skip to Main Content
August / September 2019

Letselaalwurms In Appel Kwekerye en -Boorde – Beheer & Bestuur

SA Fruit Journal: August / September 2019

Letselaalwurms is ‘n grondplaag wat nie met die blote oog gesien kan word nie en geen duidelike wortelsimptome kom voor nie. Die enigste teken is swak groei. Hierdie spesie penetreer die wortels om te voed (endoparasiet), vernietig die weefsel en veroorsaak verswakte groei.

Wanneer die wortels doodgaan, beweeg die aalwurms terug in die grond om weer nuwe gesonde wortels binne te dring. Aangesien geen sigbare simptome op die wortels voorkom nie, en die Plant verbeterings slegs vereis dat gesertifiseerde materiaal visueel vry moet wees van aalwurmskade, kan besmette kwekery materiaal ‘n groot bron van oordraging van die plaag na nuwe kommersiële boorde wees. Verskeie opnames in die verlede het ook bewys dat hierdie aalwurm spesie in baie hoë getalle in kwekerye en aflêerblokke voorkom. Die bestaande beheermaatreël van loof toediening met een produk wat alge-meen gebruik word, lewer slegs 30-40% beheer.

Seisoensvoorkoms

Om enige grondplaag doeltreffend te beheer is dit noodsaaklik om vas te stel waar en wanneer dit voorkom, asook wanneer die populasie getalle ‘n hoogtepunt bereik. Die eerste doelwit was dus om die seisoensvoorkoms van letselaalwurms in aflêer- en kwekeryblokke te bepaal. Waarnemings is oor twee seisoene in een aflêer- en een kwekeryblok vanaf Oktober tot Junie naby Ceres uitgevoer. In elke blok is die aantal volwassenes sowel as larwes per maand in die grond sowel as in wortels bepaal. Die seisoensvoorkoms in die grond van die aflêerblok word in Fig. 1 aangetoon. Volwassenes sowel as larwes het vanaf Oktober vermeerder tot ‘n hoogtepunt in Februarie, Maart en April. Daarna het die populasie weer afgeneem tot Junie. Dieselfde tendens het in die wortels van die aflêerblok voorgekom sowel as in die grond en wortels van die kwekeryblok. Die getalle van volwassenes plus larwes was besonder hoog in slegs 5g wortels, naamlik 750 by aflêers en 1500 by kwekery- bome. Miljoene aalwurms kan dus oorbeweeg met aflêers na gronde waar nuwe kwekerybome gevestig word. Dieselfde geld ook vir oordraging met besmette kwekerybome wat kommersieël aangeplant word. Chemiese beheer sal dus in Januarie of vroeg Februarie toege-dien moet word om die hoë getalle in Februarie, Maart en April uit te skakel.

Die resultate word in Tabel 1 aangedui.

Vydate het as ‘n loof- sowel as grondtoediening swak beheer gelewer: 52% en 56% onderskeidelik. Nemacur het uitstekende beheer as loof- sowel as grondbehandeling gelewer: 76% en 86% onderskeidelik. Dit is duidelik dat Nemacur betekenisvol beter resultate as Vydate lewer. Aangesien ‘n metode om grondtoe-diening op kommersiële skaal in kwekerye toe te dien nog nie bekend is nie, word ‘n looftoediening vir die gebruik van Nemacur aanbeveel. Toedienings vir chemiese beheer moet gemaak word wanneer goeie translokasie binne die bome nog plaasvind en die getalle nog nie die hoogste punt bereik het nie. Die hoogtepunt is gewoonlik vanaf middel Februarie.

Warmwaterbehandeling

Twee jaar oue kwekerybome is gedurende Junie te Ceres versamel en warmwaterbehandelings by Vititec, Paarl toegepas deur gebruik te maak van outomatiese masjiene vir industriële behandeling. Slegs die wortelgedeeltes is onder water gedompel. Die tempera-ture en tye is toegepas soos in Tabel 2 aangedui. Na behandeling is die bome geëvalueer vir mate van beheer en in Ceres uitgeplant en na vyf maande weer geëvalueer vir effek op groei.

