Beginsels van vrugtevlieg- en valskodling- motbeheer
Volg hierdie vier stappe om tafeldruiwe te beskerm. Deur Anna Mouton
Die larwes van vrugtevlieë en valskodlingmotte ontwikkel binne-in vrugte. Hulle beskadig druiwekorrels direk deur dit te vreet en indirek deur bederf te bevorder. Daarby is valskodlingmot en vrugtevliegspesies verklaarde fitosanitêre peste vir sekere lande en uitvoermarkte. Hulle teenwoordigheid beperk toegang tot buitelandse markte en belemmer uitvoere.
Die effektiewe beheer van hierdie peste is onontbeerlik vir die produksie van Suid-Afrikaanse uitvoervrugte. Geëntegreerde programme gegrond op die advies van 'n plaagbeheerkonsultant met toepaslike ondervinding is die beste plaagbeheeropsie.
1. Begin met monitering
Monitering is noodsaaklik om te bepaal of beheer nodig en beheermaatreëls effektief is. Sekere uitvoermarkte vereis ook dat monitering deel vorm van die risikobestuur-stelsel vir spesifieke fitosanitêre peste. Bowendien is monitering vir Oosterse vrugtevlieg wetlik verplig.
Lokvalle is die belangrikste moniterings-metode vir beide vrugtevlieë en vals-kodlingmotte. Verskillende tipes lokvalle kan vir monitering gebruik word maar almal bestaan uit 'n lokmiddel of aas en 'n meganisme om die insekte te vang.
FruitFly Africa is verantwoordelik vir monitering van vrugtevlieë in areas waar hulle beheer toepas en bied ook moniteringdienste vir valskodlingmotte. In ander areas is lokvalle beskikbaar vanaf diensverskaffers en agente wat chemiese beheermiddels versprei.
Benewens lokvalle kan produsente ook vrugteskadebepalings tydens roetine-verkenning in die wingerd sowel as na oes in die pakhuis doen.
Dit is belangrik om reeds vroeg in die seisoen met monitering in wingerde te begin sodat addisionele maatreëls – indien nodig – betyds toegepas kan word.
2. Verwyder besmettingsbronne
Wingerdsanitasie sal valskodlingmot- en vrugtevlieggetalle in die komende seisoen aansienlik verlaag. Verwyder gereeld besmette en beskadigde korrels, insluitende dié wat op die grond beland.
Onthou dat vrugte wat na oes agterbly 'n nuwe generasie insekte bevat, byvoorbeeld kan 'n vrugtevliegwyfie tot 20 eiers per steekplek lê. Versamel dus alle oorblywende vrugte en vernietig dit of begrawe ten minste 'n meter diep.
Vrugte kan ook in 'n augmentorium – 'n tentagtige struktuur gemaak uit 'n net met 1.96 mm2 gaatjies – geplaas word. Dit sal vrugtevlieë en valskodlingmotte binne hou terwyl natuurlike predatore soos parasitiese wespe ontsnap.
vrugtevlieë en valskodlingmotte benut 'n wye reeks gasheerplante en kan dwarsdeur die jaar in ondermeer tuine voorkom. Navorsing toon byvoorbeeld dat vrugtevlieë nie tydens die winter in wingerde vertoef nie – hulle plant dan voort op ander vrugte en bessies in die omgewing. Waar moontlik behoort sulke alternatiewe gasheerplante verwyder te word.
3. Keer dat peste aanteel
Metodes wat verhoed dat insekpeste suksesvol paar word met sukses vir beide valskodlingmotte en vrugtevlieë gebruik. Hierdie tegnieke is verbruikers- en omgewingsvriendelik.
Valskodlingmotte word algemeen met paringsontwrigting beheer. Dit behels die vrystelling van sintetiese feromone in die wingerd. Manlike motte word oorbluf deur al die hormone en vind dit moeilik om wyfies te vind. Sodoende neem paring af en dus lê wyfies kleiner getalle vrugbare eiers.
