Die beste praktyke vir Cripps Pink
Hierdie riglyne mik om die kwaliteit van Cripps Pink-appels deur korrekte voor- en naoes praktyke te bevorder. Opgestel deur die Store-it Groep vir Hortgro Science. Deur Anna Mouton
Korrekte plukrypheid vir langtermyn berging
Plukrypheid is die belangrikste faktor in die ontwikkeling van diffuse verbruining. Moet nooit vrugte wat na hulle optimum geoes is langtermyn berg nie. Die kriteria vir korrekte plukrypheid is:
Read More- Optimale styselafbraak is 20 – 30%. Maksimum is 40%. Afhangende van ander parameters kan vrugte by 15% vrygestel word.
- Fermheid gemeet met 'n 11.1-mm punt moet meer as 7.8 kg wees – vrugte moet teen 6.8 kg in die Verenigde Koninkryk land.
- Totale oplosbare vaste stowwe moet verkieslik bo 12.5% wees – by ontvangs 13.0%.
- Titreerbare suur moet 0.75 – 0.55% wees.
Boordfaktore wat bergingsvermoë beïnvloed
Die geskiedenis van progressiewe defekte en rypwordingstempo van elke boord gee 'n indikasie van die risiko van naoes probleme. Die volgende faktore kan die moontlikheid van defekte na langtermyn berging verhoog:
- Ouderdom van bome. Moet eerder nie vrugte van jong bome vir langer as 12 weke, insluitende verskepingstyd, berg nie.
- Oeslading. 'n Ligter oes kan meer vatbaar wees vir naoes defekte as gevolg van vroeër rypwording.
- Besproeiingstatus. Beide té veel en té min besproeiing kan lei tot vinniger rypwording, en gevolglik swak bergbaarheid.
- Grondtipe. Sanderige gronde is geneig om rypwording te versnel.
- Mineraalvoeding is belangrik vir beide rypwordingstempo en bergbaarheid.
- Oorgewerkte bome kan 'n groter risiko hê van vrugte met interne verbruining as gevolg van verhoogde stres.
- Stres. Vrugte vanaf bome wat enige tipe stres ondervind het tydens die seisoen behoort binne een week gepak en verkoop te word – 'n maksimum van ses weke insluitende alle hantering en verskeping.
Maniere om variasie te verminder
Rangskik boorde drie weke voor oes volgens plukrypheid. Neem monsters voor lewering aan die pakstoor om die rypwordingstempo en bergingsvermoë te bepaal. Bemark vrugte vanaf boorde met vinniger rypwording eerste, en moet dit eerder nie in beheerde-atmosfeer toestande berg nie.
Bepaal die rypheid van vrugte aan beide die binne- en die buitekant van die boom. Vrugte aan die buitekant sal eerste geoes word omdat dit vroeër aan die blokkleurstandaard van 40 – 60% in sekere markte sal voldoen.
Vrugte aan die binnekant van die boom word dikwels tot laaste gelos sodat dit beter rooi kleur kan ontwikkel. Hou egter in gedagte dat hierdie vrugte selfs by die eerste plukslag ryper mag wees as vrugte aan die buitekant van die boom. Dit behoort dus verkieslik nie in beheerde-atmosfeer toestande óf vir langer as 12 weke, insluitende verskepingstyd, geberg te word nie.
Vermy 'n uitgerekte plukvenster en moenie vrugte lank uit mekaar oes nie.
Die kleur van vrugte aan die binnekant van die boom kan moontlik verbeter word deur gebruik te maak van 'n weerkaatsende deklaag. Indien die risiko van sonbrand dit toelaat kan blare verwyder word na die eerste pluk.
Afhangende van die omvang van die eerste pluk en die styselafbraakvlakke kan die vrugte wat tweede gepluk word in langtermyn beheerde-atmosfeer toestande geberg word.
Moet egter nie vrugte met styselafbraak van meer as 50% in beheerde-atmosfeer toestande vir langer as 12 weke berg nie. Sulke vrugte mag dalk suksesvol in 'n gewone atmosfeer met of sonder 1-MCP óf in korttermyn beheerde-atmosfeer toestande geberg word.
