
Die soet en suur van laat oes
Wat is die verband tussen tafeldruiwe se vlak van rypheid by oes, en die gehalte daarna? Ons bespreek praktyke om defekte ná die oes te verminder. Deur Jorisna Bonthuys
Wat is die verband tussen rypheidsgraad, druifgehalte en naoes-defekte?
Een van die vernaamste uitdagings wat tafeldruifprodusente in die gesig staar is om balans te vind tussen optimale rypheid, verbruikers se smaakvoorkeure en die naoes-houvermoë van hul produk.
In hierdie artikel word van beskikbare navorsingsuitsette en waarnemings oor die effek van rypheidsgraad tydens oes opgesom.
Read MoreDie totale oplosbare vastestof (TOVS) konsentrasie, ook bekend as suikerinhoud, die titreerbare suurinhoud (TS) en die suiker-tot-suur-verhouding (TOVS:TS) in korrels kan as maatstawwe van die rypheidsvlak van tafeldruiwe gebruik word.
Ongelukkig is daar geen algemene standaard beskikbaar om aan te dui wanneer dit die regte tyd is om te oes nie – elke kultivar het 'n eie, optimale korrelsuikerinhoud waarby dit geoes moet word vir die uitvoermark waarheen dit versend word.
Sommige kultivars se optimale titreerbare suurinhoud is bekend. Vir hierdie kultivars kan die optimale suiker-tot-suur verhouding bereken word.
Tans word suikerinhoud (gemeet in °Brix-eenhede) oorwegend as maatstaf gebruik om die rypheidsvlak van druiwe te bepaal. Dit is 'n maklike meting en boonop is die minimum suikervlak vir oes bekend.
Suikerinhoud is egter nie noodwendig die enigste maatstaf waarmee optimale rypheid bepaal moet word nie. Só sê Trix Quixley, NexusAG se tegniese en kommersiële bestuurder. Dit is óók belangrik om die titreerbare suurinhoud van druiwe te toets wanneer besluit word om te oes al dan nie.
Druiwekorrels ondergaan verskeie fisiologiese en chemiese veranderinge wanneer dit ryp word. "Terwyl suikervlakke styg tydens rypwording, daal titreerbare suurvlakke in die korrels,” sê Quixley. "Fisiologies is die druiwe oesgereed wanneer dit die voorgeskrewe suikervlak bereik sonder dat dit te veel suurgehalte verloor het."
Met die tydige oes van druiwe, gegrond op die spesifieke suiker- en suurinhoud en suiker-tot-suur-verhoudings van kultivars kan naoes-kwaliteitsprobleme beperk word. Volgens Quixley het hierdie suiker-tot-suur-verhoudings 'n direkte invloed op die houvermoë van die druiwe ná die oes.
"Die uiteinde hiervan, veral wat betref vrugbaarder kultivars wat ingevolge voorskrifte vir hoër suikervlakke geoes moet word, is dat probleme ná die oes kan opduik. Dit gebeur ondanks die feit dat druiwe oënskynlik in 'n perfekte toestand gepluk, verpak en versend word.
"By wingerde met groter oesladings neem suikerontwikkeling ook langer voordat dit die optimale vlak vir oes bereik in vergelyking met wingerde met meer optimale oesladings. Dit beteken dat sommige druiwe fisiologies dus 'ouer' is wanneer dit geoes word."
Vir van die kultivars wat plaaslik verbou word, is die optimale suiker-suur-verhoudings nie beskikbaar nie. Quixley meen nog navorsing is nodig om die voorskrifte vir optimale rypheid daar te stel.
Rypheidsbepaling van kultivars
Rypheidsgraad by oes is een van verskeie faktore wat naoes-gehalte kan beïnvloed, het Eunice Avenant, die Suid-Afrikaanse Tafeldruifindustrie (SATI) se opleidingsbestuurder gesê. Sy is 'n buitengewone dosent in Win-gerdkunde verbonde aan die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynnavorsingsinstituut in die Department Wingerd- en Wynkunde van Universiteit Stellenbosch.
Die rypheidstandaard wat algemeen gebruik word vir tafeldruiwe is die minimum totale oplosbare vastestof (TOVS) konsentrasie. Vir sekere kultivars is 'n minimum TOVS:TS ook vasgestel.
Tabel 1 bevat die minimum standaarde van die top 20 kultivars landwyd (op grond van die aantal hektaar hiervan wat in 2021 aangeplant is). Vir die meeste van hierdie kultivars is daar tans geen TOVS:TS-riglyne beskikbaar nie.
Navorsing wat in SA, Chile, Amerika en elders gedoen is, toon dat verskeie faktore druifgehalte kan beïnvloed. Hierdie faktore sluit omgewingsfaktore, klimaatstoestande vóór en tydens die oes, wingerdbestuur, asook oes- en naoes-hanteringspraktyke in.
