-takke te vernuwe. Enige takke wat óf hulle dikteverhouding oorskry óf vrugbaarheid verloor sal na ’n viervinger-tappie teruggesny word sodat nuwe draers kan ontwikkel. Die tappies is effens langer as gewoonlik omdat Fuji nie altyd betroubaar nuwe breke gee nie.

Dwergend is die toekoms
Die gebruik van hoëdigtheid M.9 het Bronaar in staat gestel om vinniger in produksie te kom danksy die hoër vrugbaarheid en groter aantal leiers per hektaar. Gagiano voorsien dat die hoër digtheidaanplan- tings ook laer produksiekostes sal hê, onder andere, omdat hulle heelwat eenvoudiger en vinniger is om te snoei. “Ons het jare lank van M.9 weggeskram omdat mense gesê het M.9 gaan nie by ons werk nie – ons grond is nie goed genoeg nie,” sê hy. “Ons was veronderstel om te baklei om hierdie bome groot te kry. Nou trek ons die handbriek op en sê hulle moenie so baie groei nie.” Alhoewel Fuji ’n sterk groeier met ’n neiging tot alternasie is, hoop Gagiano dat die velddagboord se prestasie tot dusver ’n teken is dat die bome vorentoe bestendig gaan produseer. Hy reken die knoppe is daar om in die 2024/5-seisoen 70 ton te lewer. “Bronaar het Fuji op ander onderstamme en ons gevoel is jy moenie met Fuji na 100 ton toe gaan nie, want dan kry jy alternering,” sê hy. “Ons sal egter êrens die grense met Fuji op M.9 moet druk om te kyk of ons dalk 90–100 ton jaar op jaar kan kry.” Waar Bronaar in die verlede M.793 en MM.109 teen 4.0 x 1.5 meter geplant het, vestig hulle nou alle nuwe boorde op dwergende onderstamme teen hoër digtheid. Tans gebruik hulle slegs M.9, maar hulle kyk uit vir goeie alternatiewe.

Nette verhoog uitpakke
“Ons het besluit ons gaan nie meer appels sonder nette plant nie,” sê Gagiano. “Dis maar hoofsaaklik vir sonbrand – dit is verreweg ons grootste defek op appels.” Hael was tot onlangs nie ’n groot risiko nie, maar dit lyk asof dit toeneem. “Ons besef dinge gaan met klimaatverandering verander,” sê Gagiano. “Ons het redelik haelskade die laaste twee jaar gehad, en die 10 jaar voor dit feitlik niks nie.” Die velddagboord was van vestiging af onder grys skadunette. Die blok reg langsaan, wat ook Fuji op M.9 is en dieselfde jaar geplant is, was aanvanklik oop. In tweede blad was die totale voorsor-teringsuitpakke in die blok met nette 95% waarvan 83% Klas 1A was. Die totale voorsorteringsuitpakke in die blok sonder nette was 82% met slegs 53% Klas 1A – die verskil is hoofsaaklik as gevolg van sonbrand. Bronaar het dadelik besluit om die oop blok onder nette te sit. Hulle het swart nette van ’n ander verskaffer as die grys nette gebruik. Die swart nette is teen die einde van Desember 2023 opgerig. Uitpakke in 2024 was 93% met rondom 85% Klas 1A vir beide boorde. Slegs ongeveer 7% van die vrugte was Klas 3, meestal dié met sonbrand. Die boorduitskot as gevolg van sonbrand was egter 12% onder die grys nette teenoor 7% onder die swart nette. Benewens nette oor nuwe aanplantings is Bronaar ook stelselmatig besig om nette oor ouer boorde van hoëwaarde-kultivars op te rig. “Die kosteknyptang – waar ons kostes net opgaan en opgaan – gaan vir jou vang as jy nie hoër tonne en beter uitpakke het nie,” sê Gagiano. “Jy gaan nie meer kan boer nie.” Vroeër produksies en hoër kumulatiewe tonne met dwergende onderstamme en hoëdigtheidaanplantings, sowel as die gebruik van nuwe kultivars en beskermende nette behoort vir Bronaar nog lank uit die kosteknyptang se kake te hou.

BOX 1:

Highlights of the Bronaar field-day orchard

  • Pack-outs were 22 tonnes per hectare in second and 53 in third leaf. The 2024 pack-out was 93% with 85% Class 1A.
  • Estate Manager Christo Gagiano credits top-quality nursery trees from Cape Sweet for much of the orchard’s success.
  • Trees were planted with 10 m3 of compost per hectare and a woodchip mulch.
  • Branches were bent in the first and second leaf. Pruning to bring branches into balance started in first leaf. Renewal pruning is ongoing.
  • The field-day orchard was Bronaar’s first on M.9. They plan to continue with high-density planting on dwarfing rootstocks, to come into production earlier and obtain higher cumulative yields.
  • The field-day orchard is under nets. Bronaar establishes all new plantings under nets, mainly to prevent sunburn.

BOX 2:

Die boord in kort Kultivar: Fuji Royal Onderstam: M.9 Area: 2.42 hektaar Spasiëring: 3.5 x 1.0 meter Gevestig: 2021

Bedankings Dankie aan Christo Gagiano en sy span vir die besoek aan die Bronaarboord en ook aan Piet Nieuwoudt en Claude West wat die perseel beman het.

Back To Top