Hantering na oes en tydens berging
Moenie kratte vol vrugte in die son laat staan nie. Versamel dit in die skadu voordat dit so gou as moontlik – dieselfde dag as wat dit gepluk is – na die pakhuis geneem word.
Laai die vrugte by die pakhuis so vinnig as moontlik – binne ses ure na aflewering – in die koelkamer. Moenie vrugte oornag of in die skadu buite die pakhuis laat staan om af te koel nie.
Koelkamertemperature moet nie bo 3 – 4ºC fluktueer terwyl warm vrugte bygevoeg word nie. Oormatige temperatuurwisseling kan die afkoeling van vrugte benadeel. Skeiding van warm en koue vrugte deur gordyne in die koelkamer kan help om fluktuasie te verminder. Die verkoelingskapasiteit van die koelkamer moet egter voldoende wees vir die volume vrugte – moniteer dit. Laai twee of drie koelkamers gelyktydig om meer egalige verkoeling te verkry.
Die vrugvleistemperatuur moet 4ºC bereik na 48 uur. Daarna moet vrugte trapsgewys verkoel word – sien protokolle hieronder. Trapsgewyse verkoeling lewer beter resultate as enkeltemperatuur berging by 1ºC in terme van radiale en diffuse verbruining na langtermyn – meer as sewe maande – berging in beheerde-atmosfeer toestande.
Moniteer CO2-vlakke wanneer warm vrugte in 'n koelkamer toegemaak word. CO2-vlakke moet nooit bo 1% styg nie. Gebruik addisionele kalk of nuwe-generasie skroppers om CO2-vlakke tot 0.5% te verlaag.
Etileen-inhibeerders – 1-MCP – sal vrugte bevoordeel deur rypwordingstempo, olierigheid, oppervlakkige brandvlek, en interne verbruining te verminder. Vrugte moet binne drie – maksimum sewe – dae na oes behandel word, vernaam indien dit vir lang periodes van tot drie maande in 'n gewone atmosfeer, of meer as drie maande in beheerde-atmosfeer toestande geberg gaan word. Etileen-inhibeerders behoort saam met trapsgewyse verkoeling gebruik te word, veral vir langer bergingsperiodes.
Trapsgewyse verkoeling: eksperimentele resultate
Die volgende protokolle vir trapsgewyse verkoeling is eksperimenteel getoets. Almal het die voorkoms van interne-verbruining verlaag maar trapsgewyse verkoeling vanaf 3ºC – protokol 2 – het die beste resultate gelewer.
1-MCP in die vorm van SmartFresh is in alle gevalle binne sewe dae na oes aangewend. Die beheerde atmosfeer in alle gevalle was O2-vlakke van 1.5% en CO2-vlakke van 0.5%.
Protokol 1
- Begin met 30 dae by 4ºC
- Volg met 30 dae by 3ºC
- Volg met 30 dae by 2ºC
- Handhaaf daarna by 1ºC.
Protokol 2
- Begin met 30 dae by 3ºC
- Volg met 30 dae by 2ºC
- Handhaaf daarna by 1ºC.
Protokol 3
- Begin met 14 dae by 2ºC in kommersiële beheerde-atmosfeer stoor
- Volg met 14 dae by 1ºC in kommersiële beheerde-atmosfeer stoor
- Daarna is 0.5ºC gehandhaaf totdat vrugte in September na Universiteit Stellenbosch se eksperimentele stoor verskuif is.
- Vir die res van tydperk is 1ºC gehandhaaf.
Riglyne vir beheerde-atmosfeer O2– en CO2-vlakke
Hierdie riglyne is vanaf Hortgro en die Landbounavorsingsraad (LNR) bekom. O2-vlakke van 3% en CO2-vlakke van minder as 1% word bereik deur verplasing met N2 binne die eerste 48 uur nadat die beheerde-atmosfeer kamer verseël is. Handhaaf daarna vlakke soos in Tabel 1 uiteengesit.
