"Lae temperature is belangrik vir die behoud van vrugkwaliteit," sê Handré Viljoen, steenvrugnavorsingsbestuurder by ExperiCo. "Vrugte sal minder interne defekte ontwikkel en swamgroei sal stadiger wees by die korrekte temperature."
Meeste produsente is terdeë bewus dat veldhitte na oes verwyder moet word. Kratte moet in 'n koel plek uit die son uit gehou word. "In die ou dae is die vrugte met 'n nat kombers bedek," sê Viljoen. "Maar deesdae sê hulle dat dit 'n bron kan wees van spore wat bederf veroorsaak."
Dit is noodsaaklik om vrugte vinnig in 'n voorverkoelingstoor te kry. Hoe gouer steenvrugte daarna verpak en in geforseerde verkoeling geplaas word, hoe beter.
Viljoen waarsku egter teen vrugte té vinnig afkoel. Hy het onlangs 'n driejaarlange studie oor interne hitteskade in pruime voltooi wat gewys het dat pruime meer interne hitteskade ontwikkel wanneer hulle binne 24 uur teenoor binne 48 uur afgekoel word.
"Ons navorsing was op Laetitia, so ek wil nie veralgemeen na ander kultivars nie," sê hy. "Kommersiële pakhuise verkoel binne 36 uur sonder probleme. Maar dit kan maklik wees om té vinnig te verkoel."
Té stadig verkoel het sy eie gevare. "Ons het uitgerekte verkoeling vir 72 uur getoets, maar ons het probleme met vogverlies gesien wat gelei het tot verrimpeling en in sommige gevalle verlies aan fermheid," sê Viljoen. Hy noem egter dat die gebruik van 1-metielsiklopropeen gehelp het om fermheid te behou.
Waarom vrugte vog verloor
Humiditeit is die hoeveelheid waterdamp in die lug. Lug is versadig wanneer dit die maksimum moontlike hoeveelheid waterdamp bevat. Warm lug kan meer waterdamp as koue lug bevat voordat dit versadig raak.
Spesifieke of absolute humiditeit verwys na die hoeveelheid water in versadigde lug teen 'n gegewe temperatuur. Relatiewe humiditeit verwys na die graad van versadiging en word as 'n persentasie uitgedruk. Byvoorbeeld, teen 25 ºC sal elke kubieke meter versadigde lug 23 gram water bevat. As dieselfde lug slegs 95% versadig is, sal dit 22 gram water bevat.
Daarenteen sal elke kubieke meter lug by 0 ºC minder as 5 gram water bevat. Enige poging om meer water by te voeg sal net lei tot kondensasie.
Water is geneig om van areas met hoë humiditeit na areas met lae humiditeit te beweeg. Dit is waarom vrugte vog verloor. Die relatiewe humiditeit binne-in die vrug is 100% omdat die intersellulêre spasies met waterdamp versadig is. Sodra die vrugte in onversadigde lug geplaas word, begin die water in die vrug na buite beweeg, wat kan lei tot verrimpeling.
"Van die oomblik wat dit gepluk word verloor 'n vrug vog," sê Viljoen. Vogverlies is baie vinniger by hoër as laer temperature, so hoe warmer vrugte is, hoe meer ontwater hulle. Viljoen beklemtoon dat enige vertraging in die verkoeling van steenvrugte die risiko van verrimpeling wesenlik sal verhoog.
Die verpakkingverknorsing
Sommige steenvrugtipes en -kultivars word in geperforeerde plastiekomhulsels of -sakke verpak om vogverlies te beperk. Die sak skep 'n area van verhoogde relatiewe humiditeit rondom die vrugte deur te keer dat waterdamp ontsnap. Plastiek is ideaal vir sulke verpakking omdat dit effektief, goedkoop, lig, en maklik is om te gebruik.
Ongelukkig is plastiek ook 'n bron van omgewingsbesoedeling en produsente is onder druk om minder daarvan te gebruik. Viljoen is besig om alternatiewe tot enkelgebruikplastiek as deel van 'n Hortgro-befondsde projek oor verrimpelingsbeheer in nektariens en pruime te ondersoek.
