"Interne verbruining vat aan mense se sak," sê Crouch, "veral in Cripps Pink, omdat dit 'n hoëwaarde kultivar is." Crouch is deel van 'n groep navorsers wat die impak van onder andere plukrypheid en bergingstoestande op interne verbruining in Cripps Pink bestudeer. Haar medewerkers sluit Heleen Tayler en Daniël Viljoen van ExperiCo Agri-Research Solutions in.
Die navorsers het Cripps Pink-appels vanaf vyf plase in beide Ceres en Grabouw ondersoek. Hulle het die appels gedurende drie oestydperke vanaf 2017 tot 2019 versamel. Die vrugte is vir rypheid evalueer deur middel van 'n reeks maatstawwe, insluitende fermheid, kleur, totale suurheid, totale oplosbare vaste stowwe en styselafbraak. Die doel was om teen optimale plukrypheid – styselafbraak van 30 – 40% – te oes.
Appels is in April geoes en in beheerde-atmosfeertoestande geberg. Vyf behandelings is beproef – sien Tabel 1. Daarna is vrugte blootgestel aan ses weke van gewone atmosfeer om verskeping na te boots, gevolg deur 10 dae se rakleeftyd.
"Ons het in die eerste seisoen die vrugte vir omtrent nege maande gestoor en geen interne verbruining gekry nie," sê Crouch. In daaropvolgende jare het die vrugte hoë vlakke van interne verbruining en oppervlakkige brandvlek ontwikkel, met gevolg dat Crouch nou mense afraai om Cripps Pink vir so lank as nege maande te probeer berg.
"Daarna het ons besef, as jy 'n hoërisiko jaar het vir verbruining, moet onder
geen omstandighede te veel waag nie," waarsku Crouch.
Moenie moeilikheid stoor nie
Cripps Pink kan diffuse verbruining, radiale verbruining, of 'n kombinasie van die twee ontwikkel."Diffuse verbruining word deur korrekte plukrypheid bestuur," sê Crouch. "As jy enigiets met meer as 40 – 50% styselafbraak oes, dan is daar 'n hoë risiko, en jy behoort nie vir langer as vier maande te stoor nie."
In praktyk kan dit moeilik wees om hierdie raad toe te pas, veral in groot bome. Die vrugte aan die binnekant van die boom word eerste ryp en word dan boonop later geoes sodat dit rooi kleur kan ontwikkel. Die vrugte aan die buitekant van die boom wat later ryp word en dus later geoes kan word, word inteendeel eerste geoes omdat hulle reeds vroeg goeie kleur ontwikkel.
Crouch beveel aan dat produsente styselafbraak meet in appels aan die binnekant van die boom om sodoende die langtermynberging van vrugte met styselafbraak van meer as 50% te vermy.
Diffuse verbruining is ook gekoppel aan berging by lae temperature. Temperature van -0.5 – 1˚C kan lei tot diffuse verbruining binne slegs drie maande van berging. Diffuse verbruining was in die verlede die meer algemene tipe in SA, maar kom minder voor sedert pakhuise kennis geneem het van die gevaar van té lae temperature.
In teenstelling met diffuse verbruining, is radiale verbruining hoogs seisoenaal omdat dit sterk deur voor-oes faktore beïnvloed word. Radiale verbruining blyk meer algemeen te wees in jare met koeler temperature tydens die lente-periode wanneer vrugte seldeling en vroeë selvergroting ondergaan. Radiale verbruining het beduidende verliese in 2019 veroorsaak.
Plukrypheid is nie noodwendig 'n aanwyser van radiale verbruining nie. Crouch noem egter dat meer onlangse data getoon het dat vrugte wat vroeg geoes word – styselafbraak van 15 – 20% – sowel as vrugte wat laat geoes word – styselafbraak van meer as 50% – meer vatbaar is vir radiale verbruining. Dit lyk ook asof radiale verbruining deur stres vererger word.
Verdere navorsing is nodig om die verwantskap tussen plukrypheid en radiale verbruining beter te verstaan.
Die risiko van beide radiale en diffuse verbruining word deur trapsgewyse verkoeling verminder. "Die boodskap is, moenie teen 'n enkeltemperatuur van 1˚C stoor nie. Toe ons die trapsgewyse verkoeling gedoen het, was die fermheid en die kwaliteit van die vrugte beter – trapsgewyse verkoeling is 'n moet," beklemtoon Crouch.
