Behaal só goeie rooi kleur in appels en pere
’n Gebrek aan goeie rooi kleur is dikwels die struikelblok wat vrugte ongeskik maak vir uitvoer. Raadpleeg hierdie handige opsomming van praktiese oorwegings om die beste rooi kleur in appels en pere te behaal. Deur Wiehann Steyn
’n Goeie begin is halfpad gewin
Uitvoergehalte rooi kleur begin reeds met die aanplant van die boord. Die volgende punte kan help om latere kopseer te voorkom.
- Plant rooier seleksies van bestaande kultivars.
- Kultivars wat moeilik kleur is nie geskik vir areas met warmer nagte nie. Nagtemperature onder 15°C bevorder kleur in meeste appel- en sommige peerkultivars – Cripps Pink-appels benodig selfs laer temperature.
- Neem mikroklimaat in ag. Rooi kleur gaan moeiliker ontwikkel op dele van die plaas wat warm is óf wat geil groei teweegbring. Rosemarie-pere ontwikkel byvoorbeeld beter rooi kleur op ligte, sanderige of klipperige gronde as op swaar kleigronde. Dit mag moontlik die gevolg wees van ’n indirekte effek op groeikrag.
Read MoreBestuur van lig in boorde
Rooi kleur-ontwikkeling is ’n reaksie op hoë sonbestraling – die omvang en intensiteit van rooi kleur is ’n funksie van hoeveel en vir hoe lank lig die vrug tref. Skadu verminder rooi kleur-ontwikkeling. Neem dus die volgende punte in ag om te verseker dat vrugte oral in die boom genoeg blootstelling aan lig ontvang.
- Kies ’n opleistelsel wat nie ’n groot aantal vrugte sal beskadu nie.
- In teorie behoort dunner bome op dwergende onderstamme relatief meer vrugte met goeie ligblootstelling te hê as groter, ronder bome op groeikragtige onderstamme.
- Navorsing het gevind dat meer dwergende onderstamme die kleur van pere verbeter, ongeag die grootte van die bome – pere wat dieselfde hoeveelheid lig ontvang was rooier op dwergende as op groeikragtige onderstamme.
- Snoei die bome om voldoende lig dwarsdeur die boom te verseker. Beide winter- en somersnoei mag nodig wees. In appels kan die toediening van proheksadioonkalsium ligverspreiding verbeter deur lootgroei te verminder.
- Rooi kleur in pere bereik ’n hoogtepunt voor oes – tipies in November tot Desember vir Forelle- en Rosemarie-pere. Goeie lig blootstelling in hierdie maande sal help om pere se potensiaal vir rooi kleur-ontwikkeling te ontsluit. Daarteen kan rooi kleur vervaag nader aan oes sodat ’n mate van skadu dan voordelig mag wees. Wees dus versigtig vir somersnoei te ná aan oes in gebloste pere.
- Oorweeg die afbreek of afblaas van blare wat hoë-waarde appels beskadu kort voor oes.
- Wees bewus dat vrugte binne dieselfde tros mekaar beskadu – dun dus uit sover as moontlik.
Plaas vrugte in die regte lig
Goeie rooi kleur verg sonlig – maar te veel blootstelling aan sonlig skep die risiko van sonbrand. Sekere omstandighede, soos droogtestres, verhoog die risiko van sonbrand en is gelyktydig nadelig vir rooi kleur-ontwikkeling.
- Rooi kleur-ontwikkeling mag swakker wees aan die suidelike kant van rye wat oos-wes lê. Terselfdertyd kan sonbrand verliese veroorsaak in die vrugte aan die noordelike kant van die ry.
- Skadunette kan rooi kleur-ontwikkeling belemmer indien die vrugte nie genoeg lig kry nie, maar beskerm ook die mees blootgestelde – en potensieel rooiste – vrugte teen sonbrand. Bome onder nette moet dus versigtig bestuur word om die beste ekonomiese voordeel te realiseer. Lees meer oor produsente se ervaring hiermee in die Maart 2021 uitgawe van Fresh Quarterly, Hortgro Science se tegniese tydskrif.
