Navorsing mik vir optimalisering van bestaande en ontdekking van nuwe maniere om vrugkwaliteit te behou. Deur Anna Mouton.
Die lewering van vars vrugte aan vêraf markte vereis die chemiese beheer van organismes wat bederf veroorsaak. "Die belangrikheid van boordpraktyke kan nooit agtergelaat word nie," sê Dr Pieter Louw, portefeuljebestuurder van oesbeskerming by ExperiCo. "Kwaliteit en beheer begin daar, en jy moet daardie dinge reg doen. Maar jy moet ook jou chemiese toedienings reg doen."
Meeste naoesbederf van steen- en kernvrugte word deur swamme veroorsaak. Voor-oesbespuiting help om infeksies in die boord te verminder, maar Louw verduidelik dat produsente bewus moet wees van die risiko van swamdoderweerstand. "Wanneer daar 'n goeie produk vir naoesgebruik in die pakhuis is, is die bekommernis dat gebruik in die boord die opbou van swamdoderweerstand kan versnel."
Die individuele lede van enige swambevolking sal as gevolg van natuurlike variasie elk meer of minder sensitief vir verskillende hemikalieë wees. Wanneer die bevolking aan 'n sekere chemikalie blootgestel word, sal die meer sensitiewes doodgaan.
Mettertyd sal slegs die minder sensitiewe individue oorleef en die hele bevolking sal dus meer weerstandbiedend raak. Die ontwikkeling van weerstand is 'n uitdaging in enige situasie waar mense chemikalieë gebruik om ander organismes te beheer.
Volgens Louw sal swamdoderweerstand makliker in 'n boord as in 'n pakhuis ontwikkel, omdat die boord 'n oop omgewing is en 'n geweldige diverse swambevolking bevat, waarvan enige lede moontlik gene vir weerstand kan hê. Hy lei tans 'n Hortgro-befondsde navorsingsprojek om fludioxonil- en pirimetanielweerstandbiedende bevolkings van Monilinia laxa en Botrytis cinerea in steenvrugboorde te identifiseer.
"Tot dusver is ons bly dat ons nie probleme met fludioxonil, wat die kern van hierdie projek is, sien nie," sê Louw. Navorsing is egter steeds aan die gang, en sommige isolate moet nog getoets word.
Read MoreOppervlakkige teenoor sistemiese effek
Chemikalieë wat vir bederfbeheer in pakhui-se gebruik word kan in die breë as óf ont-smettingsmiddels óf swamdoders geklassifiseer word. Ontsmettingsmiddels is oor die algemeen teen 'n wye spektrum organismes effektief en word gebruik om mikrobes in water of op oppervlaktes te verminder.
"Die belangrike ding om te verstaan is dat ontsmettingsmiddels kontakmiddels is," beklemtoon Louw. "Dit gaan nie help om 'n geïnfekteerde vrug in 'n ontsmettingsmiddel te doop nie."
Chloor is waarskynlik die mees algemene ontsmettingsmiddel wat pakhuise gebruik. Alhoewel dit goedkoop en effektief is, is daar vrae rondom die veiligheid van chloor.
Louw het onlangs 'n Hortgro-befondsde projek afgehandel wat alternatiewe ontsmettingsmiddels vir gebruik in kernvrugpakhuise ondersoek het. Hy het gevind dat 'n kommersiële produk wat 'n kombinasie van perasynsuur en waterstofperoksied bevat net so effektief teen Botrytis cinerea- en Penicillium expansum-spore as chloor was.
Hy het ook goeie resultate teen Botrytis cinerea- en Monilinia laxa-spore met osoongas op pruime gekry. Dit was egter nie so effektief soos fludioxonil nie en verdere navorsing is nodig.
"Alhoewel sommige swamdoders, soortgelyk aan ontsmettingsmiddels, slegs kontakdoders is, is baie swamdoders in 'n sekere mate lokaal sistemies," sê Louw. Afhangende van die swamdoder, kan dit in of deur die vrugskil beweeg en wonde penetreer. Swamdoders laat ook na behandeling residu’s agter wat vrugte langer teen infeksies beskerm.
As infeksie eers plaasgevind het, gaan behandeling ongelukkig nie veel help nie. "As die swam alreeds begin ontwikkel het – en dit kan baie vinnig gebeur – gaan jy nie 100% beheer kry nie," sê naoesnavorser Arrie de Kock. "Dit is hoekom jy vrugte so gou as moontlik na oes moet behandel. Want die vrugte kan gedurende oes klein wondjies opdoen wat swamme toelaat om binne te dring en te begin ontwikkel."
De Kock en medenavorser Ida Wilson het laboratoriumproewe op die effektiwiteit van fludioxonil in steenvrugte gedoen. Hy waarsku dat hoër residu’s nie noodwendig beter bederfbeheer gee nie.
"Ons weet dat ons goeie beheer met 'n relatiewe lae residu van fludioxonil kan kry," sê De Kock. "As jou residu reeds een tot twee dele per miljoen is, moenie nog produk aanwend nie. Dis onnodig en jy mors net swamdoder."
Eenvormigheid is essensieel
Steenvrugte is baie vatbaar vir naoesbederf wat deur wondinfeksies veroorsaak word. Om bederf te voorkom, word swamdoders op die paklyn met behulp van verstuiwers op meeste steenvrugte aangewend. Verstuiwers dien die swamdoders toe sonder om die vrugte uitermatig te benat.
De Kock en Wilson het opnames van die naoespraktyke by steenvrugpakhuise in verskillende areas gedoen. Hulle het deposisie geëvalueer deur watersensitiewe kaartjies op die paklyne te plaas, en hulle het ook blootstellingstye en swamdoderresidu’s gemeet.
"Ons hoofbevinding was dat fludioxonil baie goeie bederfbeheer verskaf, solank mense die verstuiwers korrek gebruik," sê De Kock. "Die probleem wat ons uitgelig het, is dat bedekking in sommige gevalle nie op standaard was nie."
Die belangrikste redes vir swak deposisie was te veel of verkeerd gespasieerde spuitkoppe, wisselende lewering deur verskillende spuitkoppe op die spuitarm, en swak kalibrasie. In sommige gevalle het van die spuitmiddel verlore gegaan omdat die spuitkoppe nie heeltemal deur die kabinet bedek was nie.
Behalwe om te verseker dat swamdoders vrugte eenvormig bedek, moet pakhuise ook kennis neem van hulle residuvlakke. Volgens De Kock moet fludioxonil-residu’s nie minder as een deel per miljoen wees nie. Sy navorsing het gewys dat hierdie vlakke met blootstellingstye van so kort as 10 sekondes behaal kan word.
Daarby wil De Kock die belangrikheid van konstante temperature in bederfbeheer onderstreep. "Jy wil hê dat die relatiewe humiditeit rondom die vrug so hoog as moontlik moet bly, maar jy wil nie kondensasie op die vrugte hê nie, so daar moet so min as moontlik breuke in die koueketting wees," sê hy. "As jou vrugte eers koud is, moet hulle koud bly."
Leer meer oor die werk wat De Kock en Wilson op effektiewe swamdoderaanwending in steenvrugte gedoen het in die Junie 2019 uitgawe van Fresh Quarterly, die tegniese tydskrif van Hortgro Science.