"Ons het aanvanklik gekyk na twee verskillende gewigte van papieromhulsels. 'n 19-gvm – gram per vierkante meter – omhulsel was te dun en het geskeur. 'n 55-gvm omhulsel was hopeloos te dik. So toe probeer ons 'n tussenin gewig, met baie goeie resultate, maar nie so goed soos plastiek nie," sê Viljoen.
Viljoen het ook verskillende eetbare bedekkings aangewend, waarvan twee soortgelyke resultate as die papieromhulsels gegee het. "Ons volgende stap is om te kyk na 'n kombinasie van papier en 'n bedekking, want die kombinasie sal hopelik dieselfde resultate as plastiek gee."
Nog 'n aspek van sy proewe was 'n vergelyking tussen vrugkwaliteit na stoor in koelkamers met en sonder humiditeitsbeheer. Daar was minder verrimpeling en interne defekte na raklewe in vrugte wat bo 90% relatiewe humiditeit gestoor is.
Koelkamers onder die loep
Dis onmoontlik om humiditeit gedurende voorverkoeling en verpakking te beheer, verduidelik Viljoen, omdat hierdie aktiwiteite in oop of besige areas plaasvind. Humiditeitsbeheer tydens geforseerde verkoeling is egter noodsaaklik omdat die beweging van droë lug oor die vrugte die heeltyd vog verwyder.
Viljoen het onlangs 'n opname van kommersiële steenvrugkoelkamers in die drie hoof steenvrugproduksieareas gedoen. Hy het temperatuur en relatiewe humiditeit gedurende voorverkoeling, aansameling, en geforseerde verkoeling gemeet.
Die relatiewe humiditeit in die voorverkoelingskoelkamers was meestal
85 – 90%. Gedurende geforseerde verkoeling was dit gewoonlik onder 90%.
"Die mikpunt behoort ten minste 95% te wees," sê Viljoen, "maar die beste kommersiële kamers in ons studie was in die lae 90's." Hy dink dat mense dalk nie bewus is van die probleem nie, aangesien meeste nie die temperatuur en humiditeit in hulle koelkamers meet nie. Die koelkamers is ook nie met humiditeitsbeheerstelsels toegerus nie, ten spyte daarvan dat hierdie tegnologie beskikbaar is.
'n Gebrek aan humiditeitsbeheer tydens verskeping kan ook verrimpeling vererger. Die lugopeninge van verskepingshouers word gewoonlik oopgehou om die opbou van koolsuurgas te verhoed, maar dit lei ongelukkig tot vogverlies. Daar is dus besluit om beheerde-atmosfeerberging op vier verskillende pruimkultivars te toets om te sien of hulle verhoogde koolsuurgasvlakke kan verdra.
"Volgens een jaar se data het Laetitia nie goed gevaar met enige modifikasie nie," sê Viljoen. "Die ander drie kultivars het beter fermheid en minder interne kwaliteitsprobleme by 6% koolsuurgas as by gewone atmosfeer gehad."
Hy beplan tans om saam met Maersk die koolsuurgasvlakke in houers te meet, en om proewe te doen met verskepingshouers waarvan die lugopeninge outomaties oopgaan wanneer koolsuurgasvlakke bo 'n sekere vlak styg.
Die belangrikheid van temperatuur is lank reeds bekend, maar die skade wat deur lae humiditeit veroorsaak word, word al hoe meer besef. In die geval van verrimpeling in steenvrugte is voorkoming 'n kwessie van humiditeitsbeheer.
"Solank as wat jy die humiditeit hoog hou, kan jy nie vog verloor nie," beklemtoon Viljoen. "Dis eenvoudig die wet van die natuur."
Vir meer oor die verhouding tussen humiditeit en temperatuur, en hoe relatiewe humiditeit vogverlies in vrugte affekteer, lees ons artikel op bladsy 6 van die 2018 Hortgro Tegniese Simposium verslag. Vir meer oor verrimpeling, raadpleeg die September 2019 uitgawe van Fresh Quarterly, die Hortgro Science tegniese tydskrif.