- Baie ander appel-produserende areas in die wêreld gebruik ’n deklaag wat lig weerkaats om rooi kleur-ontwikkeling te bevorder. Weerkaatsende deklae kan die negatiewe effek van skadunette op rooi kleur-ontwikkeling teenwerk.
- Plaaslike navorsing het gewys dat weerkaatsende deklae ook met sukses in appels in Suid-Afrika aangewend kan word, veral in bome wat relatief oop is. Die doeltreffendheid in pere is nie bekend nie.
Kultivars wat moeilik kleur is nie geskik vir areas met warmer nagte nie.
Die rol van voeding
Rooi kleur verbeter soms ná die toediening van sekere voedingsmiddels omdat dit ’n bestaande tekort regstel – nie omdat spesifieke voedingsmiddels rooi kleur bewerkstellig nie. Die voedingstatus van bome kan egter vrugkleur beïnvloed soos hieronder uiteengesit.
- Oormatige stikstofvlakke kan rooi kleurontwikkeling indirek benadeel deur bome geiler te laat groei, wat lei tot meer skadu. Oormatige stikstof belemmer ook die vorming van rooi pigment direk.
- Hoë stikstofvlakke in die skil maak die vrugte groener. Rooi blos vertoon onaantreklik modderig op donkergroen vrugte.
- Rooi kleur-ontwikkeling kan deur té hoë oesladings verminder word. Dit is as gevolg van vrugte in trosse wat mekaar beskadu, laer vlakke van die chemiese boublokke van rooi pigmente, en meer sonbrand. Bome met swak koolhidraatreserwes sal gewoonlik ook vrugte met swak rooi kleur dra.
- Ringelering van appelbome voor oes mag soms rooi kleur-ontwikkeling verbeter, maar dit werk nie altyd nie en kan ongewenste newe-effekte hê.
Koue weer is goed vir kleur
Lae temperature bevorder die produksie van rooi kleur – dus die belangrikheid van korrekte plasing van boorde. Daarby kan produsente ook die volgende opsies oorweeg om temperatuur tot hulle voordeel te gebruik.
- Die kleur van rooi appels kan drasties verbeter wanneer ’n koue front kort voor oes verbykom. Indien rypheid dit toelaat, kan uitpakke verbeter word deur die oes te vertraag tot na die koue. Wees egter versigtig in die geval van appelkultivars wat sensitief is vir naoesdefekte soos interne verbruining – die risiko hiervan verhoog indien vrugte na optimum rypheid bly hang terwyl daar gewag word vir beter kleur.
- Dieselfde benadering sal werk vir Rosemarie-pere en dalk ook vir Forelle. Alle peerkultivars reageer egter nie op lae temperature nie.
- Vertraging van die oesdatum in laat appelkultivars mag daartoe lei dat die vrugte meer koue-blootstelling kry en dus beter rooi kleur ontwikkel. Rypwording kan chemies vertraag word deur aanwending van middels soos amino-etoksivinielglisien – AVG – en 1-metielsiklopropeen – 1-MCP. Wees egter bedag daarop dat rooi kleur kan vervaag indien vrugte gereed is om te oes voordat lae temperature plaasvind.
- Huidige onafgehandelde navorsing deur prof. Karen Theron en Philagro dui daarop dat rooi kleur moontlik verbeter kan word deur ’n voor-oes aanwending van middels wat rypwording bevorder, soos 1-aminosiklopropaan-karboksielsuur – ACC – gevolg deur aanwending van ’n middel wat rypwording vertraag.
- Oorhoofse verdampingsverkoeling kan die vorming van rooi kleur bevorder en die afbraak daarvan by hoë temperature verhoed. Ongelukkig is hierdie opsie beperk deur die skaarste van groot hoeveelhede goeie kwaliteit water in Suid-Afrika.
Daar is geen wondermiddel wat groen appels sal rooi maak sonder hoë ligvlakke en lae temperature nie. Chemiese bevordering van rypwording kan rooi vrugkleur versterk, maar kan daarby ernstige nadelige effekte op interne vrugkwaliteit en bergingsvermoë hê.