Die gemiddelde persentasie beheer ten opsigte van die onbehan-delde kontrole oor 10 herhalings per behandeling word in Tabel 2 aangetoon. Met ‘n temperatuur van 45°C vir 30 minute is baie goeie beheer verkry (83,4%) met geen nadelige effek op die groei van die bome nie. Met ‘n verlenging van die tydsduur tot 50 minute het die beheer nie verbeter nie (76,2%), maar geen nadelige effek op die groei van die bome is waargeneem nie. En met ‘n temper-atuur van 50°C vir 20 minute is onbevredigende beheer verkry en 22% van die bome was vyf maande na uitplanting dood. Met ‘n verhoging in blootstellingstyd tot 45 minute is beter beheer verkry, maar 90% van die bome was na behandeling dood. Gedurende ‘n opvolgseisoen is dieselfde metodes toegepas om die effek van die warmwatertegniek met aflêers te bepaal. Die behandeling van 45°C vir 30 minute het goeie beheer van 74,6% gelewer met geen effek op groei van die aflêers nie. Dit is dus duidelik dat die warmwater tegniek ‘n goeie metode is om letselaalwurms te beheer, maar dat dit baie riskant kan wees as die regte temperatuur en tydsduur nie presies reg gehandhaaf word nie, en goed gekalibreerde masjiene wel gebruik word.

Chemiese dooptegniek

Evaluering van sistemiese middels

Die volgende middels is gebruik en met ‘n onbehandelde kontrole vergelyk om die persentasie beheer te bepaal.

Nemacur : fenamiphos

Actara : thiamethoxam

Kohinor : imidacloprid

Twee jaar oue kwekery bome met M109 onderstam is gedurende Mei met volle blaarbedekking in die Ceres area versamel en in Stellenbosch behandel. ‘n Rubber vuilisdrom met 100L water is vir elke behandeling gebruik, en alle grond is voor vervoer van die wortels afgespuit. Elke behandeling is vier keer herhaal met een boom as herhaling. Die dosis van elke middel was 50ml/100L water en die doop- tydperk vir elkeen was agt ure aaneenlopend. Die hele wortel-stelsel was ingedompel en gereeld in die mengsel beweeg vir maksimum kontak. Na die behandelingstydperk is die bome verwyder, in sakke geplaas en die wortels met klam saagsels bedek. Na drie dae is die bome verwyder en genoeg fyn wortels versamel waarvan 5g per herhaling gebruik is om die aantal lewende aalwurms te bepaal. Die Baermann-metode is in die laboratorium te LNR Infruitec-Nietvoorbij gebruik.
Die resultate word in Tabel 3 aangedui. Nemacur het die beste van die drie produkte gevaar met goeie beheer van 71.7%, terwyl Kohinor en Actara gemiddelde beheer van onderskeidelik 50% en 66% gelewer het.

Belang van goeie blaarbedekking en tydsduur van doop

Twee van die middels wat gedurende Mei met volledige blaar-bedekking geëvalueer is, is weer gedurende Julie geëvalueer met kwekerybome wat reeds totaal ontblaar was. Die middels was Nemacur en Actara. Alle metodes is toegepas soos reeds beskryf. In die geval van Nemacur is die dooptydperk egter verlaag van agt ure na twee ure, wat ‘n groot tydbesparing vir die bedryf sal beteken, indien suksesvol.

Die beheer wat verkry is met bome sonder enige blare word in Tabel 4 aangedui vir vergelyking met bome met volledige blaarbedekking Tabel 3.
Actara het in albei gevalle feitlik dieselfde mate van beheer (66%) gelewer met dieselfde behandelingstyd van agt ure.

In die geval van Nemacur by bome sonder blare is die behandeling-styd van agt ure na twee ure verminder, met feitlik dieselfde mate van beheer (71%) as met agt ure dooptyd en volle blaarbedekking.

Effek van lae temperatuuropberging van kwekerybome na doopbehandeling

n die praktyk word kwekerybome direk na uithaal uit die kwekery aan produsente verskaf wat dit na die betrokke plaas vervoer vir boord oorplanting. Voor aanplanting word die wortelstelsels van die bome in kratte met klam saagsels verpak en vir ses tot agt weke in koelkamers gestoor. Die doel van hierdie aksie is om die bome voor planting aan te pas by die nodige kouebehoeftes van appelbome. Aangesien die invloed van langdurige lae temperatuur op letselaalwurms nie bekend is nie, is ‘n eksperiment uitgevoer om te bepaal of die behandeling voordelig of nadelig vir beheer sal wees.