Riglyne vir dinamiese beheerde-atmosfeer-(DCA)-berging
Van Amerongen ACR-stelsel (DCA-RQ)
Die riglyne in Tabel 2 is gegrond op die Van Amerongen ACR-stelsel en die ervaring van pakhuise. Die stelsel maak staat op die meting van die verhouding tussen CO2-produksie en O2-verbruik, te wete die respiratoriese kwosiënt of RQ. Raadpleeg die diensverskaffer vir hulle spesifieke riglyne.
Dit is goeie praktyk om etanolvlakke in vrugte in dinamiese beheerde-atmosfeerberging te moniteer.
Isolcell of Gas At Site DCA-CF-stelsel
Die riglyne in Tabel 3 is gegrond op die stelsels wat deur onder andere Isolcell en Gas At Site gebruik word. Hierdie stelsels maak staat op die meting van chlorofil fluoressensie – CF – as 'n indikator van O2 vlakke. Raadpleeg die diensverskaffer vir hulle spesifieke riglyne.
Dit is goeie praktyk om etanolvlakke in vrugte in dinamiese beheerde-atmosfeer berging te moniteer.
Spesifieke naoes defekte: risiko faktore
Diffuse verbruining
Rypheid soos gemeet deur styselafbraak is gekoppel aan die ontwikkeling van beide diffuse en radiale verbruining. Voor-oesfaktore wat rypheid versnel is gekoppel aan die ontwikkeling van diffuse verbruining.
Styselafbraak 15 – 40%. Die risiko van diffuse verbruining tydens drie maande berging is laag. As berging langer duur as drie maande is die risiko van diffuse verbruining afhanklik van ander faktore.
Styselafbraak 40 – 50%. Die risiko van diffuse verbruining tydens drie maande berging is matig. As berging langer duur as drie maande verhoog die risiko van diffuse verbruining.
Styselafbraak meer as 50%. Die risiko van diffuse verbruining tydens drie maande berging is hoog.
Radiale verbruining
Rypheid soos gemeet deur styselafbraak is gekoppel aan die ontwikkeling van beide diffuse en radiale verbruining.
Styselafbraak 15 – 20%. Die risiko van radiale verbruining blyk hoër te wees na langtermyn berging, veral as 'n enkel bergingstemperatuur van 1ºC toegepas word.
Radiale verbruining blyk om aan voor-oestemperature verbind te wees. Voorlopige resultate toon 'n groter voorkoms van radiale verbruining in seisoene waar temperature laer en groei-graaddae minder as normaal is gedurende selverdeling – 0 – 50 dae na volblom – en selvergroting – 50 – 100 dae na volblom. Neem dus die seisoen in ag wanneer daar oor die langtermyn berging van vrugte besluit word. Hierdie resultate moet egter nog deur verdere navorsing bevestig word.
Beide diffuse en radiale verbruining
Lae bergingstemperature is verbind aan die ontwikkeling van beide diffuse en radiale verbruining. Temperature van -0.5 – 1ºC is in die verlede gekoppel aan die ontwikkeling van diffuse verbruining na slegs drie maande van berging.
Alle trapsgewyse verkoelingsprotokolle verminder beide diffuse en radiale verbruining na langtermyn – meer as sewe maande – berging in beheerde-atmosfeer toestande, in vergelyking met enkeltemperatuur berging by 1ºC.
CO2-verbruining
Cripps Pink is sensitief vir CO2 en sal geredelik CO2-verbruining ontwikkel indien CO2-vlakke bo 1% styg.
Nie-geperforeerde sakke kan lei tot die opbou van CO2, veral wanneer temperatuurwisseling tydens verskeping en distribusie plaasvind. Moet dus nooit medium- na hoërisikovrugte in toe sakke in bokse pak nie.
Oorweeg dit om die lugopeninge van verskepingshouers oop te laat teen 15m³ per uur tydens verskeping.
Sagte brandvlek
Soos met interne verbruining, word die risiko van sagte brandvlek deur trapsgewyse verkoeling verminder.
As gevolg van die risiko van sagte brandvlek moet Cripps Pink nooit teen temperature onder 0ºC verskeep word nie.
Related Posts
Predatory Mites Not All Mites Are Equal
Knowing your mites protects your crop. By Davina Saccaggi (CRI), Edward A. Ueckermann (NWU), Elleunorah…