Bespuiting in boorde met drapeernette
Hoe word deposisie beïnvloed? Deur Anna Mouton
Nette word toenemend in steen- en kernvrugboorde gebruik om vrugte teen die son en ander elemente te beskerm. Daar is egter verskillende menings oor wat die beste net is vir ‘n gegewe situasie. Drapeernette word gesien as ‘n koste-effektiewe en praktiese opsie, veral vir gevestigde boorde, maar sommige produsente het vrae rondom die effek van drapeernette op bespuiting. Dr Gideon van Zyl, tegniese raadgewer by ProCrop, het van sy insigte met ons gedeel.
Read MoreDrapeernette belemmer deposisie
Drapeernette skep ‘n versperring tussen druppels en teikens. “Die drapenet gaan definitief van die druppels se vliegpad blok,” sê Van Zyl. Daarby kan die drapeernet die lugstroom moontlik be’nvloed deur dit te deflekteer of deur turbulensie te veroorsaak. In beide gevalle sal minder druppels op die teiken land.
Van Zyl en sy kollegas by ProCrop het studies gedoen om te kyk na die impak van drapeernette op deposisie. Hulle het ‘n appelboord wat teen 4×2 meter geplant is, met en sonder drapeernette bespuit. Die proewe is met beide tradisionele laeprofiel- en moderne hoëprofiel-spuitmasjiene uitgevoer. Die laeprofiel-spuitmasjiene het ongeveer 722 liter per hektaar gelewer en ‘n vorentoe-spoed van 4.3 kilometer per uur gehandhaaf, teenoor 540 liter per hektaar en 6.3 kilometer per uur vir die hoëprofiel-spuitmasjiene.
“Tussen die oop boorde en die drapenetboorde is daar ‘n definitiewe afname in die deposisievlakke,” sê Van Zyl. “Hierdie werk het vir ons uitgewys dat met laeprofiel-spuitmasjiene met ‘n hoër lugvolumelewering was daardie verlaging omtrent 30%, en in die geval van hoëprofiel-spuitmasjiene met ‘n laer lugvolume was dit tussen 48% en 49%.”
Benewens deposisiekwantiteit, het Van Zyl-hulle ook gekyk na deposisiekwaliteit en eenvormigheid. Goeie deposisiekwaliteit word gekenmerk deur die eweredige verspreiding van druppels op ‘n teiken. Goeie eenvormigheid beteken dat druppels eweredig versprei is oor alle teikens in die boom. Drapeernette het ook deposisiekwaliteit en eenvormigheid be’nvloed, maar meer navorsing is nodig om hierdie verwantskappe te ondersoek.
Probleme rondom spesifieke toedienings
Van Zyl-hulle se boordstudies het aangedui dat deposisievlakke onder drapeernette in party gevalle te laag kan wees vir effektiewe siektebeheer. Daarby kan swak deposisiekwaliteit of eenvormigheid beteken dat die aktiewe bestanddeel in die spuitmiddel nie in kontak kom met die siekte of plaag nie – veral problematies as die siekte-agent nie rondbeweeg nie, soos in die geval van swamsiektes.
In baie appelboorde gaan die grootste gevaar van infeksie met fusi – Venturia inaequalis – en skade deur kodlingmot al reeds verby wees teen die tyd wat produsente hulle drapeernette opsit. Maar, waarsku Van Zyl, die risiko gaan verskil van area tot area, en van boord tot boord.
“As dit ‘n boord is met ‘n kodlingmotprobleem, gaan bestuur toegepas moet word deur die eerste generasie tot by die laaste generasie,” verduidelik Van Zyl. “Dieselfde gaan geld vir swamsiektes – indien jy vroeg in die seisoen ‘n infeksie het, gaan dit nodig wees om deurgaans bestuur toe te pas.”
Daar is nog baie om te leer oor die interaksie tussen peste en nette. Nette kan byvoorbeeld in teorie plae uit bome uithou. Maar wat gebeur as die plaag reeds in die boom is, en ‘n mens dan die net opsit? “Is dit ‘n probleem om dan jou bome toe te maak?” vra Van Zyl. “Ons het nie enige biologiese effektiwiteitsdata wat dit aanspreek nie.”
Bloedluisbeheer later in die seisoen is een van die toepassings waar Van Zyl uitdagings voorsien. Bloedluiskruipers is reeds moeilik om effektief raak te spuit omdat hulle deur digte lower beskut word. Daarby het meeste van die middels teen bloedluis nie ‘n lang residuele werking nie.
“Hoër volume spuite wat jy in Desembermaand gaan doen, indien jy bloedluis het, gaan definitief geaffekteer word,” sê Van Zyl. Hulle navorsing toon dat daar ‘n groter risiko is van swak deposisie met hoëvolume-spuite.
Rooispinnekop is nog ‘n potensiële tameletjie onder drapeernette. Rooispinnekopbevolkings kan vinnig groei onder nette in hoërisiko-boorde onder strestoestande. Van Zyl-hulle het in proewe gevind dat dit nie moontlik is om die rooispinnekop effektief deur die drapeernette te bespuit wanneer dit reeds handuit geruk het nie.