Alhoewel Cripps Pink nie so sensitief soos Fuji is vir CO2 nie, is dit raadsaam om CO2-vlakke onder 1% te handhaaf tydens berging om CO2-verbruining te voorkom.
Verminder verbruining stap vir stap
Die resultate van proewe wat onlangs deur Crouch en haar medewerkers afgehandel is, toon dat die beste protokol vir trapsgewyse verkoeling begin teen 3˚C vir 30 dae, gevolg deur 2˚C vir 30 dae, gevolg deur 1˚C vir die res van die bergingsperiode. Volgens Crouch is enige trapsgewyse verkoeling beter as om vrugte direk na 1˚C te neem.
Al die appels in hierdie proewe, insluitende 'n kontrole wat direk by 1˚C gestoor is, is met 1-MCP behandel binne sewe dae van berging. Toediening van 1-MCP om vrugkwaliteit te handhaaf is standaardpraktyk in die bedryf. 'n Tweede kontrole is direk by 1˚C geberg, maar nie met 1-MCP behandel nie.
Beide groepe wat direk by 1˚C geberg is, het hoë vlakke van interne verbruining gehad, alhoewel behandeling met 1-MCP wel diffuse verbruining verminder het. Dit is te verwagte, aangesien diffuse verbruining verband hou met rypheid, en 1-MCP rypwording vertraag.
Verdere vrae oor verbruining
Sedert die proewe oor trapsgewyse verkoeling, het Crouch en haar kollegas nuwe navorsingsprojekte begin om van die gapings in ons kennis oor interne verbruining te vul. Hulle kyk eerstens na die impak van sekere voor-oes faktore – rypwordingstempo, omgewingstemperature, en die posisie van vrugte aan die boom – op interne verbruining.
Temperatuurdata is reeds hierdie seisoen in Cripps Pink-boorde in beide die Wes-Kaap en die Langkloof versamel. Data word ook vanaf weerstasies en TerraClim bekom. Monsters word weekliks vanaf vier tot ses weke voor oes versamel om rypwording te moniteer.
Vrugte uit ongeveer 100 boorde word geberg onder toestande wat interne verbruining bevorder, sodat die ontwikkeling van interne verbruining met temperatuurdata gekorreleer kan word. Die eerste seisoen se vrugte kom tans uit opberging – die proef gaan vir paar jaar loop om genoegsame inligting in te samel om die verwantskap tussen verbruining en seisoenale data te kan ondersoek.
Daarby word vrugte wat in verskillende posisies ontwikkel het – binne of buite aan die boom – uit een boord versamel en op dieselfde wyse geberg. Posisie blyk 'n rol te speel in die vatbaarheid van vrugte vir verbruining. Binneste vrugte het in die 2021-seisoen meer diffuse verbruining ontwikkel as buitenste vrugte. Alhoewel die verbruining lig was, dui die resultate daarop dat binneste vrugte met meer sorg hanteer en nie so lank geberg moet word as buitenste vrugte nie.
Verder word daar ook ondersoek ingestel na die uitwerking van dinamiese beheerde-atmosfeerberging met behulp van chlorofil fluoressensie – bekend as DCA-CF – op interne verbruining. Die navorsers hoop dat beter beheer van CO2 asook laer O2-vlakke – 0.4% – in DCA-CF sal help om verbruining te bekamp.
Crouch wys daarop dat dit belangrik is om die potensiaal en drywers van verbruining vir al die bloskultivars te bepaal, sodat beste praktyke ontwikkel kan word. Rosy Glow is reeds in die verlede ondersoek. Dit het baie dieselfde verbruiningsdrywers as Cripps Pink, maar volgens Crouch mag die risiko vir verouderingsgedrewe verbruining in Rosy Glow laer wees, omdat dit waarskynlik vroeër geoes word.
Sommige nuwe bloskultivars sal volgende seisoen deur Heleen Tayler vir verbruiningspotensiaal getoets word, en sy sal ook ondersoek instel na die beste praktyke vir hantering.
Al hierdie navorsing word deur 'n span van die Departement Hortologie aan Universiteit Stellenbosch in samewerking met ExperiCo Agri-Research Solutions uitgevoer. Die werk word deur Hortgro befonds.