Steriele-insektegniek kan vir beide valskodlingmotte en Medvlieë gebruik word. Steriele mannetjies word vrygestel en kompeteer met vrugbare wilde mannetjies vir beskikbare wyfies. Vrylating van steriele insekte word gewoonlik area-wyd gedoen en nie deur individuele produsente nie.
In sekere areas word die steriele-insektegniek vir bekamping van vals-kodlingmotte deur XSIT en van Medvlieë deur FruitFly Africa toegepas. Die steriele-insektegniek is nie tans in SA vir ander vrugtevliegspesies beskikbaar nie.
4. Gebruik chemiese en biologiese middels
Geregistreerde chemiese middels is vir die beheer van valskodlingmotte en vrugtevlieë in tafeldruiwe beskikbaar. Sulke middels behoort slegs gebruik te word indien die teenwoordigheid van die insek bevestig is. Hou altyd markvereistes in gedagte met die gebruik van enige chemiese middels.
Lokaasbespuiting – alombekend as spat – is die mees algemene beheermaatreël vir vrugtevlieë. Die spuitmiddel bevat 'n lokmiddel en 'n plaagdoder. Die lokmiddel is 'n sintetiese voedselbron wat gewoonlik 'n proteïenbasis het. Die spuitmiddel word in druppels van gemiddeld 4 mm deursnee op plante toegedien. vrugtevlieë voed daarop en word dus vergiftig deur die plaagdoder.
Spinosad is die standaard plaagdoder in spatprogramme. Dit is hoogs effektief teen alle vrugtevlieë maar impakteer nie ander insekte wanneer dit met 'n vrugtevliegspesifieke lokmiddel kombineer word nie. Formulerings van spinosad en 'n vrugtevlieglokmiddel is in die handel beskikbaar. Dit is geregistreer vir gebruik in organiese verbouing en het 'n nuldag onthoudingsperiode.
Soos alle vrugtevliegbeheer is spat-programme meer suksesvol wanneer dit area-wyd toegepas word. Dit is belangrik om so vroeg as moontlik in die seisoen wingerde te begin spat en nie met oestyd op te hou nie. Hou in gedagte dat vrugtevlieë gedurende die winter in immergroen plante skuil – moet dus nie nalaat om buite seisoen ten minste maandeliks ook sulke areas te spat nie. FruitFly Africa dien lokaasbespuiting vanuit die lug toe in areas waar hulle vrugtevlieë beheer.
Lokaasstasies werk op dieselfde beginsel as lokaasbespuiting, behalwe dat die middel in 'n toestel – die stasie – bevat word in stede daarvan dat dit op plante gespuit word. Lokaasstasies is ideaal vir kleiner areas soos tuine en kan ook gebruik word om spat aan te vul. Die mees algemene lokaasstasie is die M3 wat 'n spons met 'n lokmiddel en plaagdoder insluit. Emmertipe lokaasstasies met metiel-eugenol as lokmiddel word gebruik om manlike Oosterse vrugtevlieë uit te wis.
Biologiese beheer van valskodlingmot is in die handel verkrygbaar. Die een tipe is 'n swam – Beauveria bassiana – wat valskodlingmot en ander geleedpotige organismes aanval. Die ander is 'n virus – valskodlingmotgranulovirus. Beide hierdie biologiese beheermiddels is geregistreer vir gebruik op tafeldruiwe.
Vir meer inligting oor vrugtevlieë en valskodlingmotte, raadpleeg SATI se tegniese pamflette by www.satgi.co.za.
Tegniese raadgewer. prof. Pia Addison
Departement Bewaringsekologie en Entomologie Universiteit Stellenbosch
Featured Image: Valskodlingmot (Thaumatotibia leucotreta) is inheems aan Suid-Afrika Credit: PIA ADDISON | UNIVERSITEIT STELLENBOSCH
Related Posts
Restricted spring growth syndrome
Research reveals the impact of stressors on vascular tissues in young grapevines. By Anna Mouton…
Grapevine trunk diseases
What management strategies are available to table-grape growers and nurseries? By Anna Mouton “Grapevine trunk…