Siekte- en plaagbeheer is nie die enigste oorwegings met drapeernette nie. Van Zyl wys daarop dat kalsiumspuite ook moontlik be’nvloed kan word. “Gaan jy jou frekwensie moet verhoog? Ek het hierdie seisoen baie van hierdie vrae gekry, moet ek vroeër in die seisoen nou meer van my kalsiumspuite opsit?” Ongelukkig is daar tans min antwoorde.
Interaksies tussen bespuiting en drapeernette
Soos hierbo genoem, dui Van Zyl en sy kollegas se studies daarop dat lugvolume en lugspoed deposisie be’nvloed. Deposisie onder drapeernette was beter met hoër lugvolumes en laeprofiel-spuitmasjiene, spesifiek aan die bokant van die boom. Van Zyl spekuleer dat dit dalk kan wees omdat die lug die net teen ‘n hoek tref, eerder as loodreg. ‘n Loodregte lugstroom mag meer geneig wees om deur die net gedeflekteer te word.
Rooispinnekopbevolkings kan vinnig groei onder nette in hoërisikoboorde onder strestoestande.
“Die vraag is ook, wat is die afstand van die spuitkop tot die eerste blare? Hoe lank trek daai druppel voordat dit impakteer en wat is die lugspoed?” sê Van Zyl. Waar die afstand kleiner is, kan lug begin opbou teen die nette, en gevolglik teruggestoot word.
Alhoewel moderne hoëdigtheidsaanplantings meer spuitvriendelik is, blyk hulle meer vatbaar te wees vir verswakte deposisie onder drapeernette. Dit beteken egter nie dat deposisie in hoëdigtheidsaanplantings onder nette in absolute terme swakker is as deposisie in konvensionele boorde onder nette nie. Laer penetrasie-afstande en minder lower skep steeds ‘n voordeel in moderne boorde.
Groter watervolumes mag na ‘n logiese oplossing klink vir bespuiting in boorde met drapeernette. Van Zyl-hulle het hierdie teorie beproef deur bespuitings van 600 en 2 000 liter per hektaar in bome onder drapeernette te vergelyk met bespuitings van 600 liter per hektaar in oop bome. In alle gevalle het hulle laeprofiel-spuitmasjiene gebruik.
Deposisie was aansienlik swakker in die 2 000 liter per hektaar behandeling as in die 600 liter per hektaar behandeling. Van Zyl vermoed dat die hoër watervolumes ‘n film water op die net vorm wat deurlaatbaarheid verminder.
“Die druppels wat jy moet neersit, moet jy deur die net kry, en die masjien moet aanskuif voordat ‘n film vorm,” verduidelik Van Zyl. “So ‘n groot faktor is vorentoe-spoed – maar vorentoe-spoed is nou weer afhanklik van jou boordoppervlak, die hoogte en diepte van die boom, en die tipe spuitstelsel wat jy het.”
Wat staan produsente te doen?
“Drapenette gaan nie weggaan nie – ek wil nie hê dit moet weggaan nie,” sê Van Zyl. “Ons gaan ‘n manier moet vind om nog steeds effektiewe deposisie te kry vir siektebestuur, en vir ons kalsiumspuite.”
Mens mag dalk dink dat die oplossing vir bespuiting deur drapeernette is om eenvoudig meer lug en meer water te stoot, maar dis nie die geval nie, waarsku Van Zyl. “Jy kan dalk die probleem vererger.”
Tans is daar nie genoegsame data om aanbevelings te maak oor die beste praktyke vir bespuiting deur drapeernette nie. Van Zyl en sy kollegas beplan verdere proewe hierdie seisoen wat dalk al teen Desember sal begin antwoorde bied. Dit sou uit die aard van die saak wonderlik wees as drapeernette nie deposisie genoegsaam be’nvloed om siektebeheer in gevaar te stel nie.
Intussen, wanneer dit kom by siekte- en plaagbeheer, is goeie bestuur die beste manier om konflikte tussen drapeernette en bespuiting te voorkom. “Op die plekke waar ons die plae bestuur en die drapenette op is, is dit regtig nie ‘n kwessie nie, want ons hou taamlik vroeg op met spuit,” sê Van Zyl.
As navorsing egter wys dat drapeernette wel ‘n noemenswaardige effek het, is een opsie om ‘n risiko-skaal vir boorde te ontwikkel. “Nie alle boorde het probleme nie. Indien ‘n boord ‘n probleem het, sal ek versigtig wees om dit toe te maak,” sê Van Zyl. “Mens moet die kostes van skade opweeg – byvoorbeeld gaan die koste van sonbrand die koste van kodlingmotskade oorskry?”
Featured Image: Laeprofiel-spuitmasjiene het beter deposisie onder drapeernette gegee in sommige proewe
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…