Gehalteprobleme met tafeldruiwe hou dikwels verband met die bestuurspraktyke wat gevolg word, het Quixley gesê. "Goeie boerdery- en bestuurspraktyke is van sleutelbelang om probleme met naoes-kwaliteit te beperk," beklemtoon sy.
Goeie bestuurspraktyke sluit in om trosse tydig en optimaal uit te dun. Vermy enige skade aan die korrels. Hieronder tel insekskade, windskade en wanneer trosse te laat uitgeknip word. Indien skade wél voorkom, moet die betrokke korrels vroegtydig verwyder word en die oorblywende trosse met 'n toelaatbare swamdoder behandel word.
Dit is ook belangrik dat die stokke geen onnodige stres (byvoorbeeld waterstres) ondervind tydens belangrike stadiums van korrelontwikkeling nie. 'n Goeie, voorkomende Botrytis-bestuursprogram moet in plek wees.
Navorsing op Crimson Seedless-druiwe toon dat daar dikwels 'n hoër persentasie korrelbederf bespeur word wanneer dié kultivar later as by optimale rypheidsvlak geoes word. Hierdie kultivar se naoes-houvermoë word beïnvloed deur die suiker-tot-suur-verhouding daarvan asook prosedures wat tydens oestyd en verpakking gevolg word. Omgewingsomstandighede (vóór die oes) kan ook 'n rol speel.
Quixley beveel aan dat alle kultivars op die optimale graad van rypheid geoes word om naoes-risiko's te verminder. "Van die produsente oes moontlik te laat – hulle wag vir suikervlakke om te styg as hul drag te hoog is en dan breek die sure intussen af tot 'n baie lae vlak. Gevolglik word die druiwe te 'oud' geoes. Deur later te oes bring boonop verhoogde risiko's van verbruining en ander gehalteprobleme mee."
Jan Avenant, 'n senior navorser verbonde aan die LNR se Infruitec-Nietvoorbij op Stellenbosch, sê die rypheidsgraad van tafeldruiwe by oes het bepaald 'n invloed op die moontlike verbruining daarvan ná die oes.
Dit blyk alle wit tafeldruifkultivars is vatbaar vir verbruining. Regal Seedless moet byvoorbeeld geoes word by 'n korrelsuikerinhoud van 18 °Brix, maar vóór 20 °Brix-vlakke bereik word om verbruining te verhoed (sien meegaande tabel vir inligting).
Verskille tussen kultivars word egter bespeur wat die voorkoms van verbruining betref. Navorsingsresultate oor die optimale rypheidsgraad van 'n enkele wit kultivar kan nie as riglyn vir ander kultivars dien nie.
Dit blyk dat eksterne verbruining van Thompson Seedless en Prime toeneem met verhoogde oesrypheid.
Ander navorsing het bevestig dat oes by hoë rypheidsgrade meer verrotting van druiwe kan veroorsaak by onder andere, Prime, Crimson Seedless, Thompson Seedless en Regal Seedless.
Fokus op goeie wingerdbestuur
Uit 'n wingerdbestuursoogpunt is daar volgens Quixley ook ander faktore wat suikeropbou vóór 'n oes kan beïnvloed. "As die stokke te veel druiwe aan het en nie optimale hoeveelhede fotosintate kan produseer vir suikerproduksie nie, neem dit langer vir die suikervlakke om tot op die voorgeskrewe vlak te styg. Hoe langer dit neem vir suikerakkumulasie, hoe laer daal die suurvlakke."
Voorts speel bemesting en besproeiings-praktyke óók 'n rol. "As die stok byvoorbeeld uit 'n besproeiingsoogpunt onder stres verkeer (hetsy weens oor- of onderbesproeiing) kan die verhouding van suiker tot suur in die korrels benadeel word. Besproeiing moet daarom altyd optimaal wees – neem die basiese beginsels by verskillende fenologiese stadiums van die wingerdstok in ag."
By van die kultivars, wat baie vrugbaar is, word soms 'n oormaat trosse aan stokke gelaat wat gehalteprobleme kan veroorsaak. "Boer met stokke wat in balans is – die stok benodig genoeg blare vir die korrels wat rypgemaak moet word. Hoe langer die trosse hang voor die oes, hoe swakker hul houvermoë."
Vanjaar het sommige produsente tot vyf keer deur dieselfde blok geoes omdat hul druiwe nie egalig ryp geword het nie. "Die tendens is dat jy meer defekte begin optel vanaf die derde oes in dieselfde blok," sê Quixley.
Rusbreekspuitmiddels moet tydig en teen 'n optimale dosis toegedien word om egalige bot te verseker. Lowerbestuur en oesbeheer moet ook só gedoen word dat alle trosse wat geoes word, binne 'n maksimum van twee generasies val.
Related Posts
Improved control of sour rot on citrus
Exploring potential fungicide solutions for improved control of sour rot on citrus. By Meagan van…
Extension briefs for February and March 2025
By Hannes Bester, MC Pretorius, Wayne Mommsen, Coenraad Fraenkel, André Combrink, Natasha Jackson, Jan Landman,…