Ruby Sun is 'n rooiskilpruim met geel vlees wat deur die Landbounavorsingsraad geteel is en deur Culdevco bestuur word. Dit is in 2012 vrygestel en het sedertdien van krag tot krag gegaan.
Aanplantings van Ruby Sun het volgens Hortgro-statistieke in die jare 2016 – 2021 van 106 na 451 hektaar gegroei. Dit maak dié kultivar die derde grootste ná Suplumsix – handelsmerk Angeleno – en Laetitia.
"Daar is tans 466 hektaar Ruby Sun geplant, waarvan 37 hektaar nie-draend is," het Gielie Bester, tegniese raadgewer by In2Stone, by die 2022 Hortgro Simposium Steenvrugvelddag gesê. "Maar ek vermoed die getal nie-draende hektare is nader aan 60 – 70, omdat baie produsente wat die afgelope jaar of twee geplant het, nog nie hulle syfers aan Hortgro deurgegee het nie."
Dit beteken dat produksies van Ruby Sun nog heelwat gaan toeneem. "Ons het vanjaar ongeveer 1.5 miljoen kartonne ingeneem," het Bester gesê. "As ons kyk na die afgelope twee jaar, het Ruby Sun elke jaar met ongeveer 'n halfmiljoen kartonne toegeneem, en as daai tendens voortduur dan behoort ons teen die einde van volgende seisoen na aan 2 miljoen kartonne te wees."
Wat is Ruby Sun se sterk punte?
Na Bester se mening het die kultivar baie meer voordele as nadele. "Ruby Sun kry verskriklike goeie uitpakke – konstant 80% plus – in vergelyking met van ons ander bestaande kultivars wat maklik tot 60% kan daal as iets nie reg gaan nie."
Met behoorlike bestuur en vrugbare grond kan Ruby Sun uitstekende vruggroottes en oesladings lewer. Byvoorbeeld het die Steenvrugvelddagboord 38 ton per hektaar gedra in vierde blad met AA gemiddelde vruggroottes.
Ruby Sun is 'n vroeë kultivar wat in Desember – rondom week 49 – 50 – geoes word. Anders as baie ander vroeë kultivars raak Ruby Sun nie vinnig oorryp en sag aan die boom nie, wat dit makliker maak om die oesproses te bestuur.
Na oes stoor Ruby Sun baie goed. Volgens Bester is die uitsonderlike houvermoë van die vrugte 'n belangrike rede waarom dit in die buiteland gewild is.
"Dit kan teen enkeltemperature verskeep word, wat deesdae vir ons baie belangrik is, en die vrugte kan met gemak ses tot sewe weke by enkeltemperatuur hanteer," het hy gesê. "Meeste van ons bestaande kultivars kom omtrent net tot by ses weke, en met ons verskeping tans moet ons kyk na kultivars wat amper sewe weke kan hou."

Alhoewel sekere produsente bekommerd is oor die vinnige styging in Ruby Sun-kartonne, is Karin van Rensburg, tegniese raadgewer by In2Stone, positief oor die bemarkingsgeleenthede wat die kultivar bied, veral aangesien SA weer begin uitvoer na die VSA, en hopelik ook eendag toegang tot China sal behaal.
"Dis die eerste kultivar waarmee ons halfpad om die wêreld kan gaan en logistieke uitdagings kan oorleef," het sy gesê. "Vir my is dit die eerste goeie eetkultivar waarmee ons 'n mark kan oopmaak. Daar gaan altyd 'n plek wees vir so 'n mooi groot rooi vrug, want dit vang die oog."
Vereistes vir sukses met Ruby Sun
Alhoewel Ruby Sun voortreflike houvermoë het, is die vrugte geneig tot verrimpeling. Bester het gewaarsku dat beide té vroeg en té laat oes verrimpeling kan vererger. Verder is dit noodsaaklik dat die vrugte so gou as moontlik na oes in 'n sak of plastiekomhulsel verpak word om vogverlies te voorkom.
Daarby het Bester die belangrikheid van relatiewe humiditeit in koelkamers beklemtoon. Lae lugvog lei tot groter vogverlies uit die vrugte, wat verrimpeling bevorder. Hy beveel aan dat die relatiewe humiditeit van koelkamers ten alle tye bo 90% moet bly.
