Botritis is een van die mees algemene oorsake van naoesbederf in vars groente en vrugte wêreldwyd. Swamdoders is onontbeerlik vir botritisbeheer maar ongelukkig is dié naoespatogeen berug daarvoor dat hy sy sensitiwiteit vir spesifieke aktiewe bestanddele kan verloor. As deel van SATI se proses om navorsings behoeftes vas te stel, het dit onder hulle aandag gekom dat produsente by tye steeds sukkel met botritisbederf al volg hulle ’n beheerprogram. Die vraag het dus ontstaan of gebrek aan sensitiwiteit ’n rol speel.
Om produsente te help om die beste beheerstrategie vir hulle persele te kies, het SATI ’n navorsingsprojek befonds om die swamdodersensitiwiteit van botritis te ondersoek en ’n toets vir verlies aan sensitiwiteit te ontwikkel. “Die beheer van bederf tydens die naoesfase behels nie net die gebruik van swamdoders nie,” sê projekleier dr. Johan Fourie, plantpatoloog by ExperiCo Agri-Research Solutions. “Maar omdat swamdoders wel belangrik is om op ’n vroeë stadium die populasievlakke te verlaag, kan ons nie verlies in sensitiwiteit bekostig nie.”
Die projek in kort
Die botritis-isolate vir die studie is vanaf simptomatiese korrels uit tafeldruifwingerde in Limpopo-provinsie en die Noord- en Wes-Kaap geïsoleer. Die navorsers het ses swamdoder-aktiewes (boscalid, siprodinil, fenheksamied, fluopiram, iprodioon, en pirimetanil) teen 113 botritis-isolate getoets. Hierdie swamdoders is gekies omdat hulle deur FRAC (Fungicide Resistance Action Committee) as belangrik vir botritisbeheer gelys en vir chemiese bestuur in Suid-Afrikaanse tafeldruiwe gebruik word.
FRAC is ’n spesialis tegniese groep binne CropLife International. Hulle doelwit is om die effektiewe lewensduur van swamdoders te verleng deur onder andere swamdoderweerstand te moniteer en vroegtydig te identifiseer, goeie praktyke vir swamdodergebruik en weerstandbestuur te bevorder, en metodes vir weerstandstudies aan te beveel. Die navorsers het FRAC-riglyne gevolg om die sensitiwiteit van swam-isolate op twee verskillende maniere te toets. Vir die eerste metode het hulle swamdoders by kunsmatige media gevoeg en die groeivermoë van die swamme gekwantifiseer. Vir die tweede metode het hulle druiwekorrels met swamme geïnokuleer en die korrels daarna met swamdoders behandel om te sien of bederf bekamp word.
“Ons wil hierdie tegnieke gebruik om te probeer bepaal of daar sensitiwiteitskuiwe in die veld voorkom,” verduidelik Fourie. “Sulke skuiwe kan moontlik die beperking van bederf deur die gebruik van chemiese middels benadeel.” Daar was nie noemenswaardige verskille tussen die effektiwiteit van die ses swam-doders wanneer daar oorhoofs na die resultate gekyk word nie. Maar daar was wel verskille in die swamdodersensitiwiteit van isolate vanaf verskillende produksie-areas en persele.
Meet om te weet
In praktyk is verskille in sensitiwiteit tussen botritis-isolate te verwagte. Die sensitiwiteit van enige gegewe bevolking kan deur die swamdoderprogram sowel as ’n magdom ander faktore beïnvloed word. “Mens moet egter versigtig wees hoe resultate geïnterpreteer word,” sê Fourie. “Mens moet sensitiwiteit deurlopend evalueer en verskillende metodes gebruik om ’n juiste afleiding te maak.” Swamdoders is noodsaaklik om gewasse en produkte gesond te hou, maar ten spyte van hulle gebruik is dit nie ongewoon vir produsente om met bederfbeheer te sukkel nie.
