Raar maar waar
Rooi kleur-ontwikkeling in pere
Deur Wiehann Steyn
Tot onlangs het ons min geweet oor rooi kleur-ontwikkeling in pere. Die algemene siening was dat pere in hierdie opsig soortgelyk is aan appels – maar dit is geensins die geval nie. Navorsing befonds deur Hortgro het gewys dat die twee vrugsoorte wesenlik verskil.
Rooi kleur-ontwikkeling in pere volg ander patrone en reageer effens anders as appels ten opsigte van faktore wat kleurontwikkeling beïnvloed. Vertroudheid met hierdie verskille kan produsente help om beter vrugkleur te behaal en dus meer winsgewend te boer.
Read MoreTydsverloop van rooi blos
Rooi kleur in appels, pere en baie ander vrugte word deur rooi pigmente – antosianiene – veroorsaak. Lae antosianienvlakke met oestyd vertoon as swak kleur. Die waarde van gebloste pere is direk verwant aan die intensiteit en omvang van rooi blos. Beide intensiteit en omvang wissel tussen seisoene en kultivars.
Appels ontwikkel rooi kleur deur die loop van die seisoen as gevolg van blootstelling aan hoë ligvlakke en lae temperature. Té veel skadu en té warm weer voor oestyd is die mees algemene redes vir swak kleur.
Rooi kleur-ontwikkeling in byna alle pere begin vroeg en bereik ’n hoogtepunt ongeveer halfpad tussen blom en oes. Daarna is dit afdraande soos wat die konsentrasie van antosianiene verlaag en die rooi kleur vervaag tot en met oes. Die redes is verminderde vorming van nuwe pigment; natuurlike afbreking van bestaande pigment; verhoogde pigment-afbreking teen hoë temperature; en verdunning van pigment soos wat vruggrootte toeneem.
Daar is intussen peerseleksies ontwikkel wat skynbaar soos appels kleur, maar hulle is nog nie in die handel beskikbaar nie. Meeste pere het gevolglik teen die middel van die seisoen soveel kleur as wat hulle ooit gaan hê – hulle gaan nie verbeter tot en met oes nie.
Die waarde van gebloste pere is direk verwant aan die intensiteit en omvang van rooi blos.
Lig gedurende die seisoen
Die invloed van lig op kleurontwikkeling in pere is teenstrydig. Aan die een kant is lig noodsaaklik vir die vorming van antosianiene. Aan die ander kant dra lig by tot die afbreking van antosianiene en dus vervaging van rooi kleur. Wanneer omstandighede soos ongunstige temperature die sintese van antosianiene beperk, sal lig meer afbreking as vorming stimuleer, en pere sal hulle blos begin verloor.
Die vermoë van die skil om antosianiene te maak vermeerder in appels soos wat vrugte oesrypheid bereik. Onder die regte toestande kan appels met tyd ál hoe vinniger pigment maak met die gevolg dat sintese meer is as afbreking. Dit is waarom appels rooier raak tot en met oes.
Pere is ongelukkig die teenoorgestelde. Die vermoë van hulle skil om antosianiene te maak verminder nader aan oestyd. Lig breek die bestaande rooi pigment af eerder as om die sintese van nuwe antosianiene te stimuleer. Dit is waarom pere kan baat by meer skadu nader aan oestyd.
Lae temperature is beter
Temperatuur is een faktor waar appels en pere meestal ooreenstem – beide ontwikkel beter rooi kleur by laer temperature. Laer temperature bevorder die vergadering van rooi pigment terwyl hoër temperature dit benadeel.
Nagtemperature onder 15°C is voordelig vir rooi kleur-ontwikkeling in alle appelkultivars – Cripps Pink vereis selfs laer temperature. Dit lyk asof die rooi kleur van pere soos Rosemarie en dalk ook Forelle baat by lae temperature. Bon Rouge en Flamingo reageer egter nie op koue nie. Daar is geen navorsing oor die impak van temperatuur op rooi kleur-ontwikkeling in Cape Rose nie.
Hoër temperature bespoedig die afbreking van antosianiene. Dit is veral ’n probleem wanneer vrugte op warm dae in vol sonlig is en die kombinasie van hitte en hoë ligvlakke beleef. Die temperatuur van die skil kan op ’n warm dag tot 15°C hoër wees as die lugtemperatuur. Selfs een dag by 30°C kan die kleur van Rosemarie-pere en Cripps Pink-appels merkbaar laat vervaag.
’n Paar aaneenlopende warm dae kan die kleur van Rosemarie-pere van rooi na groen verander.
Volrooi- teenoor gebloste kultivars
Volrooi-peerkultivars samel baie meer rooi pigment in hulle vrugte in as gebloste kultivars. Gevolglik is die vervaging van rooi kleur nader aan oestyd nie so opmerklik in volrooi-kultivars as in gebloste kultivars nie. Hierdie verskynsel staan bekend as kleurbufferwerking. Dit beteken basies dat vrugte wat baie pigment bevat, baie kan verloor voordat die verskil waarneembaar is.
Ongelukkig is dit ook waar dat enige pigmentverlies in vrugte wat lae antosianienvlakke het, dadelik sigbaar is. ’n Paar aaneenlopende warm dae kan byvoorbeeld die kleur van Rosemariepere van rooi na groen verander. Gebloste kultivars is oor die algemeen sensitief vir weer, en kleurontwikkeling wissel aansienlik van jaar tot jaar.
Die langtermynoplossing sou wees om peerkultivars met stabiele rooi kleur te ontwikkel. Telers moet dus pere met lae pigmentkonsentrasies vermy, asook peerkultivars waarin rooi kleur-ontwikkeling sterk reageer op temperatuur.
Die heel beste sou wees om pere te ontwikkel wat, soos appels, meer kleur ontwikkel nader aan oestyd. Daar is blykbaar reeds interspesie-peerseleksies wat rooier raak nader aan oes wat ontwikkel is in ’n teelprogram in Victoria, Australië. Maar soos hierbo genoem is hierdie pere nog nie kommersieel beskikbaar nie.
Colour is often the deciding factor for fruit consumers The first three articles in this series on colour originally appeared in English in the June 2018 issue of Fresh Quarterly, the Hortgro Science technical magazine. For more articles, including on the use of nets to improve colour, visit our website at https://www.hortgro-science.co.za/fresh-quarterly/ and download your free copy of the magazine.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…