Terug in die boord moet produsente bewus wees dat Ruby Sun nie die sterkste groeier is nie. "Ek dink die meeste produsente sukkel om hulle drade, veral in die boonste gedeelte, vol te kry," het Bester gesê. "En hulle sukkel om die lootlengtes te kry wat hulle veronderstel is om te kry."
Die kultivar benodig goeie grond en 'n groeikragtige onderstam om enige kans op sukses te hê. Daarby moet bestellings vroegtydig by kwekerye geplaas word om seker te maak dat jong bome groot genoeg en hulle hout afgehard is.
Bester het gewaarsku dat hierdie nie 'n kultivar is waarmee 'n mens foute kan maak nie. "As jy die boom geplant het, moet jy alles vir hom volgens die reëls doen, anders gaan jy sukkel om daai boom groot te kry." Moet byvoorbeeld nie bome plant voordat die opleistelsel in plek is nie – blootstelling aan sterk wind kan daartoe lei dat die boomtoppies nie begin groei nie.
Alhoewel Ruby Sun hoë oeste kan lewer, kla baie produsente oor 'n lae drag. Dit kan die gevolg van swak set as gevolg van onvoldoende kruisbestuiwing wees, wat deur te min bye, te min kruisbestuiwers, of onverenigbare kruisbestuiwers veroorsaak kan word.
Ruby Sun bereik volblom rondom einde Augustus, afhangende van seisoen en streek, en oorvleuel met Harry Pickstone, wat as 'n effektiewe kruisbestuiwer vir Ruby Sun beskou word.
Bester het uitgewys dat lae drag ook 'n probleem kan wees wanneer die bome nie genoeg koue kry nie. Ruby Sun het 'n medium kouebehoefte en word deur Culdevco vir die Boland en Klein Karoo aanbeveel.
Snoeiwenke vir volgehoue oeste
As deel van die Steenvrugvelddag het Bester die korrekte snoei van Ruby Sun gedemonstreer. Die betrokke boord is by Allée Blue tussen Simondium en Franschhoek geleë en bestaan uit Ruby Sun op Marianna-onderstamme wat 3.5 x 1.5 meter geplant is.
"Omdat Ruby Sun nie baie geil is nie, is die bome geneig om spooragtig te wees," het Bester uitgewys. Dit kan 'n probleem raak wanneer daar te veel spoorhout te naby aan mekaar is en die spoorhout te lank raak. Sulke spoorhout kan uiteindelik lei tot afnames in tonnemaat en vruggrootte, veral wanneer bome die vorige jaar 'n swaar oes gelewer het.
Bester beveel aan dat spoorhout ingekort en uitgedun word – die lote moet min of meer vier vingerbreedtes uitmekaar wees. Swak en droë hout moet natuurlik heeltemal verwyder word. Oormatige sterk takke moet mettertyd uitgesny word.
Ruby Sun raak meer en meer spooragtig met ouderdom, waarsku Bester. "Dit is baie belangrik om te kyk na ons sterk eenjarige lote, om hulle weer in te vleg en te gebruik om nuwe dra-eenhede te kry, en ook weer nuwe drahout, wat dan vir ons goeie vruggrootte gaan gee."
Nuwe hout is geneig om groter vrugte te produseer as ouer hout wat uitgedra is. Lighuishouding is noodsaaklik vir knop- en vrugontwikkeling – verwyder dus waterlote en té geil takke wat dra-eenhede oorskadu.
"Ruby Sun is 'n fantastiese kultivar en gaan nog baie aangeplant word," het Bester gesê. "Maar hy is geneig om oor tyd uitgedra te raak, so kyk die heeltyd dat die boom vernuwe word ten opsigte van sy hout, om te verseker dat jy jou oes nog vir die komende seisoene gaan hê."
'n Video van Bester se snoeidemonstrasie is beskikbaar op die Hortgro YouTube- kanaal: (https://www.youtube.com/watch?v=jf4pHgWopIQ)[https://www.youtube.com/watch?v=jf4pHgWopIQ).