“Monitering is kardinaal om te bepaal of verlies aan sensitiwiteit die rede is waarom bederfbeheer misluk,” sê Fourie. Monitering kan ook aandui watter bederf-organismes probleme by ’n sekere perseel of in ’n spesifieke kultivar veroorsaak. Produsente kan moniteringsresultate gebruik om hulle swamdoderprogram in konsultasie met hulle gewasbeskermingsraadgewer te optimaliseer. Hulle moet egter in gedagte hou dat die patogene swamme op hul persele by die swamdoderprogram kan aanpas – gevolglik sal dit nie ’n eenmalige toets behels nie.
Waarom ontwikkel weerstand?
Verlies aan sensitiwiteit is nie slegs in swamme ’n potensiële probleem nie. Dis ’n uitdaging in alle areas van gewasbeskerming. Vir elke gewasbeskermingsproduk sal daar as gevolg van natuurlike variasie enkele individue in die populasie wees wat die nodige gene besit om blootstelling aan die produk te oorleef.
Elke keer wat dié spesifieke produk gebruik word sal die persentasie weerstandbiedende individue in die populasie toeneem en sensitiwiteit mettertyd afneem. Sekere eienskappe van die swamdoder, die swam, en die gewas kan die risiko van verlies aan sensitiwiteit en die ontwikkeling van weerstand vergroot.
Dit is byvoorbeeld moeiliker vir swamme om weerstand te ontwikkel teen swamdoders wat hulle op meer as een manier aanval of wat ’n langdurige en hoë aktiwiteit het. Swamme verskil ook inherent in hul vermoë om swamdoders te ontduik.
Byvoorbeeld kan swamme wat vinnig voortplant en veelvuldige plant-organe aanval makliker weerstand ontwikkel. Daarby speel die omgewing ook ’n rol – dis moeiliker om swamme te beheer wanneer hulle gunstige omgewingstoestande ervaar. Produsente kan nie veel omtrent swamme se gene of aktiewe bestanddele se chemie doen nie, maar hulle het wel beheer oor hulle gewasbeskermingstrategie.
Wenke om weerstand te voorkom
FRAC plaas swamdoders in verskillende groepe volgens hulle teiken en meganisme. Hierdie inligting is op die FRAC-webwerf beskikbaar. Byvoorbeeld, beide boscalid en fluopiram is in groep sewe, en beide siprodinil en pirimetanil is in groep nege.
Vermy die gebruik van slegs een swamdoder of slegs een groep swamdoders. Swamme wat weerstand teen een swamdoder in ’n groep ontwikkel, sal heel waarskynlik ook verlies in sensitiwiteit teen ander swamdoders in daardie groep hê.
Deur heeltyd swamdoders met dieselfde tipe aktiewe bestanddeel te gebruik, word daar stelselmatig vir weerstandbiedende swampopulasies geselekteer. Dit is egter baie moeiliker vir ’n swam om swamdoders met heeltemal verskillende aktiewe bestanddele te weerstaan. Deur swamdoders met verskillende teikens en meganismes af te wissel word dié swamme wat een swamdoder oorleef deur die volgende swamdoder hokgeslaan. Om dieselfde rede moet die riglyne vir die maksimum aantal aanwendings per seisoen nagekom word.
Dit is ook beter om nie swamdoders met dieselfde aktiewe bestanddele voor en na oes te gebruik nie. Volg altyd die vervaardiger se instruksies tot die letter. Let daarop dat laer dosisse verlies aan sensitiwiteit bevorder deur slegs die mees sensitiewe swamme te dood en dus vir minder sensitiewe swamme te selekteer. Swamdoders behoort eerder voorkomend as genesend aangewend te word.
As swaminfeksies toegelaat word om hand uit te ruk sal die swamme kans hê om spore te produseer en groter populasies op te bou. Hoe groter die populasie, hoe groter die kanse dat sommige individue gene vir weerstand sal hê. Laastens moet ander beheermaatreëls soos wingerdsanitasie, loofbestuur, goeie dreinering en lowerventilasie nie agterweë bly nie. Dit is baie moeiliker om swamme met chemie te beheer wanneer hulle deur ander wingerdpraktyke bevorder word.