Twee jaar oue kwekery bome is te Ceres versamel en gelyk verdeel tussen twee sistemiese middels, plus ‘n onbehandelde kontrole. Alle middels is met ‘n doopbehandeling toegedien soos reeds bespreek. Elkeen van die drie groepe het uit vier bome bestaan. Na behandeling is alle behandelings in twee gelyke aantalle verdeel. Een deel is geëvalueer vir aantal letsel- aalwurms teenwoordig. Die tweede groep is vir agt weke in ‘n koelkamer van 10°C in klam saagsels gestoor.
Daarna is die getal lewende letselaalwurms bepaal soos vir die eerste groep. Die resultate word in Tabel 5 aangebied. Teen die verwagting, het die langdurige lae temperatuur nie ‘n vermindering in populasies veroorsaak nie. Inteendeel, die getalle het by die kontrole met 80% vermeerder. Na behandeling met Actara sowel as Kohinor het die getalle ook baie vermeerder: met 94% en 59% onderskeidelik. Die resultate van die behandelings sowel as die kontrole toon
dus duidelik dat selfs agt weke blootstelling nie enige beheer van letselaalwurms veroorsaak nie. Koue behandeling kan dus nie as ‘n beheermaatreël gebruik word nie.
Die moontlikheid bestaan ook dat die hoë getal aalwurms vanaf die wortels in die saagsels kan versprei soos in die geval van grond- verspreiding. Besmette saagsels kan dus ‘n groot bron van oordraging wees indien die saagsels vir grondbewerking of kompos gebruik word.

Bestuur

Aangesien letselaalwurms in groot getalle ook in die grond voorkom, kan dit deur grondbewerkingsimplemente van besmette na ander blokke vervoer word. Indien besmette blokke bewerk word moet alle grond van die bande en implemente afgespuit word voordat nuwe onbesmette blokke met dieselfde implemente bewerk word. Dit is derhalwe ook belangrik dat kwekerye sowel as volwasse boorde gereeld gemonitor word om vas te stel wat die situasie met aalwurmvoorkoms is. Monsterneming moet ewekansig in ‘n blok geneem word en veral in areas waar swak groei voorkom. Grond- sowel as wortelmonsters moet gedurende Februarie, Maart of April versamel word en deur ‘n aalwurmdeskundige ontleed word. Indien hoë populasies voorkom moet chemiese beheer deur middel van looftoediening toegepas word in kwekerye sowel as kommer-siële boorde. ‘n Sistemiese nematisied moet vir dié doel gebruik word en herhaling van toediening moet jaarliks oorweeg word. Toedienings moet gedurende Januarie of begin Februarie gemaak word voordat die populasie die hoogste getalle bereik (Fig 1). Nuwe blokke vir aanplantings van kwekerye of kommersiële boorde moet ook gemonster word vir voorkoms van aalwurms, en indien wel moet dit vóór aanplanting berook word.

Na uithaal van loofbehandelde kwekerybome vir bemarking aan die bedryf kan een van die volgende doopbehandelings toegepas word, naamlik die warmwatertegniek of chemiese dooptegniek. Eersgenoemde is egter ietwat riskant en duur en moet met industriële masjiene toegepas word.

Die dooptegniek van kwekerybome moet toegepas word gedurende Mei en Junie, voordat dit aan produsente verskaf word. Indien die koue behoeftetegniek deur die produsent toegepas word, moet die dooptegniek weer deur die produsent self toegepas word.

Fig 1: Seisoensvoorkoms van letselaalwurms in die grond van ‘n aflêer-moederblok te Ceres.
Tabel 1: Persentasie beheer* van letsel-aalwurms met verskillende nematisiedes en toedieningsmetodes.
Tabel 2: Effek van warmwaterbehandeling op M109 kwekerybome by verskillende temperature en behande-lingstye op die beheer van letselaalwurms en op groei van bome.
Tabel 3: Beheer van letselaalwurms met verskillende nematisiedes, met doopbehandeling van kwekerybome wat volledige blaarbedek- king het.
Tabel 4: Beheer van letselaalwurms met doopbehandeling van kwekerybome sonder enige blare.
Tabel 5: Effek van opberging van kwekerybome vir agt weke by lae temperatuur op letselaalwurm populasies, na doopbehandeling.

Bedankings

  • Suid-Afrikaanse Appel- en Peer Assosiasie vir finansiële ondersteuning
  • Hortgro Pome vir adminstratiewe ondersteuning
  • Wim van Rijswyk en Garrick Campbell van Rosendal-kwekery vir verskaffing van plantmateriaal en beskikbaarstelling van proefpersele en arbeid
  • Dr Rinus Knoetse van LNR Intruitec Nietvoorbij vir bepaling van aalwurmgetalle
  • Vititec vir gebruik van hul industriële apparate vir warmwater- behandeling
  • Alle bydraes word besonder baie waardeer
Dr de Klerk se eposadres: annette8@telkomsa.net
Back To Top