Is nette nuttig vir steen-vrugte?
Bekende steenvrugprodusente deel hulle insigte oor die voordele en uitdagings van nette oor steenvrugboorde. Deur Anna Mouton.
Nette was een van die onderwerpe wat tydens die steenvrugvelddag by die onlangse Hortgro Tegniese Simposium gedek is. Die gesprek is gelei deur produsent en tegniese raadgewer Petru du Plessis met bydraes van bedryfsbekendes Thomas Babl van Lindenhof en Stephan Strauss van Sandrivier.
"Ek dink ons is gevra om iets oor nette te sê omdat ons al die meeste foute daarmee gemaak het," het Du Plessis gesê. "Maar nette is nie 'n tendens wat tydelik met ons is nie – ek dink ons gaan meer nette sien in die toekoms."
Read MoreDie voordele van nette
Nette word hoofsaaklik opgerig om vrugte te beskerm teen wind, hael, ysreën, sonbrand, of selfs voëls. Natuurlik word nie alle areas deur al hierdie probleme geteister nie, en dus sal die redes vir nette verskil van area tot area.
Du Plessis het sy pruimboorde onder nette gesit om windskade te keer. "Daar is so twee of drie keer in 'n seisoen 'n geweldige sterk wind in Stellenbosch. Dit is net genoeg om baie kosmetiese merkies te gee op die vrugte wat dit dan vir uitvoer diskwalifiseer." Hy het gevind dat die nette die windspoed met ongeveer die helfte verminder.
By Lindenhof het Babl aanvanklik nette oor sy nektariens gesit vir ysreën, terwyl Strauss weer meer bekommerd was oor sonbrand en wind.
Dis nie net bome wat minder wind waardeer nie. Babl het daarop gewys dat dit ook chemiese bespuiting vergemaklik.
Wanneer dit kom by risikobestuur is nette soos enige ander vorm van versekering – hulle betaal vir hulself in die jare met ongunstige toestande. Maar die voordele van nette is nie beperk tot vrugte beskerm nie.
"As ons 'n jong boord gaan vestig, sit ons deesdae die nette sommer van die begin af oor," het Babl gesê, "want 'n jong boord vestig net vinniger onder 'n net. Die ekstra vrugte wat jy in die tweede na vierde jaar pluk gaan omtrent die helfte van die nette kan betaal."
Du Plessis reken die grootste voordeel van nette is beter vruggrootte en -kwaliteit wat lei tot meer uitvoerkartonne per hektaar. "My produksies is vanjaar gemiddeld oor die hele plaas 'n bietjie oor 8 000 kartonne per hektaar. Dis omdat die vrugte onder die nette groot raak en die uitpakpersentasies omtrent 85 – 95% is."
Die nette skep 'n meer gematigde omgewing vir die bome wat reageer met sterker groei. Daarby neig waterverbruik om minder te wees onder nette.
Vrae oor vrugset en -kwaliteit
In Du Plessis se ervaring veroorsaak nette nie na verloop van tyd onvrugbaarheid in steenvrugte nie. 'na die vierde oes het ek nog nie 'n tendens gekry dat die pruimbome onder die nette enigsins minder blomme kry of laer oeste handhaaf nie. Meer en beter somerloofbestuur met snoeiskêre word wel nodig."
Die bestuur van bye onder nette kan 'n uitdaging wees. Du Plessis is 'n voorstander van nette wat kan oop- en toemaak vir pruime. Hy glo egter nie dis nodig vir vrugsoorte soos perskes en nektariens wat selfbestuiwend is nie.
Babl maak weer nie sy nette oop nie, omdat die risiko vir skade te groot is. Hy het gevind dat bestuiwing meer problematies is later in die blomperiode wanneer toestande warm en droog is, en die bye onder stres verkeer. Die bye blyk ook sekere kultivars – byvoorbeeld African Delight – te verkies.
By Sandrivier het Strauss ongeveer 95 hektaar wat heeltemal onder nette is. Die nette kan nie oop- en toemaak nie. Hy rapporteer dat die bye beter vaar wanneer die kante van die nette toe is en hulle binne bly. Wanneer die bye buite is, probeer hulle deur die nette kruip en sit dan vas.
Strauss beklemtoon ook die belangrikheid van genoegsame vryhoogte tussen die bome en die dak van die net. "Ten minste 'n meter, maar ons het begin by 1.2 meter en ons is nou al by 1.8 meter – wat die net natuurlik baie duurder ook maak."
Alhoewel nette vruggrootte bevoordeel, kan daar ook nadelige effekte op vrugkwaliteit wees. Sonlig is noodsaaklik vir die ontwikkeling van rooi en swart kleur in pruime. Deur sonlig te verminder, verminder nette terselfdertyd hierdie kleure. Maar te veel sonlig kan ook rooi kleur verbleik, byvoorbeeld wanneer Ruby Star in vol son opeindig met geel skouers.
Goeie lighuishouding onder nette is dus noodsaaklik vir goeie rooi en swart kleur, veral gegewe die geiler groei van die bome.
Laastens kan daar 'n hoër risiko van interne hitteskade in vrugte onder nette wees tydens hittegolwe. Babl het temperatuur-aantekenaars binne en buite sy nette. "Die temperatuur onder die net kan tot 5 °C hoër piek as buite. Die gemiddelde temperatuur deur die dag is bietjie laer onder die net, maar dit bou op hier na die middag toe."
Vrugte vanaf bome met hoër oesladings blyk meer vatbaar te wees vir interne hitteskade. Wanneer hittegolwe verwag word mag dit dus raadsaam wees om van die vrugte te oes voordat die warm weer aanbreek.
Praktiese oorwegings
Die belangrikste eienskap van 'n net is die hoeveelheid lig wat dit deurlaat. 'n Net met 'n skadufaktor van 20% sal die hoeveelheid sigbare lig met 12 – 20% en die hoeveelheid ultraviolet lig met 20 – 28% verminder. Die presiese syfer sal wissel na gelang van onder andere die tipe en kleur net.
Du Plessis gebruik 'n klas 20 kristal skadunet bo-oor sy boorde en klas 40 groen nette aan die kante. Hy glo dat die kleur van die net minder belangrik is as die skadupersentasie.
Die koste van nette is tans ongeveer R300 000 per hektaar. Babl het egter produsente aangeraai om nie te hard te probeer bespaar op oprigtingskoste nie, aangesien kontrakteurs waarskynlik eerste sal sny op materiale soos ankers, kabels, en pale.
"Enige struktuur is net so sterk soos sy swakste skakel," het Babl gesê. "En as jy wil hê almal moet weet jy het nette opgesit, dan maak jy dat daai nette val. Spandeer liewers bietjie meer en sit daai ekstra ankers in, want die ankers en die ankerdrade is die behoud van jou stelsel."
Hy het ook gewaarsku teen kontrakteurs toelaat om pale en ander materiaal met voertuie in nuwe boorde in te ry, aangesien dit die harde werk van grondvoorbereiding tot niet kan maak.
Alhoewel al drie sprekers voel dat daar nog baie te leer is, is hulle dit eens dat nette vorentoe net meer belangrik gaan word. "Vir my as 'n pruimboer bied die nette 'n geweldige voordeel," was Du Plessis se slotsom. "Ons kry beter vruggrootte, en vruggrootte is gekoppel aan kartonne per hektaar, en dit is wat ons steenvrugbesigheid dryf."
Main image: Pruimboorde onder nette by Petru du Plessis
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…